Vir Yolindie Dirker (39), ’n siviele ingenieur en uitgesproke introvert, was haar deelname aan die Nuwe Jy-program aanvanklik ’n reuse sprong. “Ek hou nie daarvan om my hart en siel in die openbaar te deel nie,” erken sy. “Maar ek het geweet dit is tyd vir ’n positiewe verandering. Ek wil die beste weergawe van myself wees – ongeag van wat dit van my vra.”
Sy het reeds ’n aktiewe leefstyl gehad, met vier oefensessies per week, maar het gevoel sy wil haar gesondheid na die volgende vlak neem. Van die eerste dag af het sy besluit om voluit deel te neem, die eetplan presies te volg en nuwe maniere te ontdek om die groente en vrugte op die CSN eetplan interessant voor te berei. “Ek eet nou baie meer verskillende tipes groente as ooit tevore – en ek geniet dit!” sê sy.
Vir ’n introvert was die ontmoeting met nege ander deelnemers ’n mylpaal. “Ek sou hierdie mense nooit op my eie ontmoet het nie. Dit het my laat besef hoe bevoorreg ek is.” Die weeklikse kontak en bemoedigende boodskappe in die groep het haar gefokus gehou, veral op dae wat sy moeg of ongemotiveerd was.
Kom kyk wie wen die NUWE JY 2025!
Daar is 6 finaliste oor… Die wenner van die nuwe jy word aangekondig by ons Nuwe Jy-fees. Kry jou kaartjie nou!
Daar was struikelblokke – siekte, antibiotika, koue weer wat vrugtedae moeiliker gemaak het, en sosiale geleenthede vol versoekings. Tog het sy elke keer ’n manier gevind om aan te pas. By familiebyeenkomste, waar daar skaaptjoppies en vars gebakte brood voorgesit is, het sy net haar voorgeskrewe etes geëet. “Ek het vir myself bewys ek kán deurdruk al dink ander ek is vreemd.”
Haar ma was van dag een af haar grootste motiveerder en het saam met haar die eetplan gevolg, selfs al was sy nie amptelik deel van die program nie. Hierdie gedeelde reis het hulle nader aan mekaar gebring en ’n konstante bron van inspirasie geword. “As ek nie kans kry om kos voor te berei nie, spring sy sommer in. Sy hou my verantwoordbaar.”
Met tyd het sy begin voel hoe haar liggaam verander – haar klere sit losser, kollegas en familie merk dit op, en sy het meer energie en selfvertroue. Die skaal het ’n indrukwekkende 12 kg minder gewys, maar vir Yolindie was die grootste verskil haar gesondheid. “Ek het baie meer energie, ek voel sterk, ek slaap goed – en ek is gelukkig in my eie vel.”
Die geestelike groei het net so diep gegaan soos die fisiese verandering. Sy het geleer om meer dankbaar te wees, meer teenwoordig in die oomblik, en het ʼn nuwe waardering vir die mense wat haar op moeilike dae gedra het. “Ons is ʼn groep dames wat, sonder dat ons dit altyd besef, mekaar deur die week dra en motiveer.”
Sy het ook die kuns bemeester om kreatief te wees met beperkte bestanddele, selfdissipline te handhaaf en haar oefening aan te pas by haar energievlakke. Sy is gereed vir haar volgende marathon!
Vir ander vroue wat nog huiwer om die stap te neem, het sy ’n eenvoudige boodskap: “Jy hoef nie te wag vir die ‘regte tyd’ nie. Elke dag wat jy begin, is ’n dag nader aan die gesonde, gelukkige weergawe van jouself. Klim uit jou gemaksone – jy sal verbaas wees oor wat jy kan bereik.”