Lewensafrigter en vuurloop-instrukteur, COBUS ‘THE VIKING’ VISSER, vertel hoe hy sy beperkings oorkom het om sy drome te bewaarheid en te leef sonder spyt.
Wat was jou keerpunt-oomblik waarin jy besluit het om te verander ongeag hemofilie?
Ons het almal ’n oomblik in ons lewe wat alles verander — wat jy in Engels ’n “catalyst moment” noem. ’n Oomblik wat verandering inspireer, of wat iets groots in beweging sit.
Mense vra gereeld: “Waar het jou reis begin?” Vir my het dit begin toe my oudste seuntjie ’n prentjie geteken het.
Toe hy gebore is, kon ek hom nie optel nie. Ek kon hom nie vashou of met hom speel nie. Ek is gebore met hemofilie. As gevolg daarvan was ek vier jaar lank in ’n rolstoel. Ek kon nie my elmboë gebruik nie. Dokters het gesê ek moet my elmboë en enkels laat vervang.
Toe gebeur iets wat my lewe onherroeplik verander het. Ons het ’n tweede kind verwag. Ons oudste seuntjie kom na my toe met ’n prentjie. Op die prent is daar twee kinders — maar daar is ’n kruisie deur die een.
Hy sê vir my: “Pappa, ek wil nie ’n sussie hê nie. Ek wil ’n boetie hê wat saam met my kan speel … want Pappa kan nie.” Toe sê hy iets wat my siel geskeur het: “Pappa is dood vir my.”
Daardie woorde het my in my spore gestop. Ek het die prentjie gebêre. Dit was die katalisator wat my laat besef het: Daar móét meer wees. Ek het begin werk aan myself en my innerlike reis.
Jare later het dieselfde seuntjie weer ’n prentjie geteken. Dié keer was ek daarop — met ’n Superman-logo op my bors. Hy sê toe: “Pappa… ek wil vir jou sê: Pappa lewe.”
Een van die belangrikste dinge wat ek in daardie tyd geleer het, was hoe om regtig ’n drukkie te gee. In Zulu sê ons sawubona – “ek sien jou”.
Jou lewensleuse is “whatever it takes”. Wanneer moes jy self diep delf?
My filosofie van “whatever it takes” het ontstaan toe ek Kilimanjaro uitgeklim het. Ek moes met my krukke klim. Dit het gegaan oor nie opgee nie en deursettingsvermoë, maak nie saak hoe moeilik dit was nie.
Ek onthou die aand van die piek was daar ’n stadium waar ek wou opgee. Die gids kyk vir my en sê: “Cobus, kyk net af. Kan jy jou volgende treë sien?” Ek onthou die belangrikheid van daardie volgende treë. Dit is waar die filosofie van “wat dit ookal verg” vandaan kom.
Dit herinner my dat ek nie met verskonings kan leef nie. Ek kan nie ander blameer nie. Ek moet verantwoordelikheid vat vir my eie treë, want dit is al waaroor ek beheer het.
Hoe kan vuurloop mense help om hulle uitdagings te trotseer en hul eie prestasies te bereik?
Toe ek begin het met vuurloop, was daar ’n vers in die Bybel wat sê: “Wanneer jy deur die vuur gaan, sal dit jou nie skroei nie; die vlam sal jou nie brand nie.”
Ek het gewonder: Hoe werk dit? Ons loop oor vuur wat tussen 400 en 600 grade Celsius warm is!
Aluminium smelt teen 250°C. Volgens mediese navorsing behoort jy teen 150°C derdegraadse brandwonde op te doen. Tog loop ons daardeur sonder brandwonde.
Daardie eerste keer toe ek oor die vuur geloop het, het iets in my gekliek. Ek het besef dat ek baie oortuigings het wat ek nooit bevraagteken het nie.
