Woestynblom deur Kristel Loots is ’n deernisvolle verhaal oor ’n vrou se soeke na liefde, vryheid en selfaanvaarding.
Isabella staan ’n paar oomblikke voor die Snyman Hotel en rondkyk nadat die taxi haar afgelaai het. Die gebou lyk taamlik gehawend, die dofgeel mure is afgeskilfer en die neonlig wat die naam van die plek moet spel, flikker soos iets wat aan die sterf is.
Pa en Ma kry ’n oorval as hulle moet sien waar hulle dogtertjie gaan inkruip, dink sy opgewonde. Dis ’n hool! ’n Heerlike hool in die stad. Nét wat sy wou gehad het.
Behalwe, onthou sy, dat dit die skoolhoof is wat hier vir haar plek bespreek het en dat ander onderwysers glo ook hier bly. Dan is dit seker ’n ordentlike hool en hoef Pa en Ma nie snags oor haar veiligheid wakker te lê nie, sug sy.
Ag, en sy wil tog só graag ’n bietjie gevaarlik leef.
Sy adem die lug in. Aa! Seelug! Sout seelug, die geur van vakansie, van iets om na uit te sien. Nou goed, dan bly sy maar voorlopig in hierdie derderangse hotelletjie tussen al wat preutse pedagoog is, besluit sy. Om so naby die see te wees, vergoed vir baie ander dinge.
Wonderlik! Sy kan in die oggend langs die see gaan draf. Vroegoggend, wanneer selfs die boosdoeners nog slaap en niemand haar sien nie. Haar bene is winterwit en sy sukkel nou al maande lank met die vetrol om haar middel. Dis nie ’n mooi gesig nie en haar drawwery moet verkieslik weg van afkeurende oë plaasvind.
Dis wat gebeur as ’n mens naweke in jou woonstel omsit. Jy stoel later behoorlik omdat ’n blok sjokolade jou troos teen die eensaamheid word. Een ding weet Isabella maar net te goed: mans vermy ’n vet meisie, diskwalifiseer haar sommer met die eerste oogopslag. Die afgelope maand het sy op bokkos probeer leef, met af en toe ’n snytjie brood en konfyt as die honger te veel geknaag het, maar haar jeans sit nog steeds te styf en sy dril as sy draf.
Gelukkig het Elisma haar ’n week gelede beetgehad, dink Isabella dankbaar. Gelukkig is sy nie meer heeltemal so vaal soos voorheen nie. “Jy is net so min vaal soos ek,” het Elisma haar verseker toe sy daaroor kla.
“Jy’s eintlik beautiful.”
“Jy dra ’n tydlose skoonheid met jou saam, seker iets wat jy by jou voorgeslagte geërf het,” het tant Cornelia ook nou onlangs weer opgemerk. Tot haar ma en pa se ontsteltenis. Hóékom weet sy nie. ’n Mens sou dink jou ouers sal daarvan hou om te hoor jy is mooi. Haar ma het die onderwerp dadelik verander. Voordat tant Cornelia weer ’n bohaai kon maak oor Isabella se diepgroen oë soos woude wat nog ontdek moet word, haar hoë wangbene en natuurlik haar songesoende haardos. Die tipe aanmerking wat sy alte graag in die gesprek inwerk wanneer daar oor Isabella gepraat word. Kyk, voorkoms is natuurlik vir tant Cornelia baie belangrik, maar Isabella wonder self waarom sy so digterlik raak wanneer sy háár ophemel. Dalk maar om vir Pa en Ma te tart.
Gelukkig lyk sy glad nie na haar pa of ma nie. Daar’s hoop.
Natuurlik het Pa en Ma nie geweet van die gedaanteverwisseling in haar woonstel nie. Hulle sou beslis probeer keer dat Isabella verlei word tot sulke uitspattige en sondige dade. Isabella moet erken, sy en haar wildewragtige medekwaaddoener het seker nie die instruksies op die boksie mooi deurgelees nie. Of die kleursel te lank aangehou. Of iets. Wat ook al. Om haar lewe hier in die Kaap met ’n pers blerts deur haar skouerlengte songesoende hare te begin, is baie beter as wat dit sou wees as sy met haar oninteressante muisvaal haartjies hier aangesit gekom het. Isabella glimlag innerlik as sy onthou van die drama by die huis toe sy, met pers blerts en al, daar aankom.
