Verskillende persoonlikhede onder een dak kan ’n resep vir ’n ramp wees. Tog is daar gesinne wat gelukkig deur die lewe draf. Wat doen hulle anders?
Maak jou huis ‘n gebied van respek en geluk
’n Rolverdeling in die huis met die ouers as hoofbesluitnemers mag dalk oudmodies oorkom, maar as almal presies wat elkeen moet doen, is almal dadelik rustiger.
Deesdae verkies die meeste ouers dat die kinders in die huis ’n sê oor gesinsake het. Daar word na almal geluister en elkeen se gevoelens word in ag geneem.
Daar is niks fout daarmee om jou kinders se belange in gedagte te hou wanneer julle as gesin besluite neem nie.
Wat wel die probleem met hierdie benadering is, is dat ouers soms hulle gesag verloor namate hulle probeer om die kinders gelukkig te hou.
Ouers moet bereid om welwillend, maar ook ferm met hulle leiding te wees.
Dis nie realisties om kinders groot te maak met die verwagting dat almal altyd goedgesind teenoor hulle gaan wees nie. Hulle sal geterg en geboelie word in die gesin, by die huis en later by die werk. Natuurlik wil ons nie ons kinders so weerloos laat word dat hulle by die eerste belediging verkrummel nie.
Dit is waarom ’n billike hoeveelheid onvriendelike gedrag toegelaat word in gesinne, meestal tussen broers en susters, maar ook tussen ouers en kinders. Tog het ’n studie in Nieu-Seeland daarop gedui dat afknouery wat afkomstig is van die mense naaste aan ons die seerste maak.
Hou dit maar in gedagte wanneer julle mekaar allerhande goed toesnou.
Hoe julle met mekaar praat, is een van die belangrikste faktore wat bepaal hoe gelukkig en liefdevol ’n gesin gaan wees.
Dit is die moeite werd om jou huis ’n gebied te maak waarin niemand verkleineer word nie.
Belangstelling en aanvaarding laat almal veiliger en gelukkiger voel
Alle gesinne sukkel met tye om by mekaar uit te kom en regtig tyd saam deur te bring as gevolg van die druk wat tyd, werk en ’n oorvol program kan veroorsaak.
Boonop word kinders ouer en hulle persoonlikhede neem hulle in verskillende rigtings. Dié een hou van drama terwyl die ander ’n sportfanatikus is; dié een is gaande oor komedies terwyl die ander een eerder spanningsverhale lees.
Gelukkige gesinne bou ’n atmosfeer van wedersydse ondersteuning deur ’n doelbewuste keuse te maak om in mekaar belang te stel.
Al dryf jou jongste se viooloefening jou teen die mure uit en verveel jou seun se rugby jou, doen moeite om te vra hoe dit verloop het. Vra uit oor hulle gunsteling Marvel-karakter en luister saam met hulle na die jongste musiek.
Daardie bietjie belangstelling sal wys dat jy omgee.
Maak seker dat jy elke dag ten minste een keer stop en saam dans, ’n speletjie speel of selfs net ’n eenvoudige gesprek met jou kinders en jou man voer. Dit is die oomblikke wat jou gesin se geluk skep.
In ’n gelukkige gesin word mense toegelaat om foute te maak.
Let daarop dat daar ’n fyn grens is tussen jou kinders aanmoedig om hulle beste te doen en ’n vlak van perfeksionisme wat skade berokken wanneer hulle nie aan verwagtings voldoen nie.
Die kragtigste manier om ’n gesonde boodskap oor te dra is hoe ons onsself en ons eggenoot behandel wanneer ons ’n fout gemaak het. Vra jouself die vraag: Vergewe en vergeet ek volkome wanneer een van my gesinslede ’n fout maak?
Kinders sukkel dikwels om aan te beweeg en hulle gedrag te verander wanneer die gevoel van teleurstelling swaar op hulle druk. Dit is egter nie net kinders wat moet weet hulle is oukei voordat hulle kan begin om anders op te tree nie.
Ons almal voel veiliger en gelukkiger wanneer ons weet ons word aanvaar net soos ons is.