Vir die onbekende is ZOË BROWN nie bang nie. Inteendeel, passie, toewyding en selfdissipline help haar om berge te versit. Vir haar is die lewe een groot avontuur. Daar is om elke hoek en draai iets nuuts om te ontdek.
Zoë is ewe behendig met ’n boor as met ’n haartang. Dis amper simbolies van haar lewe as aanbieder op die kassie en radio-omroeper.
Sy het wel altyd ’n kenmerkende glimlag op haar gesig en straal van selfvertroue, maar daar was ’n tyd in haar lewe toe sy nie so selfversekerd was nie. ’n Tyd toe sy by die diep kant ingegooi is en geen ander keuse gehad het as om te swem nie.
As gebore Kapenaar het Zoë gehoor sy en haar gesin gaan Durban toe trek. Die nuus was ’n groot skok, veral omdat sy toe in Engels sou moes skoolgaan. Voorbereidingsklasse moes haar help gewoond raak aan die nuwe taal, maar niks kon haar heeltemal voorberei vir wat gewag het nie.
Skielik was alles anders: Dit was ’n heeltemal nuwe omgewing, ’n vreemde skool, nuwe maats en ’n ander taal. As iemand wat gewoond was om in Afrikaans te sosialiseer, het Zoë onseker en teruggetrokke gelyk. Sy was so stil dat haar onderwyseres selfs haar ouers gekontak het om te hoor wat aangaan.
Eintlik was dit maar net omdat die skaam jong meisie nie genoeg selfvertroue gehad het om haarself in die nuwe taal uit te druk nie. ’n Goeie dosis toewyding, deursettingsvermoë en ’n dapper uitkyk op die situasie het gelukkig gehelp om die beste van die nuwe hoofstuk in haar lewe te maak.
Sy het hard geleer en ekstra Engelse boeke gelees om die taal baas te raak en sommer vinnig hulp gevra as iets onduidelik was. Haar vrees was nie ’n onoorkomelike struikelblok nie, eerder ’n motivering om net nóg harder te werk.
Selfs toe al kon ’n besige program haar nie onderkry nie. Aktiwiteite soos sokker en die skool se musical het haar van soggens vroeg tot laat besig gehou. En dan was dit tyd vir Here se vlerk. Hy is nie gebonde aan tyd of plek nie. Hy is altyd daar wanneer jy Hom nodig het.