Moenie altyd jou hele gesin se probleme vir hulle oplos nie. Jou kinders gaan nooit op hulle eie bene kan staan nie, sê LEONIE MYNHARDT.
Om daar te wees vir jou gesin is seker een van die mees vervullende beroepe vir enige ma. Maar hoe ver strek ’n ma se omgee, help en doen voor dit ’n ongesonde situasie vir al die betrokke partye is?
Is dit nie gerieflik vir almal in die huis nie: Ma is altyd daar om alles te doen en gee? Hoe lank voor Ma ook nie meer innerlike krag het om aan te gaan nie? Wat leer dit die kinders as daar altyd iemand is wat alles vir hulle doen?
Mammas voel geliefd en nodig en waardevol as hulle onmisbaar in hulle gesinne se lewe is. Hulle wil weet hulle is die beste en daar is niemand anders wat in hulle kinders se behoeftes kan voorsien nie. Hulle wil altyd nommer een in hulle gesinne se lewe wees.
Dit is waarin baie mammas se eiewaarde gesetel is. Maar dit lei dikwels tot ’n situasie waar kinders weet hulle hoef iets nie te doen nie, want Mamma sal dit doen. Nou beland Mamma in die plek waar sy misbruik begin voel en dit lei weer tot ongelukkige gesinsverhoudings.
Die kinders (en soms Pappa) leer ook nie om dinge vir hulle self te doen nie. Hulle weet nie hoe om hulle eie probleme op te los nie.
Niemand ken haar kind beter as ’n ma nie. Sy weet waartoe elkeen van haar kinders in staat is en ook wat elke kind se behoeftes is. Daarom is sy ook die beste persoon om elkeen toe te laat en ook aan te moedig om sekere verantwoordelikhede self na te kom.