Hoe om God beheer te gee en te vertrou met jou lewe?

Hoe om God beheer te gee en te vertrou met jou lewe? 

Gee God beheer en kyk hoe jou lewe verander! Kenner LYNETTE BEER wil jou aanmoedig om te ontdek hoe vertroue op Hom kan lei na vrede en ’n sterker geloof. 

Hoe geloof ons behoefte aan antwoorde en beheer verander 

’n Mens kan jou byna nie indink wat in Abraham se kop aangegaan het toe hy uit Haran weggetrek het nie.

En dis nie asof hy die vooruitsig van ’n nuwe werk en ’n nuwe blyplek gehad het nie. Hierdie man het getrek omdat die Here hom aangesê ...

Gee God beheer en kyk hoe jou lewe verander! Kenner LYNETTE BEER wil jou aanmoedig om te ontdek hoe vertroue op Hom kan lei na vrede en ’n sterker geloof. 

Hoe geloof ons behoefte aan antwoorde en beheer verander 

’n Mens kan jou byna nie indink wat in Abraham se kop aangegaan het toe hy uit Haran weggetrek het nie.

En dis nie asof hy die vooruitsig van ’n nuwe werk en ’n nuwe blyplek gehad het nie. Hierdie man het getrek omdat die Here hom aangesê het om dit te doen.

In my prentjie klink dit na ’n hoogs onverantwoordelike skuif, sonder enige sekuriteit.

Hy het sy bekende wêreld en sy mense gegroet. Hy het sy vrou, Sara, en sy nefie Lot en hulle huishoudings opgepak. Daarna het hulle koers gekry na ’n landstreek waarvan hulle niks geweet het nie.

’n Mens wonder wat die familie gedink het wat moes agterbly. En hulle kon mekaar nie eens bel of Skype nie.

Sal jy dit vandag kan doen? Net oppak en groet en sonder enige versekering vir jou nuwe blyplek en weiplek gaan soek?

As ’n mens mooi daaraan dink, is dit wat elke jaar gebeur. Ons vaar ’n nuwe lewensjaar in. Ons het geen idee waar ons gaan eindig nie. Ewe min weet ons wat alles langs die pad gaan gebeur.

En wat gebeur intussen? Ons is goed geoefen in bekommernis en sit sommer klaar en verwag die ergste. Ons stres oor ons kinders, ons ouers, ons geld en ons gesondheid.

Want eintlik glo ons meer getrou aan die leuse wat ons self aanmekaargetimmer het: “God sorg vir mense wat vir hulleself sorg”.

Ons beplan die jaar en ons dagboeke. Ons wil Hom tog nie bemoei met ons dag-tot-dag-beplanning nie.

Ons het mos ’n gesonde verstand gekry. Ons kan dinge self uitwerk.

Allermins. Hy wil hê jy moet soos Abraham uitgaan. Trek weg, sonder om te weet waar jy gaan uitkom – in geloof.

Hy werk heeltemal anders. Ons werk met vrae en antwoorde, probleme en oplossings. Ons wil in beheer wees. Ons wil sekerheid hê oor wat volgende gaan gebeur.

Maar jy moet wegtrek van jou eie oortuigings, jou behoefte aan beheer, jou selfversekerde beplanning en daardie alles-weet-houding.

Die enigste sekerheid is dat jou Vader ’n almagtige, liefdevolle Pa is wat weet wat Hy doen, al weet jy nie altyd so mooi nie.

As kind van die Here kan jy nou die toekoms ingaan. Jy kan met ’n geruste hart aanpak wat voorlê. Jou waarborg: Sy genade is vir jou genoeg.

Bou op tradisie en bly werk aan jou eie geloof 

Abraham het in sy tyd sewe altare gebou. Dit sou nie moeilik wees om hom te volg nie. Oral waar hy gegaan het, het die altare opgespring.

Dit was op een van daardie altare waar sy geloof getoets is. Hy was uiteindelik selfs bereid om sy seun uit gehoorsaamheid te offer.

