Baie mans skram weg daarvan om hulleself geestelik en emosioneel voor hulle vrou te ontbloot. Hulle sukkel byvoorbeeld om voor hulle vrou te bid.
’n Huwelik lyk ánders wanneer ’n man geestelike leiding neem
Van kleins af leer ons rympies bid: Dankie vir ’n bed, dankie vir ’n mamma en pappa, dankie vir kos, en vergewe asseblief ons sondes. Gebed word later bloot ’n klomp tradisionele sê-goed.
Dan word ons groot, en moet ons ons hart oopmaak. Ons kan nie meer net sê: Dankie vir my bed en dankie vir kos nie.
Daar gebeur iets in ’n vrou se hart as haar man naby aan die Here leef. ’n Huwelik lyk ánders wanneer hy die geestelike leiding neem, sy eggenoot opdra in gebed en ’n voorbeeld van geestelike krag en wysheid is vir die kinders.
Elkeen wat dit al beleef het, weet hoe kosbaar dit is om ’n huweliksmaat te hê wat saam met jou bid oor julle huwelik, julle kinders, die daaglikse dinge en die toekoms.
Tog is dit hartseer hoe min egpare werklik saam bid vir hierdie intieme dinge, en hoe baie vroue gefrustreerd is hieroor. Hulle is geestelik leeg en moedeloos omdat hulle nie weet hoe om dit met hulle mans te hanteer nie.
Die logiese oplossing is mos dat hy net moet besluit, instem en begin! Dis mos nie moeilik nie, of hoe?
Ons kan so maklik die fout maak om die geestelike septer in die huis te wil swaai, met die uiteinde dat ons ons mans later wil voorsê oor wat in die Woord staan.
Mans beleef vroue ook dikwels as geestelik alwetend, en voel op ’n manier minderwaardig. Hulle gevoel van onvermoë laat hulle wegskram en die leisels dan in ons hande los.
Wees eg, en jou man sal jou voorbeeld volg
Die meeste van ons vaar mos beter met grense en leef daarom makliker binne die reëls. Al ons reëls en dogma veroorsaak dan juis ’n stukkie rebellie.
Jy gaan nie na ’n boemelaar toe en sê vir hom: “Jesus is die brood van die lewe nie.” Jy gee eerder vir hom brood om te eet, en dán vertel jy hom Jesus is die brood van die lewe. Gee vir hom brood!
Jou maat wil weet dat hy in ander areas genoeg is vir jou en dat jy hom nodig het. As jy nie in die alledaagse dinge na hom opsien nie, sal hy sukkel om te glo dat jy hom as ’n geestelike leier kan sien. Hy wil nie heeltyd veroordeel voel nie.
Eers as julle verhouding in plek is, en julle kan eerlik, sonder veroordeling en hoogheiligheid, oor ’n koppie koffie gesels oor jou behoefte dat julle saam moet bid, sal hy dalk beter hoor.
Maak dit selfs nog makliker. Hy moet weet dat hy nie eerste hoef te bid nie, en dat jy spesifieke goed het waaroor jy graag vra dat hy sal bid. Maak ’n lysie.
Moenie die fout maak om te wil byvoeg asof sy gebed hálf was nie. Mans doen beter inkopies met lysies – hulle bid ook beter met ’n plan en ’n raamwerk.
As jy eg is en hy besef daar is nie ’n geestelike sousie en ’n klomp reëls nie, maak jy dit vir hom maklik.
Wees daarom gemaklik en natuurlik. Wees real. En jou maat sal volg.