Sy ’n legende in die Afrikaanse musiekbedryf met liedjies soos “Dis ’n land”, “Timothy” en “Byeboerwa”. CARIKE KEUZENKAMP gesels oor haar loopbaan, ’n suksesvolle huwelik, en lewensvreugde.
Ná meer as vyftig jaar in die musiekbedryf het jy besluit om af te tree. Wat in jou loopbaan staan vir jou uit?
Ek was lank in die bedryf en het baie hoogtepunte beleef. Elke oomblik in ’n ateljee en voor ’n kamera vir ’n musiekopname was spesiaal.
Onder die min optredes wat ek gehad het, staan Skouspel en my besoek aan Londen saam met Steve Hofmeyr se Toeka-toer uit.
Twintig jaar gelede was Londen nog nie so algemeen nie, en om by die Palladium-teater op te tree was ’n wow-oomblik.
Ek het ook baie musiekvideo’s geskiet wat ek geniet het. Die mees vreugdevolle ervaring was egter die meer as twintig jaar met kindermusiek, wat ons ná my kleinseun se geboorte herleef het.
Die vervaardiging van daardie video’s en DVD’s, en die kinders wat nou sê hoe hulle van “Dapper Muis” of “Heidi” hou, bring groot vreugde.
Hoe het jy die reggekry om jouself so onberispelik in die media te handhaaf?
Ek het vroeg in my huwelik by Olaus geleer om te dink voor ek praat, veral in die openbare oog. Op 19-20-jarige ouderdom moes ek met die pers omgaan. Gelukkig was Olaus daar om raad te gee.
Hy sou sê: “Dink eers oor die saak. As iemand iets wil weet, vra vir ’n oomblik om die stoof af te sit en bel dan terug.” Dit help om nie dadelik te reageer nie.
Ek het geleer dat ’n mens nie oor alles ’n opinie hoef te hê of dit te deel nie. Wees diplomaties; sê dat ’n saak moeilik is en dit moeilik kan wees om kant te kies.
Oor die jare het baie joernaliste vriende geword. By geleenthede is dit lekker om hulle persoonlik te groet. Dan skryf hulle gewoonlik nie negatief nie. Ek besef hulle het ’n storie om te skryf.
In komkommertyd, soos Desember, wanneer niks gebeur nie, help ek graag deur idees soos ’n Kerstafel te deel.
As jy terugkyk oor jou loopbaan, wat is die een ding waaroor jy spyt is?
Ek is dankbaar en oor niks spyt nie. Ek het gedroom daarvan om deel van ’n groep soos ABBA of BZN te wees sodat ek nie alleen op die verhoog hoef te staan nie.
Verhoogwerk was altyd moeilik; ek het nie daarvan gehou nie. Rina Hugo sê gereeld sy het die slegste senuwees, en ek voel ek is kort op haar hakke. Daarom het ek min optredes gedoen.
Ek het my gesin eerste gestel en gedink hoe lekker dit sou wees as die aandag nie net op my val nie, maar ook op ander musikante. Só kon ons saam musiek maak.
Hoe het jy ’n gesonde balans gevind tussen al jou huis- en loopbaanverpligtinge?
As ek terugdink aan my jonger jare, wonder ek hoe ek alles gedoen het. Ek het baie energie gehad, iets wat ek nie nou meer het nie.
Dinge het na my gekom sonder dat ek daarvoor gesoek het. Dit was wonderlike geleenthede, soos om die burgemeestersvrou te wees.
Daardie jaar het ons meer as 300 funksies gehad. Soms het ek drie keer per dag van klere verander terwyl Maryke, ons jongste, nog ’n baba was. Ek onthou hoe ek met ’n ketting om my nek en Maryke op my heup na ouetehuise gegaan het om te sing.
Ek weet nie hoe ek dit gedoen het nie, maar ek glo die krag het van Bo gekom. Dit was interessante tye, genoeg om ’n boek oor te skryf.
Deesdae is daar baie meer tyd vir myself. Olaus is afgetree en ons kan nou saam geniet wat ons voorheen gemis het. Terwyl ander vrouens mag kla oor hulle mans tuis, vind ek dit heerlik.
