Werksyn: Van “ons help” na “ons bou saam”

Werksyn: Van “ons help” na “ons bou saam”

Meer as net hulp

Welsyn verlig nood, en is noodsaaklik. Tog het Solidariteit Helpende Hand in ’n veranderende sosiale en ekonomiese landskap toenemend besef dat welsyn alleen nie genoeg is om mense en gemeenskappe volhoubaar te ondersteun nie.

Welsyn kan ’n mens deur vandag dra, maar dit kan nie op sy eie dieper groei, selfverantwoordelikheid en volhoubare welstand vestig nie. Daarom groei daar hier by Solidariteit Helpende Hand ’n nuwe taal, ’n nuwe ingesteldheid en ’n nuwe praktyk, ’n struktuur van werksyn.

Werksyn is die beweging vanaf “ons gee hulp” na “ons bou saam”. Dit nooi elke persoon, ongeag omstandighede, om nie net ’n ontvanger te wees nie, maar ’n deelnemer. Iemand wat bydra, skep, dien en saam met ander groei. Dit is ’n verskuiwing van afhanklikheid na selfverantwoordelikheid, van ontvang na deelname, en van korttermynverligting na volhoubare welstand.

Die Bybel roep ons juis tot hierdie hartsgesindheid: “In alles wat julle doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.” (Kolossense 3:23).

Werksyn is dus meer as werk. Dit is arbeid met betekenis, diens met doel, en deelname met waardigheid. Dit is meer as selfstandigheid, want dit gebeur nie in isolasie nie, maar in verbondenheid en samewerking. Dit is meer as produktiwiteit, want dit vloei uit diensbaarheid en roeping.

Werksyn as roeping

Dink aan ’n student wat by Solidariteit Helpende Hand se Opleidingsinstituut instap met ’n roepingsgedrewe hart. Sy kom nie met groot woorde of groot planne nie, sy kom met ’n stille moed: “As ek net ’n kans kan kry.”

In die begin is sy onseker, haar hande bewe effens wanneer sy leer hoe om iemand te ondersteun, hoe om met respek te help beweeg en hoe om te luister sonder om te oordeel.

Later ondek sy dat die opleiding in tuisversorging nie net haar vaardighede vorm nie, maar haar selfbeeld. Sy besef haar werk is nie net ’n taak nie,  dit is ’n roeping.

Later sal sy sag getuig: “Ek het gedink ek is net ’n las vir almal. Vandag het ek gevoel ek is ’n antwoord.” In daardie oomblik kry werksyn ’n gesig.

Werksyn wat gemeenskappe versterk

Werksyn by Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut, waar tuisversorgers opgelei word, beteken om mense toe te rus om met roeping, kundigheid en selfverantwoordelikheid ander te dien.

Dit gaan nie bloot oor die aanleer van ’n beroep nie, maar oor die ontwikkeling van mense wat betekenisvol wil werk en lewe, mense wat besef dat hulle deur hul werk en diens bydra tot die welstand van hul medemens en hul gemeenskap.

In hierdie konteks beteken werksyn dat versorgers met selfverantwoordelikheid hul werk aanpak, hulle besef hulle dra by tot iemand anders se herstel, groei en waardigheid.

Dit beteken hulle dien met roeping en toewyding, hulle werk word ’n uitdrukking van ’n innerlike sin vir diensbaarheid. Dit beteken hulle werk in verbondenheid met ander, deel van ’n netwerk van mense wat saam bou aan ’n gesonder, hoopvoller gemeenskap. En dit beteken hulle versterk gemeenskappe deur nie afhanklikheid te bevorder nie, maar trotse diens en werksyn.

’n Nuwe denkrigting vir gemeenskappe

Werksyn leef egter nie net in ’n klaskamer of ’n praktiese lokaal nie, dit leef ook in die manier waarop ’n gemeenskap begin dink oor homself.

Die Welstandsgerigte Gemeenskapsontwikkelingstruktuur waaraan Solidariteit Helpende Hand bou, kom juis uit die besef dat gemeenskappe nie net hulp nodig het nie, hulle het geleenthede nodig om saam te bou.

Werksyn in hierdie struktuur beteken dat ons nie net vra: “Wat het jy nodig?” nie, maar ook, “Wat kan jy doen of bydra?” Wanneer daardie vraag begin verander, verander mense se identiteit. Die “ontvanger” word ’n medeskepper. Die “slagoffer” word ’n deelnemer. Die “toeskouer” word iemand met ’n rol.

Die krag van diensbaarheid

Wanneer ’n gemeenskap werksyn begin beliggaam, sien hulle elke persoon as iemand wat iets het om te gee. Hulle bou eerder saam as om te wag vir hulp. Hulle deel kennis, vaardighede en tyd. Hulle fokus op selfstandigheid, nie afhanklikheid nie. En daarmee saam groei daar trots, selfwaarde en hoop.

Werksyn kan nie bestaan sonder diensbaarheid nie. Diensbaarheid is die ingesteldheid waarmee mense hul tyd, vaardighede, stories en talente gebruik om waarde vir ander te skep.

Dit beteken nie om jouself uit te put nie; dit beteken om met empatie én oortuiging te gee op ’n manier wat ander bemagtig en toerus, en jou self ook laat groei. Dit herinner ons daaraan dat grootheid in God se koninkryk anders lyk.

Waar kultuur begin leef

Solidariteit Helpende Hand se unieke waarde-aanbiedings is die plek waar hierdie kultuur prakties word. By die Opleidingsinstituut word mense gevorm om in diens te leef.

In die Welstandsgerigte Gemeenskapsontwikkelingstruktuur word gemeenskappe genooi om medebouers te word. En wanneer hierdie twee strome saamvloei binne ’n  sterk struktuur begin hulp vermenigvuldig.

Welstand was wat ons gedoen het; werksyn is hoe ons dit doen. “WERK” beteken om te doen; “SYN” is die essensie van bestaan.

As ons dit só verstaan, word werk die essensie van ons bestaan nie omdat ons onsself bewys nie, maar omdat ons ander wil dien met ’n hart propvol roeping.

Ons bou nie vir mense nie, ons bou saam met mense. En soos die Woord beloof, bly ons nie by praat nie, ons word doeners; en soos Galasiërs ons bemoedig: “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie” (Galasiërs 6:9). Werksyn is diens in aksie met waardigheid, betekenis en hoop.

Deel die artikel

Méér artikels

Klein gebare het die vermoë om groot verskille te maak. ’n Eenvoudige aankoop, ’n geskenkte item of ’n daad van hoop kan drome bewaarheid, lewens ...

Toegang tot tersiêre studie bied jongmense die geleentheid om hul drome te verwesenlik, armoede te ontsnap en ’n betekenisvolle bydrae tot die samelewing te lewer. ...

Scroll to Top