Die Here is lankmoedig, maar Sy krag is groot: Hy laat geen skuldige ongestraf nie. Hy kom in rukwind en storm … Hy spreek die see aan en laat dit droog word.
(Nahum 1:3-4)
“Hy is so-o groot,” strek Lianey haar armpies so wyd sy kan. Hoe kan ek vir ’n kleindogter van vier vertel hoe groot Hy is, as ek dit self nie eens begryp nie. Boeta, sewe jaar oud, kan al tot by duisend tel as hy lus het, maar steeds is dit nie genoeg om te bereken hoe wyd en sterk en groot God is nie.
“Nou hoe pas Hy dan in my hart?” wil die kleintjies weet. Ek is sprakeloos. God se vermoë om terselfdertyd groot en klein te wees; om in die hoogste hemel en die nederigste hart te woon terwyl sy heerlikheid die hele aarde vul … dis onverklaarbaar.
Ek dink aan wonderwerke: Moses en die Rooisee, Daniël en die leeukuil, Dawid en Goliat. Dit klink so lank terug, so ver weg. Kan God dit vandag nog doen? Is sy krag nog daar wanneer dinge onmoontlik lyk? Ek onthou hoe moedeloos ek was toe my vyfjarige seuntjie, Adriaan, aan kanker gesterf het. Ek het so hard geglo. Waar was God se krag toe? Die krag wat die dooies kon opwek en die siekes kon genees?
Ek kyk na Elia en sien dat God se krag by Karmel ’n voorbladnuus-hoofberig kon wees. Dis nie net die pieke van opspraak wat God se krag toon nie; sy grootheid lê ook in die diepste dale van moedeloosheid.
Ek voel hoe die krag in my opwel: ek is tot alles in staat. In die pieke en prosesse van die lewe is dit een en dieselfde God wat my krag gee om dit te oorkom en te deurstaan. Hy is altyd goed, want Hy is groter … ook in die kleiner dinge.