Daar is baie dinge wat vir LINDIE STRYDOM vreugde gee, maar ware geluk – het sy ontdek – begin by stil word en om die regte vrae te vra. Sy het geleer: Moenie vaskyk in iemand anders se resep van geluk nie. Vind jou eie, deur elke dag bewustelik te leef.

Dis ’n soel, Kaapse Saterdagoggend en die gedreun van die boor raas buite op die stoep.

Pa en seun is besig om ’n houtbank te bou vir al die lekker familie- en vriendekuiers wat nog in dié ruimte gaan blom.

Vir een kind sal dit dalk soos kinderarbeid voel – “my pa wat my in die werk steek”. Vir ’n ander is dit ’n spesiale tyd van saamwees, -dink en -doen.

Wat ék raaksien, is die diep, betekenisvolle konneksie wat gesmee word.

Iewers, deur die loop van die oggend, maak Hugo ’n opmerking wat my ma-hart laat warm klop met vreugde en tevredenheid.

“Ek en Pappa maak memories,” sê hy, met ’n breë glimlag en stofstreep oor die wang.

Die woorde gee my hoendervel, want hy is reg. Hierdie bank gaan nog vir jare op die stoep staan, en hy sal altyd met trots onthou dis hy en sy pa wat dit saam gebou het.

Tipiese mens-oomblikke. Dís wat my hart laat sing van geluk.

As introvert sukkel ek om lang geselsies aan te knoop oor alledaagse goed soos die weer of wat jy van Saterdag se rugby gedink het.

Maar as ek kon connect met iemand op ’n dieper vlak – my hart oopmaak en ’n klein stukkie weerloosheid wys – maak dit ’n gewone dag, ’n spesiale dag. Mooi en betekenisvol.

Gepraat van geluk … baie mense soek hulle lewe lank na die geheim of resep van vreugdevol leef.

Maar hoeveel van ons knyp nog ’n tydjie af om na binne te kyk en dié vrae te vra: “Is ek gelukkig en wat sal my meer gelukkig maak?”

Skuldgevoel het my vir lank weerhou om hierdie vrae te vra.

Ná soveel jaar se betrokkenheid om ander in nood te help, wonder ’n mens: Is dit nie selfsugtig om ’n werk of loopbaan te wil kies op grond van roeping, passie of voorkeur nie? Daar is dan soveel ander mense wat nie hierdie voorreg het nie.

Die Here se pad lyk anders vir elkeen – ek moes dit aanvaar. En hoe weet ’n mens in elk geval watter vreugde of vervulling iemand in hulle werk of lewe ervaar, selfs al lyk dit heeltemal anders as joune?

Hoe weet ek byvoorbeeld dat die karwag by die winkelsentrum nie ook groot vreugde, trots en purpose beleef in die werk wat hy daagliks doen nie?

Baie vroeg reeds in my lewe, pas uit die skool, het ek ’n belangrike ontdekking in Prediker gemaak.

Hy, wat met soveel erns gesoek het na die sin van die lewe, het tot die slotsom gekom dat in ons dien van die Here, en doen wat ons hande vind om te doen, mag ons dit ook alles geniet.

Ons mág kies, en mág maar geniet wat ons doen. Dis Sy wil!

Dalk is die beginpunt van geluk om bewustelik te leef. Om te gaan besin: Wie is ek en wat maak my gelukkig?

Hoe beter ’n mens jouself leer ken – wat steel en wat gee energie – hoe gouer ook die ontdekking oor wat jou eie, unieke geheim van geluk is.

Dis om die vrae te vra soos: Wat gee my daardie gevoel van lewenskragtigheid en lewenslus? Selfs hierin verskil ons van mekaar. Ek is byvoorbeeld uitbundig en praat met uitroeptekens, maar iemand anders beleef net soveel vreugde, al lyk hulle so kalm soos ’n psalm.

In die huidige seisoen moes ek onlangs weer vra: Wie is Lindie?

Sy is prakties en eenvoudig. Iemand wat elke oggend die berg bewonder en die sonsopkoms waardeer. Wat die eekhorinkies in die tuin raaksien.

Wat haar wekker vir 03:45 stel om haar twee gunstelingdinge te doen: vir ’n uur lank in stilte te skryf en te gesels met die Here, en dan die pad te vat om te gaan draf.

Wat sielsgelukkig voel as ek vir my dogter, Nina, ’n pakkie highlighters by die winkel kan koop, omdat sy so mal is daaroor.

Gits, ek is so eenvoudig dat ek nooit eens my naels laat doen of vir gesigbehandelings gaan nie! Maar dit beteken nie ek oordeel iemand anders wat dit wel doen en vreugde daaruit put nie.

Die punt is: Om by die kern van geluk uit te kom, moet ’n mens moeite doen om jouself te leer ken.

Om onsself en ander die ruimte te gun om in uniekheid te doen en te wees wat ons gelukkig maak.