Om ’n gesonde, gebalanseerde selfbeeld te bou

ELOISE CUPIDO – Ontdek die krag van ’n positiewe ingesteldheid 

Aktrise, TV-aanbieder en radio-omroeper ELOISE CUPIDO wil ander help om “hul lig te laat skyn”. Sy is ’n ewige optimis wie daarin glo om hoog te mik. 

Wat was die belangrikste keerpunt in jou lewe tot dusver? 

Ek het nie alles uitge-figure nie. My vriendin, Chereleen, sê altyd ons bou die vliegtuig soos ons vlieg. 

Oor keerpunte in my lewe, ek het baie gehad waar ek moes kies tussen “ja” en “nee”. Soms op ’n gut-gevoel, sonder al die nodige feite.  

Soos toe ek ...

Aktrise, TV-aanbieder en radio-omroeper ELOISE CUPIDO wil ander help om “hul lig te laat skyn”. Sy is ’n ewige optimis wie daarin glo om hoog te mik. 

Wat was die belangrikste keerpunt in jou lewe tot dusver? 

Ek het nie alles uitge-figure nie. My vriendin, Chereleen, sê altyd ons bou die vliegtuig soos ons vlieg. 

Oor keerpunte in my lewe, ek het baie gehad waar ek moes kies tussen “ja” en “nee”. Soms op ’n gut-gevoel, sonder al die nodige feite.  

Soos toe ek as 17-jarige in Montague gebly het en later na Pretoria is om te studeer, hoewel ek niemand daar geken het nie. Onlangs moes ek besluit of ek by werkplekke wil bly wat my nie eer nie. 

In ons bedryf is daar ’n konsep dat jy nie “nee” sê nie uit vrees om kliënte te verloor. Ek het harde werk verrig, maar besef dat tyd saam met my seuntjie, die belangrikste persoon in my lewe, afskeep.  

Eenkeer het sy opmerking oor my werkroetine my diep geraak, en ek het besef geen werk is belangriker as my kind nie. 

Ek wil hê hy moet onthou dat ek daar was vir sy belangrike oomblikke. Ek moes dus besluite neem, fokus op bande met hom smee terwyl hy nog jonk is.  

Hierdie ervarings het my besluitneming beïnvloed, veral omdat ek ’n kind het. Ek is nou meer bewus van wat ek kies. 

Wat het jy in die laaste drie jaar geleer waaroor jy besonder opgewonde is?  

My “ja”-ingesteldheid het my loopbaan verryk, veral met nuwe uitdagings.  

In 2023 het RSG se bestuurspan my genader om die nege- tot twaalfuur-program aan te bied. Ek het onmiddellik “ja” gesê.  

Dit was nie deel van my vyfjaarplan nie, maar ek het die kans aangegryp. 

Die “ja”-ingestelheid het my ook al in die moeilikheid gebring, aangesien ek soms my grense oorskry.  

Ek moes leer hoe om radio-programme te vervaardig en aan te bied, ’n groot sprong van TV af. Radio is intiem en die tegniese aspekte het my uitgedaag omdat ek alles self beheer terwyl ek praat. 

Ek moes leer om my tyd beter te bestuur, en selfs “nee” te sê. Konflik is moeilik vir my, maar ek het besef om dinge aan te spreek wys respek vir myself en is nodig om balans te behou.  

Ek moet kommunikeer, vra vir hulp, en werk delegeer. Mentors speel ’n groot rol in my ontwikkeling, sowel as terugvoer van my span. 

Ek het ontdek dat ek nie altyd hoef te verduidelik wanneer ek “nee” sê nie.  

Hierdie les was moeilik, want ek is ’n people pleaser, maar om sterk grense te stel is noodsaaklik vir my geestes- en fisieke gesondheid. Ek verbeter elke dag, met elke kans. 

Jou seun is nou al amper agt jaar oud. Watter drie kernwaardes wil jy vir hom leer? 

Die rol van ma is die belangrikste in my lewe. Ek het baie in my werk bereik, maar die oomblik toe ek my baba, nou amper agt jaar oud, vashou, het alles vervaag.  

Sy naam is nie op sosiale media nie. Ek hou hom daaruit om sy identiteit te beskerm. 

Ek neem baie foto’s en video’s van hom, wat hy eendag self kan gebruik. My werk is om hom te beskerm teen die wêreld se gevare.  

Ouers het uiteenlopende style – dissipline hoef nie fisiek te wees nie. Ek gee hom ’n stem in besluite, soos keuses oor wat om aan te trek of te eet. Al is hy ’n kieskeurige eter, respekteer ek sy keuses. 

Ons leer hom dinge op die regte name noem, soos sy liggaamsdele, sodat hy duidelik kan kommunikeer as iets verkeerd sou gaan.  

