“Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. (Matteus 14:29)
Ons ervaar so dikwels in ons lewe dat Jesus vir ons sê: Klim uit die skuit, kom! Met ander woorde, klim uit jou gemaksone, daar waar alles gemaklik sonder moeite net reg werk.
Maar hoekom voel dit asof ons wil sink wanneer ons dit doen? Dieselfde wat met Petrus gebeur het, gebeur met ons. Toe Petrus op Jesus gefokus het, kon hy op die water loop. Die oomblik toe hy na die storm kyk en sien hoe groot die golwe is, was hy so oorweldig deur die werklikheid dat hy begin bang word het. Die feit dat hy weggekyk het, wys dat sy fokus op daardie oomblik nie op Jesus was nie.
Petrus was tog iemand wat Jesus se wonderwerke eerstehands aanskou het, en geweet het waartoe Hy in staat is. Twyfel en vrees verswak geloof. Daarom het Jesus ook vir hom gesê “kleingelowige”.
Ons word ook so oorweldig deur die storms in ons lewe. Maar die wonderlike verskynsel is: Toe Petrus begin sink, het Jesus sy hand gegryp. God leer ons elke dag om op die water te loop. Hy sal ons aanhou leer totdat ons fokus en geloof heeltemal op en in Hom is. Ons gaan vele kere sink, want dit is menslik, maar met die wete dat Jesus jou hand sal gryp, is dit die moeite werd om weer en weer te probeer.
Geloof wat nooit getoets word nie, kan nie groei nie!
Pappa Vader, dankie dat U my hand al soveel keer gegryp het. Help my en leer my om volkome op U te vertrou, al is die golwe in my lewe ook so skrikwekkend groot, want ek weet U is groter.