Ons verhouding met God moet ook in die een of ander stadium verby so ’n punt beweeg. Dit kan nie net gaan oor wat Hy vir óns kan beteken nie. Opoffering moet vir ons ’n daaglikse altaar word. Nie slegs aanbidding wanneer dit ons pas nie.

Weet jy wat die kern van opoffering is? Dis wanneer jy besef dat jy nie doen soos jy voel nie, maar doen wat jy nie anders kán nie.

Jy antwoord op liefde wat jou lewe omgekeer het. Dus gee jy tyd en jou lewe tot eer van die Here.

Die tweede geslag van wie ons lees, is dié van Isak. Isak het alles by Abraham geërf.

So, Isak het wat hy gehad het as erfporsie van sy pa ontvang. Hy moes leer om die putte wat sy pa gegrawe het, dieper te grawe.

Ten spyte van alles wat hy geërf het, moes Isak God steeds persoonlik ontmoet.

Die ewige lewe gaan oor ’n persoonlike saak tussen julle. Geen familienaam word daar aangeteken nie, slegs persoonlike name. Dit is jou verantwoordelikheid.

Isak moes ’n belangrike geloofsles leer. Hy moes die waterputte van herlewing wat sy pa, Abraham, agtergelaat het, dieper grawe.

Só het Isak sy pa se putte weer oopgegrawe. Hy het egter ook sy eie putte gegrawe en ’n persoonlike ontmoeting met God gehad.

Dis wat ware herlewing beteken. Jy breek nie weg van die altare van die vorige geslag nie maar bou voort op wat jy geërf het.

Die uitstorting van die Heilige Gees is uit gebed gebore. Mans en vroue het 50 dae lank in die bovertrek bymekaargekom. Dit was nie om te bespiegel of plannetjies te maak nie. Hulle het gebid.

Dus moet die Isak-geslag die putte van Abraham dieper grawe. Dis waar ons daagliks die Here sal ontmoet vir wysheid en insig.

Grawe daardie putte oop, maar grawe ook jou eie. Daardeur laat jy die seën na die nuwe geslag deurvloei.

Bou op jou voorgeslagte se geloof en goeie tradisies. Maar bou ook jou eie, persoonlike, nuwe verhouding met Hom, elke dag.

Leer om nederig te bly ten spyte van sukses en seën

Vir 40 jaar het Moses van sy roeping af probeer vlug. Ál waarmee hy toegerus was, was ’n staf en stofgetrapte sandale.  

Nou ontmoet God hom en vra dat Moses sy skoene uittrek. Waarskynlik sê Hy eintlik Moses moet ophou om van sy roeping af weg te hardloop. Dis sy tyd, sy seisoen, sy uur as gesant.  

Moses was egter te bang en is vol verskonings. God vra wat hy in sy hand het. Hy antwoord, net ’n stok. Eers word hy gevra om dit op die grond te gooi. Skielik verander dit in ’n slang – ’n bonatuurlike verskynsel!  

Toe moet hy dit aan die stert optel. Hy moes sy vrees konfronteer en dit hanteer.  

Om te oorwin, moet jy jou vrees in die oë kyk. Konfronteer daardie dinge waarvan jy weghardloop. Wanneer Moses dit wel doen, verander die slang weer in ’n staf!  

Soms dink ons ons moet perfek, talentvol en briljant wees. Ons dink ons moet supervaardig en hoogs intelligent wees voordat ons iets kan beteken.  

Tog, al wat nodig is, is eenvoud. Die doodgewone jy. Ons moet ons weghardloop-sandale uittrek en eerder na ons roeping toe hardloop.  

Kom ons flits terug. Toe Moses in Egipte teruggekom het, vertel hy vir sy broer Aäron van die wonderwerke. Só kon die twee die wonderwerke vir die Israeliete wys. Toe het die mense geglo dat hulle nie alleen is nie.  

Daarna is die twee broers na die farao toe. Aäron het sy stok neergegooi, en dit het ’n groot slang geword. Maar die farao roep sy “goëlaars” en hulle stokke word ook slange.  

