Jy hoef nie tien uit tien te kry vir elke lewenstoets om ma-wees te slaag nie. Ouers maak foute, dis menslik. Jy is klaar ’n goed-genoeg-ma.
Ander ma’s verstaan jou uitdagings en is ook onvolmaak
Ouers wil net die beste vir hulle kinders doen en neem daarom voortdurend besluite vir en oor hulle bloedjies. Hierdie besluite maak van babas die jongmense en volwassenes van die toekoms.
Natuurlik wil jy nie foute maak nie. Jy wil alles reg doen, die regte dinge doen en sê wat jou gesin sal opbou. Daar word soveel druk op jou geplaas, deur jouself en ander, om die perfekte ouer te wees.
Ongelukkig, selfs al doen ons die moeite om alles deeglik te oordink, maak ons tog verkeerde keuses. Dit is onvermydelik en vind dikwels plaas op die ingewing van die oomblik. Gewoonlik wanneer omstandighede uitdagend is, jy moeg is of dit doodgewoon een van daardie slegte dae is.
Ma’s doen dom dinge, praat afbrekend, oortree die gewone reëls van goeie maniere, hanteer krisisoomblikke onvolwasse … Én voel dan oomblikke later bitter spyt of onwaardig en of jy nie verdien om ’n ma te wees nie.
Jy weet jou foute kan jou kind se selfvertroue knou en vir hulle ’n minderwaardigheidsgevoel gee. Dit breek die vertrouensband tussen julle en leer hulle verkeerde maniere hoe om mense, emosies en situasies te hanteer.
Hierin is jy nie alleen nie! Ander ma’s verstaan jou uitdagings en is net so onvolmaak. Ons kan leer by mekaar. Hoewel ouerskap een van die moeilikste werke is wat bestaan, bly dit ook verreweg die bevredigendste taak wat jy in jou lewe sal aanpak.
Dra jou ma-kroon met trots. Indien dit begin afval of ’n bietjie skeef skuif, trek jy hom reg en begin weer.
Ervaar emosie sonder om skuldig te voel
“Kyk, Mamma, dit reën! Wag, Mamma, ek het ons liedjie aangesit! Kom ons gaan dans in die reën!”
Tussen al die hartseer, bekommernisse en vrese kom vind vrede jou moederhart. Vergete is die gebrokenheid en seer van hierdie grootmenswêreld in die sprokiesmooi wêreld van ’n onskuldige kind.
Wanneer laas het jy dit beleef? Werklik soos ’n kind die rou emosie van geluk ervaar wat in jou hart opborrel? Saam met jóú kind, sodat jy geliefd en spesiaal voel. Dankbaar …
Moenie daardie gevoel in ’n reg- of verkeerdboksie verpak nie. Neem dit net in. Wees net teenwoordig, sonder enige hoekom of waarom. Leef summier van die een emosie na die volgende een.
Dit is makliker gesê as gedaan. Anders as kinders wil ons soos wat ons ouer word, al hoe meer antwoorde soek, ervarings oordeel, begryp, probeer verduidelik en in besonderhede verklaar. In plaas daarvan om dit net opreg in te neem en te geniet. Net stil te wees.
Wat gaan deur jou binneste? Sê dit hardop. Nie wat jy dink jy voel nie, net wat jy is. Pleks daarvan om te sê: “Ek dink ek is hartseer,” of: “Ek dink ek is bly,” uiter die eerste emosie wat in jou hart opkom. Byvoorbeeld: “Ek is gelukkig!” Laat dit jou totale wese in besit neem.
Is die antwoord: “Ek is seer”? Werk deur daardie pyn soos wat nodig is. Huil as jy lus is om te huil, ervaar die totale intensiteit van daardie emosie, laat dit toe om in jou binneste uit te woed en laat dit gaan.
Hoe voel jy nou? Verlig? Ligter? Glimlag jy, selfs al is dit deur trane? Dit is ’n les wat ons by ons kinders kan leer. Hoe om elke emosie deur jou binneste te laat vloei asof dit die eerste keer is. Dit is so bevrydend. En helend.