Ons praat volsinne met hom en respekteer sy liggaam, vanaf sy eerste woorde tot nou. Respek vir ander is ook belangrik: Hy moet dankie en asseblief sê en volwassenes beleefd aanspreek. 

Ons fokus ook daarop dat hy nie neerhalend van homself praat nie. As hy sê hy is dom, herinner ons hom aan sy vermoëns en bekwaamheid. Ouerskap is kompleks en uniek; ons leer en groei elke dag saam. 

Watter insident kan jy deel wat ander ma’s ’n bietjie meer “normaal” sal laat voel oor hul eie tekortkominge as ma’s?   

Ek wil nie sê hoe gereeld ek al laat by die nasorg was nie. Dikwels raak ek vasgevang in werk en besef dan my seun is die enigste kind wat nog daar wag.  

Dit is nie ’n lekker gevoel nie, en ek jaag dan om hom te kry. Hy is so vergewensgesind. 

Soms raak ek aan die slaap terwyl ek op my rekenaar werk. As ek dan vroegoggend opstaan om werk klaar te kry, word hy wakker en kla: “Mamma, hoekom het jy sonder my opgestaan?”  

Maar ek het soms te veel werk om te laat oorstaan, en elke dag bring nuwe uitdagings. Hy voel my afwesigheid en kom moedeloos na my toe: “Wanneer kom jy bed toe? Ek verlang na jou.” 

Niks laat jou so klein voel soos wanneer jou kind jou nodig het en jy nog ander verpligtinge het nie. 

En dan is daar die kere wat ek hom laat skool toe vat.  

Dit is dalk nie altyd perfek nie, al maak ek ’n punt daarvan om koekies vir die onderwysers te neem op hul verjaarsdae. Maar uiteindelik help niks daarvan om die situasies heeltemal te verander nie. 

Jou ma is in 2022 oorlede. As jy vandag vir haar ’n boodskap kon gee uit jou hart – wat sal dit wees?  

Ek het hierdie vraag gelees en was verras deur my emosies. Ek was dikwels kwaad vir my ma en gevoel sy wou nie meer leef nie, wat my onbelangrik laat voel het.  

As ek haar nou kon sien, sou ek sê: “Dis oukei. Ek het jou nog nodig. Ek voel steeds beskerm, en ek weet net jy kan by God vir my en my seun intree.” 

Ek onthou toe my motor se gearbox by die huis onklaar geraak het. Ek was verlig, want dit kon in die stad gebeur het. Dit het my laat besef my ma waak steeds oor ons. 

Ek mis haar fisiek, haar drukkies, en haar spesiale kos. Die grootste boodskap wat ek aan haar wil gee, is dankbaarheid.  

Sy het my lewe geskenk, ek was premature, maar sy het alles gedoen om my gesond en sterk te hou. Sy het my geborsvoed tot vyf jaar oud. 

Sy het my die beste gegee wat sy kon. Alles wat ek is, het ek aan haar te danke. As ek haar weer kon sien, sou ek sê: “Dankie, Mammie, vir alles.” 

Watter woorde het jou lewe op ’n besondere wyse gerig of die verloop van jou lewe verander? 

Aan die begin het mense my op TV gesien en, toe hulle my op straat ontmoet, gesê dat ek op TV en in die regte lewe dieselfde is.  

Dit maak my trots, want ek wil nie fake wees nie. Op TV moet ons gestileerd wees, maar ek wil hê mense moet die ware Eloise raakloop, of dit nou in die mall of op straat is. 

Nog iets, terwyl ons aan ’n SABC 2-produksie gewerk het, het ek ’n insig gekry. Die een jaar is ons betaal vir die Kerskonsert, die volgende jaar nie, en baie “sterre” het onttrek. Toe ek by die repetisie aankom, sê die vervaardiger hoe ek sigbaar anders was: “As sy ’ja’ sê, sal sy daar wees.” 

Daardie dag besef ek hoe betroubaarheid waardeer word. Ek gee altyd meer as 110%, want iemand het betaal om my daar te hê, en ek wil dit die moeite werd maak.  

’n Span hang af van my teenwoordigheid en ek probeer altyd werk toegee wat my reputasie staatmaak. 

Deel die artikel

Méér artikels

Lewensafrigter en vuurloop-instrukteur, COBUS ‘THE VIKING’ VISSER, vertel hoe hy sy beperkings oorkom het om sy drome te bewaarheid en te leef sonder spyt. Wat ...

Lisa van Niekerk, oftewel LISA MET DIE ROOI HARE, kyk verskeie werklikheidsreekse sodat ons nie hoef nie. Sy deel haar reis van Afrikaanse realiteit-TV resensies, ...

Scroll to Top