Berou het ’n veel dieper betekenis as om bloot jammer te wees. Die woord beteken ook dat ’n mens anders oor die saak dink.
Wys berou wanneer jy verkeerd opgetree het
In hierdie psalm word Dawid met sy owerspel met Batseba gekonfronteer. Daarby is die verraad teen Urija, haar man, wat later tot dié se dood gelei het. Dawid het besef dat hy ánders oor sy optrede en woorde moet dink. Sy skuld is nie net teenoor Batseba en Urija nie. Dis in die eerste plek teenoor God.
Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en BEROU nie gering ag nie, o God (Psalm 51:19).
Hoeveel keer vergeet ons dat ons verkeerde dade nie slegs mense raak nie. Dit het juis ’n direkte invloed op ons verhouding met God.
Dawid wil weer die vreugde van God se teenwoordigheid geniet. Daarvoor is ware berou nodig.
Dis berou waar jou hart gebreek, stukkend geslaan en uitmekaar geskeur is.
Hier lê jou diepste besef dat jy eintlik verlore en stukkend voor God staan. Hierteenoor rig God se troue liefde en Sy ware omgee jou op. Jy kry opnuut hoop dat jy gered en vrygemaak kan word.
Dis waar jou hardheid stukkend geslaan word. Jou hart word weer een van vleis. Jou hoogmoed en eie ek verander in nederigheid voor God. Hier verwag jy jou redding van niemand anders as God nie.
Vergewe die oortredings van ander wat berou toon
In die teksvers hieronder kry ons twee opdragte: Berispe jou broer en vergewe jou broer.
Wees dus self op julle hoede. As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy BEROU kry, vergewe hom (Lukas 17:3).
Die eerste opdrag is tog net soveel makliker. Dis amper tweede natuur vir ons om mense te berispe oor dinge wat hulle verkeerd doen. Ons stuur ander so maklik in die regte rigting, sodat hulle berou kan hê.
Berou is om terug te keer na God se genade in groot letters aan die kruis: Jy is vergewe! Kom dit egter by vergifnis, is die vrywilligers maar min.
Jesus vra dus dat ons aan ander doen wat Hy vir ons gedoen het. Daar aan die kruis het Hy ons sonde weggeneem en ons skuld gekanselleer.
Ons moet leer om iemand te vergewe wat berou het. Dit beteken nie dat jy goedkeur wat daardie een gedoen het nie. Dis ook nie dat jy daardie optrede verskoon nie.
Dit beteken net jy kies om nie meer so iemand se slagoffer te wees nie.
Besef vandag: As jy kies om jou medemens te vergewe, kies jy eintlik om weer te leef.
God wys genade aan dié wat berou het
God stuur Jona met ’n preek wat geen teologiestudent sou kon baasraak nie. Daar is nie ’n goeie begin, drie punte wat deeglik beredeneer is, of ’n slot wat die laaste spyker omklink nie.
Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en BEROU hê oor die geweld wat hulle gepleeg het (Jona 3:8–9).
Jona se preekreeks het die tema: Oordeel! Die hel is los op julle! Dan gebeur ’n wonderwerk. Meer as 12 000 mense hoor sy preek en toon egte berou. Die koning en sy onderdane buig in diep berou en selfs die diere word deel daarvan.
Hierdie ware berou raak die vaderhart van God aan. Nineve ontmoet ’n genadige God. Hy is vir hulle die God van tweede kanse.
Hulle leer ken die God vir wie verlossing en redding hoër op die agenda is as vernietiging en oordeel.
Hierdie mense se berou laat God van plan verander. Ek glo dat dit vandag steeds geld. Dit was egter vir Jona ’n bitter pil om te sluk. In sy hart was hy eintlik bly dat God hierdie stad, waaronder sy mense deurgeloop het, gaan vernietig.
Tog kies God steeds om te reageer uit genade en nie wat mense verdien nie