Alle spiere moet oefening kry. Dieselfde geld ouerskap. ANNEMIE SCHOEMAN, die stigter van Angel Wings, sê ouers moet voortdurend aan gesinsverhoudings werk. Dit bly ’n leerproses vir ouers sowel as hulle kinders.
Ek kon nie wag om ’n mamma te word nie. My droom was altyd dié van ’n perfekte gesinnetjie. Soet, gehoorsame kinders, ’n rustige mamma en pappa wat buite saam met die kinders speel.
Die waarheid is dat daar nie iets soos “perfek” bestaan nie. Selfs oulike mammas (soos ek) kan foute maak!
Voordat jy kinders het, is dit so maklik om ander ma’s se opvoedingstyle te bevraagteken. Vir jouself te sê: “Dít sal ek nooit doen nie.”
Perfekte ouerskap bestaan in geen gesin nie
My vriendin se kleuter het met kombuisapparate op die vloer gesit en speel. Ek het gewonder of hy nie gaan seerkry of dit breek nie?
Maar dit het haar nie gepla nie. Ek sal dit nooit toelaat nie, was my gedagtes.
My dag met ’n tweeling het uiteindelik aangebreek. Min slaap en siek kinders. Om die hele tyd agter besige, innoverende kinders aan te hardloop, is nie ’n grap nie.
Wanneer iets hulle vir meer as tien minute besig hou, los jy hulle uit. Al is dit in die motorhuis of Pappa se gholfsak.
As dit “stil” is, kan ek vinnig koffie drink en asemskep, en later damage control doen.
Só probeer alle mammas net hulle bes en ons weet nie altyd of ons optrede reg is nie. Ongeag die harde werk maak almal foute.
Ek was nog altyd iemand met min geduld en hou nie daarvan om te sukkel nie. My grootste fout is dat ek te gou kwaad word en dan hard praat.
Wanneer ek kwaad word, luister ek nie na rede nie. Gaan kamer toe en bly daar. Straf sommer dadelik.
Luister na jou kind en probeer optree met geduld
Ouers vergeet gou dat kinders net kinders is. Hulle breintjies ontwikkel nog en is nie op ons vlak nie.
Kinders moet met geduld en baie liefde opgevoed word. Jy leer so baie by jou kind as jy rustig is en aandagtig luister na wat hy of sy sê … om die wêreld deur hulle oë te sien.
Hulle verstaan jou dissipline beter wanneer dit in eenvoudige woorde verduidelik word. Wanneer ek rooi word van woede, is die antwoord net néé!
Kinders stap weg met ’n geraas en deure wat toeklap. Ek is kwaad en hulle is kwaad. Die hele huis loop op eiers.
Raak in sulke tye rustig en haal diep asem, moenie skreeu nie, het ek geleer. Wag ’n bietjie voordat jy reageer. Konsentreer op jou stemtoon en kommunikeer eers. Verduidelik waarom jy nie met hulle saamstem nie.
Ons grootste en eerste hulpmiddel is godsdiens. My seuns leer elke dag van God en al Sy wonderwerke.
Hulle moet verstaan dat hulle in enige situasie moet bid. En moet weet hulle is nooit alleen nie.
Vergeet van die perfekte resep vir kinders grootmaak
Kinders grootmaak is altyd trial and error. Elkeen probeer totdat hulle “resep” werk. Geen kind is dieselfde nie.
Dit is ’n groot les wat ek gou geleer het; veral met my tweelingseuns wat soos dag en nag verskil. Hulle lyk nie dieselfde nie en hulle persoonlikhede verskil ook hemelsbreed. Moet nooit jou kinders met mekaar of ander vergelyk nie.
Die tweetjies het eers op ses jaar begin deurslaap. Ja, ses jáár en nie ses máánde nie. Dit was vreeslik. Ons het alles probeer.
Slaapterapie en selfs medikasie, maar niks wou werk nie. Later het ek net vrede daarmee gemaak dat ek nie baie slaap gaan inkry nie.
Ek was kalmer en rustig, want ek het vir myself gesê ek gaan opstaan in die nag en min slaap. Daarna was ek minder geïrriteerd met die situasie.
Kinders bly kinders. Geniet en koester elke oomblik saam met hulle, want hulle word so vinnig groot. Lê maar in die aand in hulle bedjie totdat hulle slaap. Kyk weg as Boeta uit die boom wil spring.
Wees ’n bietjie verspot saam met hulle. Laat hulle toe om net klein te wees.