Uittreksel uit Riviere in die Wildernis, deur Karlien van Jaarsveld

In Riviere in die Wildernis leer ons Karlien ken soos nog nooit tevore nie. In haar arms het sy al lewe, siekte en dood vasgehou en geleer hoe om, of die Here nou gee óf neem, steeds ’n halleluja te sing

Ek was nog nooit iemand wat met ander gewedywer het nie. Gee my ’n rondte Rummikub en ek is in vir die kompetisie. Of ’n uitdaging soos Strictly Come Dancing of Tropika Island of Treasure en dan speel ek om te wen. Ek hou van speletjies; dit maak my opgewonde. Maar in die regte lewe is kompetisie nie iets wat my dryf of jaag nie.

Op skool het ek nooit uitgeblink nie. En het nie eerste gekom in atletiek, vir die A-span gespeel of ’n hoofrol in ’n skoolkonsert gekry nie. Ek was in sewe verskillende laerskole. Ons het baie rondgetrek omdat my pa op verskeie plekke gewerk het. Nadat my ouers geskei is, het ons baie saam met my ma rondgetrek van die een onveilige, goedkoop plek na die volgende.

Ons het meeste van die tyd nie baie geld gehad nie. My ma kon nie altyd die skoolfonds bekostig nie. So, daar was ook geen bydrae tot ’n koeler status nie, verál nie as die wit koevert met die groot rooi kol op aan die oudste kind van elke gesin voor al die klasmaats uitgedeel word nie. Klasmaats is ook maar net ’n term wat gebruik word. Daar steek min waarheid daarin. Ek het een maat in die klas gehad. Sy was ook deel van die uitgeworpenes. Ek dink haar borste was te groot, en sy was dalk ’n bietjie té mooi na die gewilde meisies se sin.

Ek het wel in sommige wisselklasse ’n maat gehad. Meestal seuns. Hulle het net minder issues gehad en kon ’n pouse geniet sonder om te skinder en hulle te bekommer oor wie die mooiste in die groep is. Soms het ons gerook. Die meisies was te ordentlik daarvoor, verál in daardie dorp.

Asof die boeliery nie genoeg was nie, het daar ’n nuwe, sexy outjie in die skool ingekom wat in rugby uitgeblink het. Elke meisie het sy aandag probeer trek. Hoewel die gewildste meisie in die skool al haar toertjies uitgevoer het om hom in haar mag te kry, het Wouter my gevra om middae saam met hom huis toe te stap en huiswerk te doen.

Ek het vinnig agtergekom huiswerk is net ’n ander woord vir vry. Ons het soms huiswerk ook gedoen. Die koel meisie het daarvan uitgevind, en toe ek weer een oggend by die skool opdaag, word ek deur elke verbyganger die woord “hoer” toegesnou. Dinge was moeilik vir my en Wouter, maar ons was lank saam. Toe hy eerstespankaptein word, het hy my gelos.

Nóú beskikbaar – Riviere in die Wildernis

Riviere in die Wildernis is beskikbaar by jou naaste boekwinkel en aanlyn: https://loom.ly/oZO2-iQ

Dan was daar Beyers. Hy was nie net iemand uit die verre verlede nie, maar ook iemand in my nabye verlede. Beyers is baie keer opgekommandeer om my by die matriekboom in te wag en voor die hele skool emosioneel uitmekaar te skeur. Daar is ’n sirkel om ons gemaak sodat almal die gebeure van naby kon aanskou. Almal het nie gelag nie. Daar was dié wat ook die letsels van ’n gebroke huis gehad het en empatie daaruit geleer het eerder as om ander weer seer te maak omdat hulle seer het.

Ek was as kind só gebreek dat die gebrokenheid waarmee lang Beyers met die slegte vel en skril stem in sy hart geloop het, my oë soos ’n motor se volstraal hoofligte op ’n donker hoofweg verblind het, sodat ek op die ou end ook die seer in sý binneste kon herken. Hy het gehoop dat as hy in sy skril stem op my skree en sy skerp woorde iets in my raaksny, hy dalk die komende Vrydag na die koel meisie se huis genooi sou word.

Beyers was maar net ’n pion in die skaakspel. Ek was nog nooit een vir dié soort speletjie nie. Ek haat skaak en het geleer om die spel van die kant af dop te hou en eerder daar te wees vir jou as jy onttroon word. Om deel te wees van die populêre groep was net nie iets wat ooit vir my gebeur het nie. Daarvoor was ons te arm en ek te min in die skoolkollig.

