Die Woord dring deur jou besige doenlysies en jou godsdienstige skuldgevoel. Maar eers moet jou hart se gesindheid reg wees sodat jy kan luister na die Gees, sê kognitiewe gedragsterapeut GERDI VAN DEN BERG.
Marita is altyd haastig, maar steeds vol geselsies as ek haar raakloop.
Sy gee vinnig ’n opsomming van hoe dit gaan. Wanneer ek wegstap, is ek op die hoogte van haar daaglikse wel en wee.
Hierdie vriendin is altyd op haar doenlysie gefokus. Haar lysie is soos die weduwee se kruik: dit hou net aan. Haar daaglikse gejaag ook.
Die ingesteldheid waarmee jy jou Bybel lees is belangrik
Op Marita se lys is darem ook om Bybel te lees. Vir 15 minute, net ná sy die kinders by die skool afgelaai het en voor sy by Bybelstudie of ander verpligtinge moet wees. Sy volg ’n Bybel-leesprogram wat dit maklik maak om sonder tydmors dadelik aan die lees te kom.
Sy luister na aanbiddingsmusiek, as sy kan, want dit voed darem ook haar gees terwyl sy werskaf en rondry.
Ek en jy ken heelwat Marita’s. Ons kan met haar identifiseer. Sy probeer haar bes om so skuldvry moontlik te leef. Haar maatstaf is haar doenlysie. Hoe meer blokkies sy kan afmerk, hoe groter kans het sy om tevrede haar dag af te sluit.
Sulke pogings lei meestal tot frustrasie. Jou oë en ore bly op klaarmaak gefokus. ’n Mens bind en kommunikeer deur jou sintuie met jou omgewing. Sensoriese data word deur jou hele menswees verwerk.
Hoe jy dit interpreteer, speel ’n kritiese rol in hoe jy die lewe hanteer. Sekere inligting word gretig na binne genooi. Dit kry dieper toegang vir groter impak, terwyl ander net van notisie geneem word.
Jou oortuigings affekteer jou waarheid en persoonlike filter
Jou oortuigings is jóú waarheid. Dit vorm die filter wat sommige dinge wat jy lees en hoor voorrang laat geniet om deel van jou binnestorie te word.
Daar is ’n manier om seker te maak dat wat jy lees en waarna jy luister wel tot jou kern-menswees kán binnedring en jou oortuigings kan bevestig of herskryf.
Die sleutel wat die dieper verwerkingshekke oop- óf toesluit is jou gesindheid. Die ingesteldheid waarmee jy jou ore en oë beskikbaar stel vir wat om jou aangaan …
Marita glo sy het die afmerk van haar lys nodig om beter oor haarself te voel. Sy voel haar kwalifikasie as ’n goeie kind van die Here, of as ma, vrou of vriendin, hang hiervan af. Dit is die gesindheid waarmee sy haar Bybel lees.
Jou gesindheid draai jou fisieke sintuie, en veral jou hart, in ’n spesifieke rigting. Dit skep spasie vir inligting wat soos saad in die grond moet val.
Jou hart se gesindheid nooi Sy Woord na binne
Maar dan lê daar ’n belangrike proses voor: Jesus vertel die verhaal van die saaier. Van die vier plekke waar saad kan beland, bied net die goeie grond die saad ’n groei-geleentheid op lang termyn.
Jou hart se gesindheid nooi Sy Woord na binne en berei jou hart se grond voor sodat Woord-saad kán ontkiem en mettertyd vrug kan dra.
Marita se Skepper-God bemin haar met ’n onvoorwaardelike liefde. Hy gee nie om oor die merkies op haar lys nie, Hy verlang na háár. Sy hart is na haar gedraai; om ingenooi te word en by haar hart se feestafel aan te sit. So ’n verhouding is ’n ewige vriendskap.
Hy hunker na haar honger. Wanneer jou hart honger na die Waarheid, is goeie grond gereed vir Sy Woord-saad. Dan word die heerlike vrug, wat tot voordeel van almal om jou strek, ryp met ewigheidswaarde.
’n Honger om Hom beter te leer ken, is die gesindheid wat maak dat jy die saad sal oppas. Want die vrug kom net met vashou, koester en ’n heilige ooreenkoms tussen jou en Hom.