Beteken gelukkig-wees dat alles perfek is?

Beteken gelukkig-wees dat alles perfek is?

In my jonger dae was daar dikwels die druk om by rooitapytgesellighede gesien te word. Die gevoel om te móét netwerk en skouers-skuur met die regte mense by die regte plekke om vorentoe in die bedryf te beweeg.

Dis nou nie meer so belangrik nie, want my prioriteite het verander. Die groter prentjie raak al hoe duideliker.

’n Mens leer dat dit beter is om eg te wees aan jouself eerder as om gedurig aan ander se verwagtinge te probeer voldoen.

Dis ’n gegewe: ek gaan nooit ...

In my jonger dae was daar dikwels die druk om by rooitapytgesellighede gesien te word. Die gevoel om te móét netwerk en skouers-skuur met die regte mense by die regte plekke om vorentoe in die bedryf te beweeg.

Dis nou nie meer so belangrik nie, want my prioriteite het verander. Die groter prentjie raak al hoe duideliker.

’n Mens leer dat dit beter is om eg te wees aan jouself eerder as om gedurig aan ander se verwagtinge te probeer voldoen.

Dis ’n gegewe: ek gaan nooit almal tevrede stel nie …

Wat ’n verligting om dit te besef! Ek haat dit byvoorbeeld om hakskoene te dra – dit druk en maak seer en word gewoonlik uitgeskop, doer in die hoek, so gou as wat ek kan.

Daarom is dit lekker om nou meer kieskeurig te wees oor watter uitnodigings aanvaar word en watter nie. Dis ongelooflik bevrydend.

Hierdie hele nuwe lewensfase voel eintlik soos ’n deurbraaktydperk; ’n ontdekking van hoe ek graag die res van my lewe wil leef.

’n Besef dat geluk en sukses toe nie opgesluit lê in roem en rykdom nie, maar in die kleiner, eenvoudiger dinge.

Tyd het kosbaar geword, daarom wil ek mooi besin oor hoe om dit te gebruik …

As ’n mens nie besluit wat belangrik is en wat nie, gaan jy altyd beskikbaar wees en altyd op standby lewe.

Dis hoekom ek fermer oor sekere dinge geraak het. Wanneer ons besluit om weg te gaan met vakansie, is ek nie vir enigiets anders beskikbaar nie. Punt.

Groot oudisies is al prysgegee ter wille hiervan … en hoewel my werk baie lekker en vervullend is, is my huislewe, hartsmense en innerlike vrede belangriker.

Om tyd te koester, beteken ook dat daar nie meer so van die een ding na die ander gejaag word nie.

Daar word doelbewus tyd gemaak om tot stilstand te kom.

’n Gunstelinggewoonte is om in die oggende voor werk te mediteer. Dit is dan nog lekker doodstil, en dit is so asof my lewe meer sin kry as ek daardie stilte inlaat.

Partymaal is die hunkering na materiële goed steeds daar, maar die gehegtheid daaraan raak minder …

Daar is juis ’n sê-ding dat ’n mens baie seer in die lewe kan ervaar as jy te geheg raak aan iets: aan idees, mense, geld of jou werk.

Vandat ek dit in my agterkop ronddra en minder verknog is aan goed, is die teleurstellings, frustrasie en pyn ook beslis minder. Die soeke na goed wat geld nie kan koop nie, het groter geword.

Vir my lê ’n kwaliteitlewe opgesluit in die samesyn van lag en gesels saam met familie en vriende.

Geluk lê ook in die vryheid om net rustig te kan sit op die stoep – ondanks die lagie stof om my – en net die lieflikheid van die oomblik te kan indrink.

Deesdae vra ek myself al hoe meer af: “Hoekom moet dinge altyd so perfek wees?”

Deel die artikel

Méér artikels

MINKI VAN DER WESTHUIZEN se positiewe ingesteldheid is vasgemessel deur ’n paar lesse wat sy vandag met oortuiging leef. Wees positief en sien die goeie ...

Sangeres en TV-aanbieder LEAH is positief, energiek, gewild, talentvol en het altyd ’n breë glimlag. Hoe bly sy positief, gelukkig en koester haar uniekheid? Wat ...

Scroll to Top