Ons eet saam middagete, het baie om oor te gesels, en reis gereeld. Ek doen nou net wat ek wil, slaap laat, spandeer tyd aan myself en Olaus, en geniet die lewe.
Jy word deur baie gekenmerk as ’n persoon wat altyd ’n glimlag op jou gesig het, selfs te midde van moeilike omstandighede. Waar kom jou lewensvreugde vandaan?
Lewensvreugde is iets wat ’n mens erf; dit lê in jou gene. My pa het dit tot op sy sterfbed gehad, en selfs toe nog grappe gemaak.
Wanneer ek na my familie kyk, veral my Hollandse familie wat onlangs gekuier het, hoor ek dieselfde gees by hulle. Hulle sien nie probleme nie, net geleenthede en dankbaarheid vir wat hulle het.
As ’n mens in dankbaarheid leef, fokus jy op wat jy het, nie op wat ontbreek of verkeerd geloop het nie. Lewensvreugde kom van binne. Ek is dankbaar vir alles wat ek het.
Toe ek kanker gehad het, het ek nie toegelaat dat dit my onderkry nie. Al was dit moeilik, ek is twee keer daardeur, weet ek daar is vroue wat moeiliker paaie loop.
Ek probeer om hulle moed in te praat, en herinner dat daar altyd iets is om voor dankbaar te wees. Daar is altyd lig aan die einde van die tonnel.
Jy en Olaus is al 65 jaar getroud. Wat is julle resep vir ’n suksesvolle huwelik?
Mense vra dikwels hoe ons so gelukkig getroud bly. Die vraag is nie net om getroud te wees nie, maar om gelukkig getroud te wees, en ek is.
Olaus wat in my lewe gekom het as student, is die beste ding wat nog met my gebeur het. Hy het ongelooflike integriteit en mense het respek vir hom.
Ons vul mekaar aan met ons verskillende persoonlikhede; hy is die rasionele ingenieur en ek die spontane kunstenaar. Dit het ons verhouding versterk.
Ons gedeelde agtergrond is ’n bonus. Ons ma’s is van Europese oorsprong – syne Sweeds, myne Nederlands – en ons het familie in die buiteland. Hierdie gesamentlike kultuur, insluitende hoe feesdae soos Kersfees gevier word, het ’n stewige basis vir ons huwelik gevestig.
Vir ander wat hul huwelik wil verbeter, raai ek aan om jouself in jou maat se skoene te plaas. Dink oor sy dag en hoe hy voel. Kommunikeer oor moeilike dae en probeer verstaan.
Hy is nie stil oor jou nie; miskien sukkel hy met iets anders. Lees weer 1 Korintiërs 13 oor die liefde – dit leer ons om ons eie ek agter te laat en van onsself te gee om liefde terug te kry.
Hoe bly jy so ongelooflik mooi van buite? Deel asseblief jou geheim met ons!
Die gesegde “beauty is in the eye of the beholder” is baie gepas. Mense het deur my lewe op my voorkoms gefokus, hoewel dit nie my volle identiteit is nie.
Op 13 het my ma vir my ’n potjie room gegee vir my vel, aangesien Johannesburg se droë lug my anders sou aantas. Ek vermy ook die son en sonbrand, wat my vel beskerm het. Verder het goeie gene my broer, suster en my gehelp om altyd gesonde velle te hê.
Ek volg ’n algemene skoonheidsroetine: ek maak my gesig soggens en saans skoon en bederf myself elke ses weke met ’n gesigsbehandeling.
Ek vermy drastiese skoonheidsprosedures omdat ek die natuurlike karakter van my gesig wil behou. Ek het as student grimering begin dra omdat ek in die openbare oog was, en grimering het beslis ’n groot verskil gemaak.
Joan Crawford het gesê, “I owe everything to make-up”,” en ek stem saam. Sonder grimering voel ek baie vaal.
Ek is nog nie gereed om geheel en al grys te gaan nie. Ek streef daarna om myself goed te versorg. Ek is nie fanaties oor voorkoms nie; dis nie my alles nie. Ek waardeer wat ek het en is bly as ander dit ook waardeer.