Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. (Efesiërs 4:32)
Jesus het die beginsel van vergifnis verkondig. As jy onwillig is om te vergewe, wys dit dat daar nog iewers ’n kortsluiting is in jou verhouding met Christus.
Daar is duidelike riglyne in sy Woord oor vergifnis, maar ek wil dit graag prakties verduidelik. Gestel jy het ’n groot sak aartappels wat jy saam met jou dra. Elke aartappel daarin stel iemand of iets voor wat jou te na gekom het. Elke dag raak hierdie sak swaarder en die aartappels al vrotter. Hulle begin water afgee en vrot word. Jy dra egter hierdie stink sak saam met jou. Mense begin jou vermy, want oral waar jy kom met jou sak, stink jy. Die reuk raak al erger en niemand wil meer naby jou kom nie.
Dit is presies hoe dit werk wanneer jy nie kan vergewe en gebeurtenisse agter jou kan plaas nie. Jy is die een wat begin stink, die vrot aartappel wat ander mense wil vermy.
Vergewe vandag nog onvoorwaardelik almal wat jou te na gekom het, en bid vir vergifnis. Een van ons grootste foute is om te oordeel. Ons fokus slegs op dit wat ons self wil hê en wat vir ons belangrik is. Leer om die eie EK te begrawe. Ja, ware hartsvergifnis is ’n proses wat net die Gees in ons kan laat gebeur, mits ons Hom toelaat.
Wanneer Jesus vir ons sê: “Jou sondes is vergewe,” dink Hy nie weer een oomblik daaraan nie. Hy vergeet volkome daarvan! Ons moet dieselfde doen – dit is sy heilige wil.
Maak jouself vandag vry deur volkome vry te spreek. Jy sal voel hoe daardie onwelriekende sak aartappels van jou skouers af val.