Die R’e vir gelukkige kinders

Die R’e vir gelukkige kinders 

Daar is baie opinies oor kinders grootmaak; tog bly sekere basiese dinge belangrik. Gebruik reëls, roetine en rituele vir ’n gelukkige, gehoorsame kind. 

Duidelike reëls gee jou kind stabiliteit en sekerheid 

Tye verander en ouers is nie altyd seker of hulle die regte ouerskapstyl het nie. Moet jy nie maar alles toelaat, net solank jou kind gelukkig is nie? Nee, sekere beginsels sal altyd belangrik bly.

Billike reëls skep grense en gee ’n gevoel van voorspelbaarheid. Dr. James Dobson, Christenskrywer oor gesinsake, sê dat reëls die belangrikste ...

Daar is baie opinies oor kinders grootmaak; tog bly sekere basiese dinge belangrik. Gebruik reëls, roetine en rituele vir ’n gelukkige, gehoorsame kind. 

Duidelike reëls gee jou kind stabiliteit en sekerheid 

Tye verander en ouers is nie altyd seker of hulle die regte ouerskapstyl het nie. Moet jy nie maar alles toelaat, net solank jou kind gelukkig is nie? Nee, sekere beginsels sal altyd belangrik bly.

Billike reëls skep grense en gee ’n gevoel van voorspelbaarheid. Dr. James Dobson, Christenskrywer oor gesinsake, sê dat reëls die belangrikste stap in die hele dissiplinêre proses is. “Kinders moet vooraf weet wat aanvaarbaar is en wat nie, want anders kan jy hulle nie verantwoordelik hou vir verkeerde optrede nie.”

Volgens hom sal dit keer dat kinders te na gekom voel as hulle gestraf word vir oortredings en blapse. “As jy dit nie gedefinieer het nie, mag jy dit nie afdwing nie,” sê hy.

Dis makliker om grense te stel wanneer ouers emosioneel nader aan hulle kinders is. Warmte en geduld moet voorrang kry bo die spare the rod and spoil the child-beginsel.

Kinders se emosionele en fisieke behoeftes verskil wel, maar om konflik te vermy, behoort daar eenvormigheid oor alle basiese reëls te wees.

Dis egter ook belangrik om buigsaam te wees. Dinge soos inkomtye, slaaptye en wie tot wanneer mag TV kyk, behoort die kind se ouderdom en persoonlikheid in ag te neem.

Dis belangrik dat die straf by die oortreding moet pas. Maak doodseker dat almal weet wat die straf is. Reëls behoort op julle gesin se waardestelsel gebaseer te wees – lei dus deur jou voorbeeld. Moenie net straf nie, maar beloon ook goeie gedrag.

’n Vaste roetine gee sekuriteit en ’n ritme aan julle huislike lewe. Jou kinders weet nie net wat om te verwag nie, maar ook wanneer om dit te verwag. Daar is bewys dat kinders wat op spesifieke tye eet, speel en slaap, rustiger is en makliker aanpas by dinge soos kleuterskool, skool en gesinskrisisse.

Roetine en rituele laat kinders veilig en geborge voel

 Hou opstaantyd, slaaptyd en die roetine voor slaaptyd dieselfde. Lees na ete vir jou kind ’n Bybelstorie, of hou saam met die groter kinders Bybelstudie of huisgodsdiens. Daarna kan hulle dan vir ’n rukkie musiek luister of in ’n dagboek skryf tot ligte-uit. Dit vestig die patroon vir rustige aande as hulle ouer word.

Dis alles reg as jou kind soms die roetine verbreek vir spesiale geleenthede of weens onvoorsiene omstandighede. Roetine is soos ’n dieet: Begin net so gou moontlik weer!

In ’n groot gesin is rituele veral belangrik, want dit is die gom wat besige gesinne bymekaarhou. Dit is een van die maklikste maniere om ’n goeie verhouding met jou kinders te bou, want die bekende rituele laat hulle tuis en veilig voel.

Doen-dinge is die sleutel hier, eerder as passiewe aksies soos TV kyk. Stap almal twee keer per week saam om die blok, gaan speel saam minigholf of kegelbal, of gaan drink Saterdae iewers saam koffie.

Maak afsprake met mekaar. Almal mag byvoorbeeld na vieruur op ’n Sondagmiddag hulle eie gang gaan, maar eers is dit kerktyd, etenstyd en kuiertyd as gesin.

Met ouer kinders is dit ’n goeie idee om een maal per maand ’n individuele date te maak. Dan het jy die kans om iets saam met daardie kind te doen wat hom of haar interesseer, maar nie noodwendig die res van die gesin (of vir jou!) nie.

Pas julle gesinsrituele aan soos jou kinders ouer word en gee hulle ook kans om idees te gee. Jy sal verbaas wees oor hoe kreatief hulle kan wees. Dit moet iets wees waarna hulle uitsien, en nie iets wat hulle as ’n verpligting of ’n straf beskou nie.

Wees dapper en verban die TV op sekere aande, of selfs vir ’n week of ’n maand, en kyk hoe goed so ’n “vas” julle gesinslewe doen.

Deel die artikel

Méér artikels

Jy en skuldgevoelens oor jou kinders is dalk al ou vriende. Wees gerus, selfs mense met baie kennis oor kinderopvoeding maak soms ’n blaps. Opvoeding ...

Dis belangrik om jou kinders vroeg-vroeg al takies te gee om te verrig. Só word hulle fluks groot met die idee dat werk normaal is. ...

Scroll to Top