[OUDIO] Werk saam, en nie teen, jouself

Dit is nie noodwendig verkeerd om hard te wees op jouself nie. Dit moet egter binne perke geskied sodat jy nie teen jouself werk nie.

Die meeste van ons kan daarvan getuig dat ons onlangs nog ’n plettervat toegedien is. Jy was moontlik rustig op pad na die wenstreep, toe iets vanuit nêrens jou heeltemal van koers af gooi.

Nadat ’n mens so vuisvoos geduik is, is dit moeilik om weer aan die gang te kom. Maar dit is juis dán wanneer jy moet opstaan en vorentoe beweeg. Om jouself die beste kans op sukses te gee ná so ’n terugslag, gaan jy sáám met, en nie téén, jouself moet werk.

Ek hou daarvan om vrae te vra. Dit strek van mense se grootworddrome tot dit wat jy nooit van iemand sou kon raai nie. Uit al die vrae wat ek vir mense oor die jare gevra het, is daar een wat meestal trane in mense se oë laat opdam. Hoe hard is jy op jouself?

Ek het telkemale al gesien hoe mense onredelik hard op hulleself is.

Hulle dink dit is hulle verdiende loon, amper soos ’n straf. Hulle is dan vol hoop dat dit tot positiewe veranderinge kan lei.

Uiteraard is daar ’n verskil tussen hard wees op jouself, en onredelik hard wees op jouself. Hard wees op jouself kan die vorm van ’n streng dieet of oefenprogram aanneem. Dit getuig van dissiplines wat jy ontwikkel om jou te help om vorentoe te beweeg in die lewe.

Dit is maar klippe kou, want dit is nie altyd lekker nie. Maar as jy aanhou, kan dit jou in die toekoms neem na waar jy graag wil wees.

Deel die oudio
Scroll to Top