LIZETTE VOLKWYN se passie is om mense te help om hulle volle potensiaal te bereik. Sy voel dit is haar lewensdoel om vir ander hoop te gee.
Help ander mense om hulle volle potensiaal te bereik
Ons woon reeds sedert my kinderjare in Gauteng. Dit is ook hier waar ek en my man ons drie kinders grootgemaak het en ook tans woon.
Ek is mal daaroor om te skilder, gedigte en artikels te skryf en bloot net iets van nuuts af te skep. Nou en dan waag ek dit om iets lekker te bak en om in die winter iets vir myself te brei of te hekel.
Ek wou nie meer wees wie ek was nie. Daar was ’n stadium wat ek amper depressief was omdat ek nie die korporatiewe leer vinnig genoeg kon klim nie.
Een aand, ná ’n opleidingsessie, het ek net besef dat dit tyd was vir ’n verandering. Jou krag lê daarin om jou lewensdoel te ontdek en uit te leef.
Ek het ’n passie vir mense en wil graag waarde toevoeg tot hulle lewens. Net daar het ek besluit om ’n lewensafrigter te word om ander te help om hulle ware self te ontdek om hulle volle potensiaal in die lewe te kan bereik.
Veg altyd vir die verhoudings in jou lewe. ’n Mens is nie altyd op dieselfde plek in jou lewe as jou lewensmaat, kinders of vriende nie en dit bring natuurlik uitdagings mee.
Dit is egter belangrik om aan te hou probeer, al is dit dan nodig om te hergroepeer en aanpassings te maak waar nodig.
Hou aan om aan jou verhoudings te werk en respekteer mekaar altyd. As jy nie bereid is om saam met iemand anders ’n pad te stap en saam te groei nie, gaan jy nie by ’n gelukkige eindpunt uitkom nie.
Die bevrediging om iemand anders te bemoedig
Sonder God kan ek nie wees wie ek is nie. Voordat ek in die oggend opstaan, maak ek seker dat ek vir drie goed dankbaar is wat ek nog nooit voor dankbaar was nie.
Dit forseer my om elke dag te besef hoe goed die Here vir my is. Dankbaarheid hou my geestelike lewe nederig.
As ek dit doen en met Hom praat, nie net op my knieë nie, maar heeldag, maak ek seker dat my geloof en verhouding met die Here sterk bly.
Dit is vir my belangrik om hoop te gee. Die oomblik wat iemand vir my sê dat ek hulle lewe verander het of vir hulle hoop gegee het, voel ek asof ek in my lewensdoel geslaag het.
Daardie bevrediging kan niemand van my wegvat nie. Ek kry elke keer lekker wanneer ek dit hoor.
In my persoonlike lewe probeer ek graag vir mense vir wie ek omgee ’n klip uit die pad rol. Sodra iemand my vra om te help, en ek kan, maak dit my ongelooflik gelukkig.
Moenie die lewe onnodig vir jouself moeilik maak nie. Ons is geneig om vas te klou aan die dinge in die verlede wat ons seergemaak het.
Ek het geleer dat dit belangrik is om nie vasgevang te word in die verlede nie. Leer om dinge wat gebeur te sien vir wat dit is en om dit te laat gaan.
Moenie dat goed wat nie saak maak nie, jou terughou en jou lewensgeluk steel nie. Fokus op wie jy is en wat jy nodig het.