DR. ELLENORE MEYER verduidelik hoe die regte gedagtes en ingesteldheid jou kan help om gewig te verloor, gesond te bly en langer te leef.
Die meeste mense sukkel om gewig te verloor en dit suksesvol af te hou indien hulle nie soveel toewyding in hulle gedagteproses insit as wat hulle op die kort termyn in die dieet insit nie.
Daar is niks daarmee fout om gewig te wil verloor nie. Pen jou vordering neer en vier dit, maar fokus eerstens op jou menswees.
Begin by jou gedagtes. Jy mag jouself liefhê en selfs geniet! Skryf saam met jou gewigsdoelwitte neer wat die gedagte oor jouself of jou omstandighede is waarop jy vir die maand gaan fokus. Vervang die selfkritiek met doelbewuste keuses en opbouende woorde.
Werk net so hard daaraan om jou gesondheid te verbeter as aan jou dieet.
Laat die volgende toetse by jou dokter doen: ’n Lipiedprofiel: Jou totale cholesterol behoort minder as (<) 5 mmol/l te wees en die slegte vette, jou laedigtheidslipoproteïencholesterol (LDL), < 2.9 mmol/l.
Glukose: Jou suiker ná agt uur vastend behoort < 5,8 mmol/l te wees. Hipertensie: ’n Gesonde bloeddruk word beskou as < 130/80 mmHg.
Indien jy hierdie riglyne oorskry, het jy ’n leefstylaanpassing en moontlik medikasie nodig. Kies om gesond te wees. Kies om langer te leef.
Kies om héél oud te word.