Wat die Bybel sê oor ... Geduld

Wat die Bybel sê oor … Geduld

Geduld is ’n Goddelike krag. Geduld gee ’n mens die vermoë om probleme of swaarkry te verduur, sonder om angstig of geïrriteerd daarmee te raak. 

Geduld is ’n vermoë wat bewustelik aangeleer kan word 

Geduld is beslis ’n vermoë wat aangeleer en versterk kan word deur dissipline, selfdissipline en/of keuse. Dit geld nie net vir kinders nie; volwassenes ook. 

… dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir ’n mens om sy las in sy jeug te dra. ...

Geduld is ’n Goddelike krag. Geduld gee ’n mens die vermoë om probleme of swaarkry te verduur, sonder om angstig of geïrriteerd daarmee te raak. 

Geduld is ’n vermoë wat bewustelik aangeleer kan word 

Geduld is beslis ’n vermoë wat aangeleer en versterk kan word deur dissipline, selfdissipline en/of keuse. Dit geld nie net vir kinders nie; volwassenes ook. 

… dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir ’n mens om sy las in sy jeug te dra. (Klaagliedere 3:26-27) 

Ek het self vir lank geduld as ’n passiewe “wag” of rustige verdraagsaamheid beskou. Dis nie regtig bevrydend om bloot te ontdek dat ’n mens geduld kan aanleer, beoefen en groei daarin nie.  

Geduld is om aan te leer hoe jy bewustelik krag kan uitoefen. Ons is nie so gemaak en laat staan nie. Een persoon het nie voor in die ry gestaan toe geduld uitgedeel is en ’n ander een agter nie.  

Die Here het vir almal dieselfde vermoë gegee om geduld aan te leer en te beoefen.  

Besef jy dit, kan jy doelbewus aan jou geduld werk. Jy kan daaroor bid en deurentyd besin oor hoe jy voorheen opgetree het. Daar moet groei in ons lewe as mense wees. Anders is dit ’n duidelike teken dat ons verhouding met die Here nie lewend en kragtig is nie.  

In ’n lewende verhouding met Jesus sal geduld vermeerder en ongeduld verminder. 

Moeilike omstandighede is ’n geleentheid om geduld te oefen 

Die Here leer ons op verskeie maniere geduld. Dit kom nie net oornag nie. Soms leer ons dit deur beproewings, ongemak en minder aangename omstandighede. 

Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. (Kolossense 1:11) 

Vir my help dit om die einddoel in sig te hou. Dit help as ’n mens soms deur moeilike omstandighede moet werk.  

Sulke tye raak dit moeilik om geduldig op die Here te wag. Dit lyk onmoontlik om jouself te herinner dat alles uiteindelik TEN GOEDE sal meewerk, al voel dit nie op die oomblik só nie.  

Soms vra dit die keuse om een tree terug te staan. Ons moet die omstandighede net vanuit ’n ander hoek bekyk. Óf dalk moet ons onthou om tot tien te tel.  

Die krag is om nie irrasioneel op te tree soos jy op daardie oomblik voel nie. Jy leer om ’n bietjie te wag en te besin.  

Partykeer is stilbly nie die verkeerde antwoord nie; dalk die heel beste een.  

Jy kan enige tyd iets byvoeg. Jy kan egter nie terugtrek wat jy reeds gesê het of hoe jy opgetree het nie. 

Behandel altyd ander mense met liefde en geduld 

Ons raak gestres en uitgeput. Soms het ons seker goeie rede om in “heilige woede” uit te bars. Dit weet ons egter is nie in ooreenstemming met wat Sy Woord ons leer nie. 

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. (1 Korintiërs 13:4) 

Ek het ondervind dit vra baiekeer van my ’n doelbewuste keuse om teen my grein op te tree. Ek leer om nie te doen wat ek voel nie, maar wat ek weet reg is. Dis om met geduld, liefde en selfbeheersing op te tree.  

Die Heilige Gees gee my die vermoë om in moeilike omstandighede daardie reaksie te hê.  

Ek en my dogtertjie het ’n sê-ding raakgelees wat ons so baie vir mekaar sê, en dan daarvolgens optree.  

Dit is: “Sit jou hare in ’n bolla, drink ’n koppie koffie en hanteer dit!” Dan wil ek byvoeg: “… hanteer dit met krag, liefde en selfbeheersing.”  

So, wat maak die verskil? Ons almal het sekere snellers wat ongeduld in ons binneste laat ontbrand en selfs afvuur. Dis belangrik dat jy jouself ken en hierdie snellers verstaan. Gee dit aan die Here oor en laat Hy jou deur Sy Gees hierin lei. 

Deel die artikel

Méér artikels

Ons hele lewe word deur hoop gerig. Hoop is die vertroue dat die Here sal, terwyl geloof die oortuiging is dat Hy kan, sê LYNETTE ...

Elke dag bring nuwe genade. Om te weet dat ek níks verdien nie, maar álles het, is God se vrye guns vir my lewe. Dit ...

Scroll to Top