Dan was daar Jan. Hy was een van die groot seuns in die skool, en al was hy deel van die populêre kinders het hy ’n sagte plek vir my gehad. Die oggend toe ek nie meer wou skool toe gaan nie, hang nog soos die smaak van ’n Steri Stumpie in my mond. Dis ’n soet herinnering vir my. Hy het sy skoolklere aangetrek, na my huis toe gery, by my op die bed kom sit en my aangemoedig om die dag aan te pak. Jan het my moed gegee. Ek het skool toe gegaan en geweet hy sou uitkyk vir my. En Beyers was bang vir Jan. Banger as vir die koel meisies.

Vandag het ek geen behoefte aan ’n populêre vriendekring, om die ryk persoon te wees of die een wat die meeste aansien het nie. Dit dra net vir my geen gewig nie. Ek kan die leemtes in hierdie statusgedrewe mense sien. Dit skree op my sonder dat hulle iets hoef te sê. Ek het sonder dit grootgeword en sonder dit bly staan.

Dit sit nie in my om te skinder of iemand af te breek nie – ek was al te veel kere in daardie skoene. Met my egskeiding het ek ook gekies om nooit te praat nie, alhoewel ek baie keer in tydskrifte en koerante aangehaal is asof ek iets gesê het. Wanneer ek die foon opgetel het en dit was ’n joernalis, het ek “geen kommentaar” geantwoord, al het hulle my hóé uitgelok deur te sê Derick sê dít of dát van jou. Daar was al genoeg valse dinge tot op daardie punt van my gesê dat ek die behoefte gehad het om terug te baklei en vir myself (of ten minste vir die waarheid) op te staan.

Maar ek het geweet hoe lyk die waarheid wat in my leef en hoe voel die skoene daarvan aan my voete. Het nie nodig gehad om daarvoor te baklei nie, al het elke lamppaal en voorbladopskrif die leuen verkondig. Later het die joernaliste net gesê: “Oukei, as jy nie wil praat nie, praat ons namens jou.” So is baie stories opgemaak asof ek dit kwytgeraak het. En almal wie se Bybel die tydskrif was, het elke jota en tittel daarvan verorber as die waarheid.

Eendag het ek in my en Joe se huis alleen op die vloer van ons kamer gesit en huil oor die voorblaaie se valse oorlog wat toe al vir drie jaar lank geseëvier het. Ek het vir God gevra: “Wanneer gaan dit ophou? U het my gevra om stil te bly en nooit my kant te stel nie … maar die oorlog stop nie?”

Daardie dag het God vir my gevra: “Is wat hulle oor jou sê die waarheid of is wat Ek oor jou sê die waarheid?”

Dit was die dag wat ek ’n besluit kon neem om God se waarheid oor my te onthou. Ek het opgehou om enigiets te lees en heeltemal daarvan afstand gedoen. Toe het ek aangegaan met wat lewe in ons huis was. Dis ook waaroor my lied getiteld “Stiltes” (sien hoofstuk 18) gaan.

Vandag is ek dankbaar vir elke liewe persoon se rol in my lewe en dit wat hulle gebring het: afbreek of optel. Die weegskaal het in my jonger dae meestal uit balans gehang aan wat mens die mindere kant kan noem, maar as dit nie vir die skaal was wat vir jare eenkant toe gehel het nie, was dit heeltemal oorgegee na die ander kant. Die moeilike dae waar ek alleen gesit en huil het – in my kinderdae in ons huis onder die bed waar ek weggekruip het of in die skool se badkamer, en later in my kar voor nog ’n vertoning – het die balans gebring.

Ek glo balans gaan oor gelykheid. Om die gelykheid van jou en ander te herken. Ek is nie beter of minder as iemand nie. Ek is.

Ek is in balans, in eenheid met elkeen, en kan almal in ’n vertrek se pyn aanvoel en hulle liggaamstaal soos ’n boek lees. Ek het respek vir elkeen se grond waarop hulle staan en waar hulle my nooi om by hulle te staan. Ek leer by almal iets. Dis wat ek ondervind. Sodra ek dink ek het meer om te bied as die een wat voor my staan, mis ek die geleentheid om te deel in die skat binne hom of haar.

Besoek gerus ons webtuiste by www.lapa.co.za of volg ons op Facebook en Instagram vir meer inligting oor ons nuutste boeke.

Deel die artikel

Méér artikels

’n Deernisvolle verhaal oor ’n nuwe begin, betekenisvolle verhoudings en die krag wat liefde en geloof tot uiting kan bring Tienuur die oggend loop Mara ...

Die huis op die hoek is ’n boeiende historiese roman wat die leser na ’n ander tyd, kultuur en omgewing wegvoer. Voor sononder is haar ...

Scroll to Top