Jou gesin – dié mense wat jou aanmoedig, troos en raad gee. Jy moet egter ook na jouself omsien om ’n gelukkige jy vir jou gesinslede te wees.
Een van die beste dinge wat jy vir enige verhouding kan doen, is om jouself lief te hê. Hoe jy oor jouself voel, sal in al jou verhoudings geprojekteer word.
Dit word die bril waardeur jy na ander kyk. As jy nie goed oor jouself voel nie, sien jy dit wat hulle [jou gesinslede] doen altyd in ’n negatiewe lig. Dis hoekom jy ná ’n moeilike dag by die werk ervaar dat die kinders meer veeleisend as gewoonlik is.
Stop gereeld en maak jou beker vol, want dit raak gou leeg. Dan word daardie “leegheid” aan ander oorgedra. Daardie negatiewe emosies en onafgehandelde bagasie word dan op jou verhoudings geprojekteer.
Om heel te wees beteken om jouself te leer ken en te aanvaar.
Om nie in die strik te trap om jouself met ander te vergelyk nie. Jy ken jouself en het vrede gemaak met wat nie kan verander nie en werk aan dit wat jý kies om te verander.
As jy nie goed oor jouself voel nie, word die gesin jou “pleisters”. Hulle moet die “regte” dinge doen sodat jý goed kan voel. Soos die erkenning wat jy kry wanneer jy jou kinders druk om te presteer.
Ouers wat hulleself aanvaar, gee die res van die gesin ook die ruimte om hulleself te wees, sonder om elkeen se gedrag persoonlik op te neem. Dit maak julle huis ’n veilige hawe, waar almal hulleself binne liefdevolle aanvaarding kan uitleef.
Ons huise behoort ’n oefenveld te wees wat kinders voorberei vir dit wat die lewe van hulle gaan verg.
Maak julle huis ‘n veilige plek vir jou gesinslede
’n Huis behoort ‘n plek te wees waar almal mag foute maak, vrae vra en koppe stamp sonder om geoordeel te word. Dit alles gebeur in ’n veilige omgewing waar ouers kinders help om op bewerige bene regop te staan.
As my gesinslede twyfel oor hoe hulle moet optree, gaan hulle mos nooit vir die res van die wêreld kan wys wie hulle is nie.
As hulle twyfel oor waar hulle die streep mag trek, gaan hulle nooit weet hoeveel keer ander mense reeds daaroor getrap het nie. Hierdie twyfel steel die vryheid om te kies wie hulle is en wat hulle verdien.
Gestel die huis waarin jy grootgeword het, was ’n oorlogsveld.
Gaan jy nou dié patroon verder op jou kinders oordra? Wáár gaan hulle dan leer om die lewe te bemeester sonder om afgebreek, geïgnoreer, gekritiseer en emosioneel verwaarloos te word?
Wat jy sien, word jy. Wat jy hoor, herhaal jy. Wat jy voel, dra jy aan ander oor.
Ons huise is veronderstel om ’n saam-bid-kring, saam-eetkring, saam-gesond-word-kring te wees. Sodat ons as heel, gelukkige mense ons eie gesinne eendag kan voortsit.
Ons oefen op ons poppe, op ons ouers se karre, met Ma se hoëhakskoene, en op ons huismense. As ons nie hier vir die lewe kan oefen nie, waar gaan ons dit dan doen?
Wanneer kinders die huis verlaat, aanvaar die wêreld dat hulle reeds geoefen en gerat is vir die uitdagings waarmee hulle te doen gaan kry.
Hulle behoort die wêreld ingestuur te word met sekere vaardighede, ervarings en liefde. Hierop moet hulle later kan terugval en dit as verwysingsraamwerk kan gebruik.
Bemagtig hulle nou om dit wat hulle in jou huis geoefen het met dapperheid te gaan uitleef.
Maak gesinstyd ‘n prioriteit vir jou en jou naastes
Beperkte tyd, beperkte hulpbronne, beperkte geduld, kennis en ervaring pootjie ons dikwels. Bly net getrou aan jou “oefenveld”-besluite, maar bly buigbaar in die toepassing daarvan.
Die konsekwentheid van oefen het nog altyd goeie vrugte afgewerp.
Mag liefde, vreugde, geduld, vriendelikheid, nederigheid en selfbeheersing die gewigte word waarmee julle oefen.
Dan sal jou gesin geliefd voel. En sal hulle geborge, gelukkig en vol vrede uit jou huis gaan.
Soveel van ons menswees is gesetel in dit wat ons onthou. Dit herinner ons waarvandaan ons kom. Waardeur ons gegaan het om te kom waar ons nou is. En dit het ’n groot invloed op ons drome en doelwitte en waarheen ons op pad is.