Aitsa, maar jy lyk mooi!” het Pa verras gesê, maar Ma het kort duskant ’n floute omgedraai.
“Mooi?” het sy gestotter. “Wat bedoel jy ’mooi’?” Ma het haar hande dramaties oor haar mond geslaan. “Kyk hoe lýk die kind! Kyk die hare! Kyk wat het sy met haar pragtige hare aangevang!”
Min of meer op daardie punt het Ma na ’n snesie begin soek om die eerste trane af te vee. “Jy lyk soos ’n … jy lyk soos ’n …”
“Soos wát, Ma?” Isabella het so iets verwag en sy was nie van plan om haar te laat slegsê sonder ’n geveg nie.
“Soos …” Haar ma het gehuiwer.
“Soos ’n tert?” het Isabella haar aangehelp.
Nóú beskikbaar – Woestynblom
Woestynblom is nou beskikbaar by alle boekwinkels en aanlyn: https://loom.ly/VNke5A4

“Jy het dit gesê, nie ék nie!”
Isabella was tevrede om dit te hoor. Dit het beteken sy en Elisma het in hulle doel geslaag. Eerder ’n tert in Ma se oë as ’n koek in ander mense s’n.
“Sy lyk kompleet nes Cornelia,” het Pa probeer troos. “Sý dra ook mos sulke deurmekaar kleur hare.”
Dit het die damwal laat breek, Ma in trane laat uitbars.
Isabella was jammer vir Ma, jammer dat sy haar hartseer gemaak het. Dit vat nie veel om haar ma tot trane te bring nie. Sy wens dit was anders, sy sal woede en uitbarsting beter kan hanteer as die ewige gehuil.
En sy was jammer vir Pa. Hy was totaal verward. Al wat hy raakgesien het, was die nuwe haarstyl, die vreemde hare wat haar jonk en vrolik laat lyk het. In sy onkunde het hy gedink dis toelaatbaar om haar ’n kompliment daaroor te gee, maar hy het hom lelik misgis. Hy het nie rekening gehou met sy vrou se siening oor hierdie dinge nie, het nie besef dat hare met ’n pers blerts outomaties van ’n vrou ’n tert maak nie.
Pa is nou wel net so eng soos die res van die ooms wat saam met hom in die voorste gestoeltes in die kerk sit. Dis net dat hy nie altyd mooi weet wat aanvaarbaar is en wat nie, en die grense tussen die bose en die goeie vir hom nie so duidelik afgebaken is soos vir Ma nie.
Veral wanneer dit by háár kom. Sy kon hom nog altyd om haar pinkie draai as dit die dag nodig was vir oorlewing in ’n huis waar sy so streng grootgemaak is dat sy met tye wou verstik daaraan. Dit was net by Ma en haar trane by wie sy nie sommer kon verbykom nie.
Die dag toe Ma al snikkend afgegaan het oor haar hare, het sy nie eens probeer koes vir die woordevloed nie. Praat maar, Ma, het sy gedink. Kry dit uit Ma se gestel uit. Maak nie saak wát Ma sê nie, my hare is gekleur en dit is hoe dit gaan bly. Ek is nou ’n stadsmeisie en ek het ’n kas vol klere wat daarby pas. Nog steeds ’n nommer of twee groter as wat ek sou verkies, maar darem meer gewaagde uitrustings as wat ek ooit onder Ma se wakende en kritiese oë sou dra.
Ek is nou ’n bevryde vrou, besluit Isabella waar sy op die sypaadjie voor die Snyman Hotel staan. Nou ja, so bevry soos wat ’n onderwyseres kan wees as sy nog steeds tussen ander soos sy gaan bly.
Isabella tel twee van haar tasse op. Hoe sy gaan intrek met hierdie pakkaas van haar, weet sy self nie. Sy het tydens een van hulle telefoongesprekke van die eienaar verstaan haar kamer is op die eerste verdieping. En natuurlik – ’n plek soos hierdie sal nie ’n hysbak hê nie. Maar dis ook reg, trappe klim is goed vir die figuur.
Sy skrik effens toe die man skielik langs haar verskyn.
“Kan ek jou met jou tasse help, Juffrou?” vra hy in ’n diep stem.
Die stem pas nie by hom nie, besluit Isabella dadelik. Dis ’n mooi, diep stem – die stem van ’n mán. Maar die mens self laat veel te wense oor. ’n Regte bleeksiel. Vaal kuif wat oor sy oë hang, ronderaambrilletjie, skouers wat haar laat wonder of hy haar tasse sal kán dra. Die gees is gewillig, sien sy, maar of die vlees die mas sal opkom, is ’n ander saak.
