“My gesondheid het merkwaardig verbeter!” – MIA MEYER

Mia Meyer (56), wat in die finansiële sektor werk, het besef dat die belangrikste rekening wat sy ooit sal betaal, dié aan haarself is. Ná jare van selfverwaarlosing het sy besluit om weer voluit te lééf – gesond, mooi en gelukkig. “Ek wil myself nie meer oordeel en in ‘n hoekie wegkruip nie – ek wil saam met my familie en vriende aktief wees en pret hê,” vertel sy met ʼn glimlag wat nou net so helder skyn soos haar nuwe selfvertroue.

Haar deelname aan die Nuwe Jy-program het haar fisiese gesondheid dramaties verbeter. Haar ...

Mia Meyer (56), wat in die finansiële sektor werk, het besef dat die belangrikste rekening wat sy ooit sal betaal, dié aan haarself is. Ná jare van selfverwaarlosing het sy besluit om weer voluit te lééf – gesond, mooi en gelukkig. “Ek wil myself nie meer oordeel en in ‘n hoekie wegkruip nie – ek wil saam met my familie en vriende aktief wees en pret hê,” vertel sy met ʼn glimlag wat nou net so helder skyn soos haar nuwe selfvertroue.

Haar deelname aan die Nuwe Jy-program het haar fisiese gesondheid dramaties verbeter. Haar energievlakke is deurgaans hoog en sy het ontdek dat oefening haar nie net sterker maak nie, maar ook vreugde bring. Sy het ʼn ritme gevind met daaglikse staproetes, oefenfiets-sessies en selfs kort, gefokusde oefenreekse vir arms en maagspiere. Elke kilogram wat sy afgeskud het – meer as 21 kg tot dusver – was vir haar ʼn bevestiging dat toewyding vrugte dra. “Ek voel onkeerbaar,” sê sy. Selfs wanneer sy siek geword het of koue winterdae haar uitgedaag het, het sy maniere gevind om aan te pas – deur vooraf beplanning, kreatiewe resepte en die bewuste besluit om nee te sê vir versoekings. Sy het haar eie gesonde braaigewoontes ontwikkel en leer om kos op maniere te berei wat haar liggaam voed sonder om smaak in te boet.

Kom kyk wie wen die NUWE JY 2025!

Daar is 6 finaliste oor… Die wenner van die nuwe jy word aangekondig by ons Nuwe Jy-fees. Kry jou kaartjie nou!

Mia se reis gaan nie net oor sentimeters en kilogramme nie – dis oor selfbeeld en emosionele vryheid. Sy erken dat daar dae was wat moeiliker was as ander, maar haar selfdissipline en pep talks het haar gefokus gehou. Sy het geleer om negatiewe kommentaar te filter en die positiewe te omhels. “Mens moet kophou en doelgerig bly, en soms is ek self my grootste motiveerder,” sê sy vasberade. Die komplimente van familie, vriende en kollegas het haar net meer gemotiveer. Haar klere sit losser, haar glimlag is breër en sy straal ʼn nuwe energie uit wat ander inspireer. “My selfvertroue en selfrespek is terug – dis niks minder as amazing nie.”

Vir Mia was die Nuwe Jy-program ook ʼn geestelike reis. Van die begin af het sy ervaar hoe God deur mense, liedere en selfs Bybelverse met haar praat. ʼn Sleutelmoment was toe sy besef het dat God haar nie net vra om haar liggaam gesond te maak nie, maar ook om haar “huis” – fisies en geestelik – op te ruim. “God het net weer bevestig ek is sterk, en deur Hom kan ek alles doen,” vertel sy. Sy het geleer om storms met dieselfde passie as sonskyndae te hanteer en elke uitdaging as ʼn kans vir groei te sien. ʼn Vers wat haar diep geraak het, is Josua 1:9: “Wees sterk, wees vasberade… Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

Mia se reis is ʼn getuienis van wat moontlik is wanneer jy jouself ʼn prioriteit maak – sonder skuldgevoel. Sy wil hê ander vroue moet weet dat dit nooit te laat is om oor te begin nie. “Niks wat goed is of gesond is, is maklik nie, maar dit is altyd die moeite werd. Jy kan, jy wil, en jy sal – as jy dit met hart en siel doen,” sê sy. Met ʼn ligter liggaam, sterker gees en vreugdevolle hart is Mia nie net besig om haar lewe te verander nie – sy is besig om dit voluit te lééf. En haar woorde weerklink soos ʼn uitdaging aan almal wat haar storie lees: “Moenie klein droom nie, droom groot drome – en begin vandag.”

Deel die artikel

Méér artikels

Hoewel sommige fisieke letsels onvermydelik is, beteken dit nie dat jy nie met die onooglike merke opgeskeep hoef te sit nie. Die meeste van ons ...

10 min. + gaarmaak 10 min. 5-6 sosaties Vir die sosaties   ongeveer 600 g skaapvleis in middelmatige blokkies gesny   ongeveer 12 sprietuie   6 vye (1 ...

Scroll to Top