Ons sê dinge soos: “Die ekonomie is swak”, “ons bly in die verkeerde land”; en “geld groei nie aan bome nie”. Ek het begin dink: Wie het dit besluit? Hoekom glo ek dit blindelings?
Vuurloop het my gehelp om diepgewortelde oortuigings te bevraagteken en my vrese in die oë te kyk. Vrees vir die onbekende. Vrees vir môre. Ek het besef: Vrees is ’n keuse wat by my lê.
Een van die grootste lesse was dat die eerste tree die belangrikste is, maar ook die moeilikste. Wanneer ons daardie eerste tree gee, sê ons: “Ice cold.” Ek sê dit, dink dit, voel dit – en dit word my realiteit.
Woorde het krag. Wat ek uitspreek, vorm my wêreld. Daarom help ek nou ander om oor vuur te loop – fisiek en metafories.
Waar jy jou fokus plaas, daar kan jy groei. Jy moet daardie stemmetjie stilmaak wat fluister: “Jy gaan dit nie maak nie.” Vervang dit met: “Ek kán dit doen. Enige iets is moontlik.”
Is daar ’n oomblik waarna jy terugkyk en dink: “Dit is hoekom ek doen wat ek doen?”
Wanneer ek terugvoering van mense af kry. In ons bedryf gee ons baie van onsself en probeer mense inspireer, maar kry nie altyd terugvoer oor die impak nie.
Tog is daar nou en dan daardie een persoon wat terugkom en sê watter impak my werk op hulle lewe gehad het.
Die grootste impak kom egter van my seuns af. As hulle hoor ek was by ’n aktiwiteit, vra hulle: “Het Pappa hulle iets geleer?”; “het Pappa hulle die drukkie geleer?”; “wat het Pappa hulle vertel?”; en “wat het die mense ervaar?”
Dit is wat my aanspoor. Dit gaan nie net oor die mense daarbuite nie, maar ook oor die impak wat ek op my seuns maak en die manier waarop hulle na my kyk.
Watter lesse hoop jy om aan jou kinders oor te dra oor veerkragtigheid en om sonder spyt te leef?
My seuns is ’n groot deel van my inspirasie. Eendag sit my oudste seun langs my en vra:
“Pappa, wil jy hê ek moet eendag doen wat Pappa doen?”
Ek raak opgewonde en sê: “Ja, my seun, stel jou voor jy kan dit ook doen!”
Toe vra hy: “Maar Pappa, Boetie dan? Moet hy dit ook doen?” Ek antwoord: “Wow, dit sal fantasties wees! Stel jou voor — ’n familie-besigheid! Julle twee inspireer mense saam.”
Toe sê hy: “Is dit oukei as ek my hart volg om te gaan doen wat ek wil doen?” Ek kyk hom in die oë en sê: “Seun, dit is die belangrikste ding van alles — om jou lewe te leef tot in jou volheid. Doen wat jy lief is voor. Volg jou hart.”
Ek sal nooit vergeet toe hy self oor die vuur geloop het nie. Hy het na my toe aangestap, vol emosie, en gesê: “Pappa, kan jy glo ek het oor die vuur geloop?”
Ek het geantwoord: “Ja, my seun, ek het dit gesien! Ek is so trots op jou.”
Vir hom was dit ’n reuse-deurbraak. Nou loop hy weer elke keer as hy die kans kry, want ons sê: “As jy dit kan doen, kan jy enigiets doen.” Ek glo jy móét doen wat dit ook al vat om ’n lewe sonder spyt te leef.
Elke keer wat ons mekaar sien, sê ons: “Kom ons maak herinneringe.” ’n Mens onthou die spesiale oomblikke wat jy saam met jou ouers gedeel het. Sodat, eendag as ek nie meer hier is nie, hulle altyd iets het om aan vas te hou.
Is daar ’n gebeurtenis waar jou kinders jou verras of geïnspireer het op jou reis van selfontdekking en groei?
