Thread lifts is die nuutste neiging in kosmetiese gesigbehandeling om van fyn lyntjies en plooie ontslae te raak.
Threads maak dit deesdae nog makliker om sonder indringende snykundige prosedures ’n gladder, jonger voorkoms vir langer te behou.
Fyn chirurgiese draadjies word deur middel van ’n dikkerige naald onder die vel geplaas. Lokale verdowing verseker dat dit nie te seer is nie. Jy kan dit enige plek op die gesig – selfs in die nek – gebruik.
As natuurlike reaksie identifiseer die liggaam die garedraadjies as indringers. Kollageen word geproduseer om die “infeksie” te beveg wat die vel se volume verhoog. Afhangende van die soort, disintegreer die draadjies ná sowat drie maande. Die nuut opgeboude kollageenstruktuur bly en help om die vel se tekstuur te versterk.
Verskillende soorte threads word gebruik. Die fyn reguit draadjies help om die struktuur, veral in die wange, op te bou om van daardie hardnekkige plooitjies ontslae te raak Die spiraaltipe, wat soos ’n opgerolde varkstertjie lyk, word gebruik om ’n plomper effek te skep.
Dan kry jy ook ’n silhoeët-thread. Hierdie draadjies is meesal ’n bietjie langer en het klein “vishoekies” aan die kante wat gebruik word om die vel op te trek en ’n facelift-effek gee.
Die behandeling is minder drasties en makliker as om die los vel af te sny. Die beste van alles is dat jy dit binne ’n uur of twee sommer in die konsultasiestoel kan laat doen.
Dis darem verstommend hoe tegnologie en ons natuurlike prosesse saam ingespan kan word om vir ’n mens ’n jonger voorkoms te gee.