Maar toe gebeur ’n bonatuurlike wonder: Aäron se slang vreet die ander op.  

Dis ’n buitengewone Teenwoordigheid wat die situasie in iets buitengewoons verander. Hy gee daaraan bonatuurlike sukses sodat dit alle teenkanting insluk.  

Die grootste wonderwerk is nie die stok wat skielik in ’n slang verander het nie. Dit gaan daaroor dat die slang weer kon terug verander.  

Die sleutel is dat jy kan terugkeer. Wanneer jy byvoorbeeld buitengewoon geseën word met sukses in jou lewe, hoe hanteer jy dit?  

’n Mens moenie te verwaand raak as jy sukses begin beleef nie. Jy kan al die idees en planne hê. Tog kom die seën en voorspoed slegs deur genade.  

Jy is bonatuurlik geseën. Wat is die mees bonatuurlike ding wat jy kan doen? Jy kan nederig bly en ander dien.  

Staan op vir geregtigheid en wees diensbaar vir ander mense 

In Rigters lees ons van Jabin, die koning van Kanaän. Hy het deur sy magte die Israeliete 20 jaar lank onderdruk. Hulle het in grotte weggekruip en was bang om te boer en te werk.

Maar daar staan ’n vrou op – ’n ma. Debora doen die regte ding. Sy is onder God se bevel. Dus weet sy dat die veldslag volgens Sy plan sal verloop. Haar vertroue laat ook die volk weer vertrou en glo.

Dan vind die veldslag by Kisonspruit plaas. ’n Mens kry sommer hoendervleis wanneer jy dit lees. Daar kom ’n bonatuurlike verwarring onder die vyand. God plant vrees in die hart van selfs die dapper generaal Sisera.

Sisera laat sy magtige ysterstrydwa agter. Hy vlug en dink nie meer helder nie. Hy kan skaars sy “geluk” glo toe hy ’n tent sien.

Die onbekende vrou Jael is die vriendelikheid self. Sy nooi die “vreemdeling” in en gee vir hom ryk bokmelk as hy water vra. Sy versteek hom van die buitewêreld wanneer sy die tentdoek oor die opening laat sak …

Sisera is doodmoeg ná die geveg en die vlug te voet. Hy is emosioneel afgetakel deur die skande van nederlaag en val in ’n diep slaap.

Net daar slaan Jael toe. Sy kap ’n tentpen deur die slapende Sisera se kop. Die magtige generaal sterf in sy slaap.

Die oorlog is gewen, net soos Debora verseker is dit sal gebeur. Die oorwinning was bonatuurlik, maar God het inderdaad vir Sisera in die hande van ’n gewone vrou gegee.

Jy lees dalk hier en dink, “Ek is nie soos Debora nie. Nie almal is soos sy nie”. Tog lees ons ook van die doodgewone vrou, Jael.

Enige mens wat bereid is om gebruik te word, speel ’n rol in die groter plan.

Jy is ook ’n gedugte regter wanneer jy regverdig optree, al kos dit soms jou gewildheid. ’n Gesogte profeet wanneer jy God se stem hoor en nie bang is om te praat nie. ’n Bobaasrigter wanneer jy ander sonder voorwaardes dien.

Jy kan met blydskap en vrede in jou hart elke dag diensbaar wees. Natuurlik gaan jy in moeilike situasies beland waarvoor daar skynbaar nie antwoorde is nie. Weet dan dat Iemand die stryd namens jou stry – soos by Kisonspruit.

Al lyk elkedagse probleme te groot, jy het werk om te doen. Kom net na vore. Staan op vir dít wat Hy van jou verwag. Bly dien. Vertrou. En hoop.

Deel die artikel

Méér artikels

Dis maklik om in swak gewoontes vas te val. Deur meer bewustelik te leef, ontdek jy wat jou motiveer én terughou sodat jy beter keuses ...

Gelukkig is ouderdom net ’n getal en is vyftig die nuwe dertig. Ons help jou om jou kop reg te hou sodat jy positief oud ...

Scroll to Top