Seker een van die vele onderwysers wat hier ’n “holte vir sy voet” gekry het, dink Isabella dadelik. Hy lyk soos baie van haar kollegas wat in die onderwys staan – en vir die res van hulle lewens daar sal bly. Vaal en vervelig. En bebril. Dis wat ’n mens daarvoor kry as jy heeldag met jou neus in ’n boek sit terwyl ander mense deur die dae huppel en dans. Hy klink ook soos ’n onderwyser, amper soos meneer die skoolhoof. Wie juffrou-juffrou ’n vrou nog in ’n tyd waar baas en klaas mekaar sommer op die voornaam noem?
Maar as die mansmens ten minste een van haar tasse kan help dra, is hy nie as pakdonkie te versmaai nie.
“E … Dankie. Dit sal gaaf wees.”
Hy steek sy hand uit. “Waldo Viljoen,” stel hy hom voor. “Aangename kennis.”
Maar Isabella het genoeg gehad van formaliteite. Sy is nou in die Kaap met die seelug in haar neusgate en ’n windjie wat haar hare deurmekaar woel en ’n vakansiegees in haar hart. Sy is so lus vir pret en plesier en lawwigheid dat sy aan die dans wil gaan. Sommer net hier in die straat as dit daarop aankom. Sy is nie lus vir blad skud nie, sy is eerder lus vir links en regs soen. Nie vrouens nie, mans! Nou wel nie die man hier voor haar nie, iemand anders. Iemand met hare op sy tande – en sy bors – en ’n paar arms wat haar kan vasvat sodat sy behoorlik daarvan sal weet.
Sy wil-wil bloos by die gedagte, maar sy kry dit weggewerk.
“Hallo, Waldo,” groet sy onverskrokke. “My naam is Isabella Jansen en ek boek vandag hier in. Bly jy ook hier?”
Daar pluk ’n glimlag aan sy mondhoeke. “Ja. Die afgelope twee jaar al.”
“En hoe is dit? Ek hoor dit wemel hier van onderwysers. Gee hulle jou nie ’n pyn in die watsenaam nie?” Dis maklik vir haar om so met hom te praat, want hy het niks wat sy wil hê nie en dit maak nie saak as sy nie ’n gunstige indruk op hom maak nie. Waldo Viljoen is nuttig genoeg om haar tas te dra, maar dis waar dit sal ophou. Verder wil sy niks met hom te doen hê nie. Sy soek na avontuur, na opwinding, na iemand wat haar van haar voete af sal vry. Vry, ja. Vry! Sy gebruik nou self die woord. Skaamteloos! Nie openlik nie, maar in haar gedagtes waar niemand kan hoor nie. Haar soetkoekiedae is verby, die brandewyntertjie is reg om geëet te word. Sy soek ’n wilde man en klaar, nie ’n onskadelike man met ’n bril nie.
“Ek tel self onder die geledere van onderwysers hier rond,” antwoord Waldo Viljoen met ’n glimlaggie.
Ja-nee, wens Isabella haarself geluk met haar mensekennis. Ek kon dit gedink het. As ek die dag met iemand soos hierdie Waldo Viljoen-snaar by die huis sou aankom, sal my ma van geluk blom. Sy sal haar beste breekgoed uithaal en trouklokke in die verte hoor lui. ’n Goeie seun, dis hoe sy hom by haar teedrinkvriendinne sal beskryf. Isabellatjie het nou vir haar so ’n goeie seun losgeslaan, weet julle? sal haar ma van tevredenheid spin.
Maar dit gaan nie gebeur nie, dit kan sy nou al waarborg. Aan Waldo Viljoen gaan sy nie met ’n paal raak nie. Hy lyk en klink soos al die ander goeie seuns aan wie haar ma haar in die verlede wou afsmeer. Betroubare bloukouse wat hulle onberispelik gedra, elke skoonma se droom. Dis nie wat sy wil hê nie. Dis wat sy haar hele lewe lank gehad het – die veilige uitweg, die smal paadjie, die regte ding om te doen. Sy is moeg daarvan. Keelvol!
Woestynblom is nou beskikbaar by alle boekwinkels en aanlyn: https://loom.ly/VNke5A4