Het jy ’n jeukerige of rooi uitslag na die gebruik van skoonheidsprodukte? Dit kan ’n teken wees dat jy sensitief of selfs allergies is vir van die bestanddele.
’n Jeukerige, rooi uitslag nadat jy lyfroom of skoonheidsprodukte aangewend het, kan ’n teken wees dat jy sensitief of selfs allergies is vir een of meer van die bestanddele in die middels wat jy gebruik.
Die vernaamste verskynsels is irritasie en -allergieë soos kontakdermatitis. Eersgenoemde, met simptome soos branderigheid, gejeuk en/of rooiheid, kom meer algemeen voor.
Indien jou liggaam se natuurlike beskermende olies ontbreek, is dit meer geneig om negatief te reageer. Gebruik gereeld ’n goeie bevogtiger met natuurlike, omegaryke olies om te help om die probleem aan te spreek.
’n Allergie vir spesifieke bestanddele kan rooiheid, swelling en selfs blase veroorsaak. Die grootste sondebokke is parfuum en preserveermiddels.
Sogenaamde ongeparfumeerde produkte bevat dikwels ’n verbloemer (masking agent) om die reuk van chemikalieë weg te steek wat op sigself ’n allergiese reaksie kan veroorsaak. Kyk uit vir woorde soos fragrance free of perfume free om dit te vermy.
Hoe minder bestanddele, hoe skraler is die moontlikheid vir ’n allergiese reaksie.
Preserveermiddels word in omtrent alles wat water bevat, gebruik om seker te maak dat dit nie sleg word nie. Koop verkieslik produkte met natuurlike middels soos vitamiene E.
Diegene wat geneig is om sensitief te wees, moet ook versigtig wees vir alfa-hidroksiesure (AHA) – veral dié met ’n konsentrasie van 10% of meer of ’n pH van 3,5 of laer.
Doen eers ’n toets deur ’n klein hoeveelheid aan die binnekant van jou elmboog te smeer en 72 uur te wag om te sien wat die uitwerking is.