Deur pyn en vreugde, lief en leed word ons waardes en standaarde vasgelê. Die dinge waarvoor ons bereid is om ons lewe te gee, of waarvoor ons sal opstaan en ons stem laat hoor.
Ek onthou ’n reis saam met my gesin Kaap toe vir my suster se kankerbehandeling. Ons was op pad terug hotel toe. Skielik het een van my ouers se gunstelingliedjies oor die radio begin speel.
My pa het van die pad af getrek en hy en my ma het sommer daar in die stofpad gedans, met Tafelberg in die agtergrond. Ek sal die prentjie nooit uit my gedagtes kry nie.
Dit kon nie maklik vir hulle gewees het met ’n kind wat besig was om in ’n hospitaal vir haar lewe te baklei nie. Maar daardie dag het ek iets geleer van lief wees vir mekaar, daar wees vir mekaar, omgee vir mekaar.
En om vas te hou aan die dinge wat vir ons kosbaar is. Dat daar selfs in die donkerste tye ’n rede vir ’n stofpaddans kan wees.
Skep goeie herinneringe saam met jou geliefdes
Die wêreld sal heeltemal anders lyk as ons doelbewus goeie herinnerings skep.
’n “Onthou” wat nie net emosie opwek nie, maar ook in ons waardes en beginsels intap. Onthou met betekenis.
Dis gewoonlik dié oomblikke wat in ons geheue vassit wat op sekere tye uitspring. Dit kan gebeur as ons oorweldig voel – soos gunstelingliedjies wat soms in ons hart kom nesskop.
Dit gebeur ook wanneer daar baie op die spel is – soos groot projekte of uitdagings. Onthou-oomblikke kan rondom erkenning gebeur – soos kosbare vieringswoorde waarmee jou ouers jou gelukgewens het.
Of daardie intieme oomblikke wanneer diep dinge bespreek word. Daardie konneksie sit altyd êrens tussen ons harte en breine op goeie plekke vas.
As gesinne moeite doen om die goeie herinneringe vas te lê wat karakter ontwikkel, sal die goeie herinneringe die minder positiewes altyd oorskry.
Dit verg net ’n klein bietjie moeite en beplanning om die voorspelbaarheid van elke dag te onderbreek. Om die uitspring-oomblikke raak te sien of self te skep. Maar die herinneringe daaraan sal eggo – tot in ewigheid.
Studies het bewys dat die omgewing waarin jy grootword, ’n groot rol speel in die mens wat jy uiteindelik word.
Ons elkeen se uitkyk op die lewe word in die brein vasgelê deur ons ouers en dinge wat kleintyd met ons gebeur het.
Afhangend van dit waaraan jy blootgestel is en wat tydens jou opvoeding vir jou geleer is, begin konneksies in die brein groei.
As jy dit nie verander en anders begin dink nie, word hierdie konneksies nog sterker. Die neurostrukture in die brein skryf nou vir jou voor hoe om te praat, op te tree en te dink.
Dan raak dit ’n manier van outomaties dink en doen. Dit word deel van jou onderbewussyn.
Gesinne moet goeie waardes vaslê met hul eie missie
Dit is belangrik om vir die gesin ’n omgewing te skep waarin hulle kan floreer.
Dit moet ’n omgewing wees waarin elkeen net die beste weergawe van hom- of haarself kan wees. Waarin hierdie ontwikkelings en aanpassingsprosesse in die neurostrukture positief beïnvloed kan word.
Die vaslê van goeie waardes is so belangrik en dit behoort voorkeur te kry. Een van die beste maniere om dit reg te kry, is deur ’n missie op te stel.
Die doel van ’n missie is om jou gesin op die pad te plaas na dit waarby julle graag sal wil uitkom.
’n Goeie missieverklaring moet kort en kragtig, en eenvoudig en verstaanbaar vir kinders van alle ouderdomme wees.
Van klein tot groot moet dit maklik kan verstaan, kan memoriseer en kan weergee. Dit moet egter ook op die lang termyn sy waarde behou.
Elke gesin se waardes lyk natuurlik anders. Maar daar is gewoonlik sekere algemene waardes, soos: Ons praat altyd die waarheid. Ons hanteer almal met respek. Ons kies eers om die positiewe of die oplossing raak te sien. Ons tel ander op. Ons is gemaklik met ons emosies.
Goeie morele waardes help kinders om hulle lewens te leef in ritme met God se unieke hartklop vir elkeen van hulle.
’n Missieverklaring hoef nie ernstig en formeel te wees nie. Julle moet ook leer om te ontspan en om soms die humor in situasies raak te sien. Wees bereid om vir julleself te lag wanneer dinge nie uitwerk soos julle beplan het nie.