Leer jammer sê en met empatie leef
In te min tyd, terwyl sy ma probeer om die perfekte aandete op te tower, gooi my seuntjie ’n bottel kookolie oor hom uit …
Daar het 100 dinge deur my kop gegaan. Het hy daarvan gedrink, hoe gaan ek die vloer skoonkry en voordat ek kon keer, het ek kop verloor en op hom gegil.
Hy het my aangestaar met geskokte ogies en trane wat oor sy wangetjies rol. Sy mamma het hom vir die eerste keer teleurgestel. Hy het bitter groot geskrik … Net vashou, jammer sê en liefde gee, kon die situasie red.
Dit was ’n maak of breek oomblik in ons verhouding. Dit wat hy gedoen het, was nie reg nie.
Máár my reaksie het geensins by sy “oortreding” gepas nie. ’n Lang en uitmergelende dag het my uitgeput en laat oorreageer.
Twee dinge het van daardie dag af verander in ons gesin. My seuntjie het gesien dat sy mamma nie perfek is nie. Dat sy ook net mens is en dat wanneer ’n mens ’n fout maak jy jammer sê.
Dit is baie belangrik om ons kinders te leer dat wanneer ’n mens fouteer het, jy om verskoning moet vra. Met woorde wat jy bedoel. Dit hoef nie altyd groot en hoë woorde te wees nie, solank dit net eerlik is.
Kinders wat weet hoe om opreg om verskoning te vra, vind dit baie makliker om vriendskappe te navigeer en konfliksituasies op die regte manier te hanteer. Dit sal hulle in hulle volwasse lewe baie help.
Gebruik die flaters wat jy begaan en die oortredings wat jou kinders begaan om met hulle te gesels oor hulle emosies.
Dit is ’n effektiewe en lekker manier om die jongspan te lei om hulle emosies te herken. Daaroor te praat om oplossings te vind.
In hierdie reis van ma-wees en moeg-wees en alles-in-een-wees is plesierige avonture en bevredigende “suksesse”. Een daarvan is om te sien hoe jou kinders empatie toon teenoor ander, en selfs teenoor jou.
Moenie voorgee dat jy perfek is nie
As klein meisietjie het ek by my ouers een van God se karaktereienskappe geleer – onvoorwaardelike liefde. My ma en pa het my liefgehad, ongeag my foute en keuses as kind in die huis. Dis my strewe om dieselfde te doen.
Onvoorwaardelike liefde is om my kind ten alle tye te aanvaar nes sy is. Om haar nie met die buurvrou of my beste vriendin se kinders te vergelyk nie. Om te onthou sy is uniek en daar is geen ander een soos sy nie.
Tog kom ongeduld vir my maklik, want ek is ’n besige en baie haastige mamma. My arme dogtertjie moet voortdurend aanpas. Dit laat my besef ek neem gewoonlik al haar besluite vir haar. En gee nie duidelike opsies of redes met verduidelikings aan haar nie.
Só kry sy nie die geleentheid om haar eie besluite te neem nie. En dis nie deel van onvoorwaardelike liefde nie …
Ons moet ophou heeltyd nee sê en nie verduidelik of opsies gee terwyl jy jou vinnige en haastige lewenstyl najaag nie. Anders gaan jou kind nie leer hoe om self ’n goeie en gesonde besluit te neem nie. Ek sukkel vandag nog om besluite te neem, want ek het dit nie as kind geleer nie.
’n Praktiese manier is buk af, kyk jou kind in die oë en hou jou hand in ’n vertikale posisie. Sê vir haar of hom aan die een kant van die hand is al die positiewe opsies. Aan die ander kant van die hand is al die negatiewe opsies.
Vra dan self vir jou kind wat dink hy of sy is Mamma se antwoord? Dan vra jy ook jou kind: So, wat is jou antwoord? Jou ononderbroke aandag is baie noodsaaklik vir jou kind.
Gee jouself die krediet om te weet dat jy jou heel beste as ouer gee, jou uiterste bes doen om ’n goeie ouer te wees. Hetsy in die area van jou kind se opleiding, of die beste basiese gesonde waardes moontlik. Jou beste ware self (nie perfeksie nie!) is die beste geskenk wat jy aan jou kinders kan oordra.