Ja, ek dink aan ’n paar keer wat my kinders my verras het. Die eerste keer was toe my jongste net ’n bietjie ouer as twee jaar was. Ons staan by ’n vuurloop-spanbou en al die mense loop oor die vuur.
Ek probeer altyd my kinders byhê wanneer ek hierdie aktiwiteite doen. Al die mense het oorgeloop en ek was gereed om die aktiwiteit af te sluit. Toe sien ek my jongste staan voor die vuur. Hy kyk na my en sê: “Pappa, yskoud, yskoud.”
Ek vra: “Wil jy oor die vuur loop?”
My eksvrou vat sy een hand en ’n ander vrou sy ander hand. Ons almal roep “yskoud” en toe loop hy oor die vuur.
Daarna het hy ’n hele paar keer oor die vuur geloop. Dit wys die voorbeeld wat ons as ouers vir ons kinders stel en die impak wat dit op hulle het.
Dit was een van my grootste deurbraak-oomblikke saam met my seuns.
Wat is jou raad aan ander wat met uitdagings leef om beperkings te oorkom en hul drome na te streef?
Daar is verskillende maniere hoe ons drome kan waar word. Dit gebeur nie altyd soos ons dink nie. Ek het altyd gedroom om rugby te speel, maar weens my hemofilie kon ek nooit kontaksport beoefen nie.
Tog het ek op ’n reis van selfontwikkeling gegaan. Ek het geleer van mindset, mindpower en die krag van die brein. Hierdie reis het my gelei tot ’n plek waar my droom, op ’n ander manier, steeds waar geword het.
In 2017 het die rugbyspan Southern Kings in Port Elizabeth my gekontak om hulle te help met mindset en kultuurontwikkeling. Dáár het my droom waar geword.
Ek het nooit self op die veld gespeel nie, maar ek het op ’n ander manier deel geword van die spel. Ek het saam met die spelers aan hulle denke gewerk. Ek was deel van die binnespan en het eerstehands gesien hoe voorbereiding op daardie vlak lyk.
Ek sê altyd: Moet nooit op jou drome opgee nie. Kyk eerder of daar nie ’n ander pad is hoe daardie droom steeds werklikheid kan word nie.
Ek lewe elke dag met pyn. Ek ken nie ’n lewe sonder dit nie. Dit is my realiteit. Maar ek moes leer om daarmee saam te leef en sekere gereedskap byvoeg tot my “gereedskapkissie”.
Gaan vind uit watter nuwe gereedskap jy nodig het om ’n beter lewe te skep. Sodra jy gewoond raak aan hierdie nuwe gereedskap, sien jy die wêreld op ’n nuwe manier.
Nog ’n leuse waarvolgens jy lewe is #LiveWithoutRegrets. Waaroor is jy bly dat jy nie teruggehou het nie?
Die lewe is vol verrassings – en die een plek waar ek regtig nie teruggehou het nie, was toe ek hierdie reis begin het om voor mense te praat.
Ek was nog altyd ’n introvert. Skaam. Ek kon glad nie voor mense praat nie. Ek was daardie nerd wat agter in die klaskamer gesit het. Ek was te bang om kanse te vat, want ek het gevoel ek pas nie in nie.
Toe kom daar ’n geleentheid om voor mense te praat, en ek kon dit eenvoudig nie doen nie. Ek het myself gedwing om uit my gemaksone te klim, om daardie ongemak te trotseer en my mondering aan te vul.
Dis nie maklik nie. My hande het gesweet die eerste keer wat ek moes praat. My senuwees was heeltemal klaar, maar dit was een van die beste besluite van my lewe.
En vandag staan ek op ’n plek waar ek al voor duisende mense gepraat het.
Ek is so dankbaar, want dis wat ek vir my kinders én vir ander mense leer: Moenie wag tot jy 60, 70 of 80 is en terugkyk met spyt nie en sê: “Ek wens ek het meer gedoen.”