… en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. (Romeine 5:4-5)
Toe ek in die grootste modderput van my lewe gelê het en geensins uitkoms kon sien nie, het Romeine 5 altyd in my kop gedraai. Die hoop beskaam nie! Wat is hierdie hoop? Hoop op beter dae? Want dit kon ek regtig nie sien nie. Ek het elke dag die Here gevra om my en my kind te kom haal. Ek wou net doodgaan. Dit was tog die maklikste en beste uitkoms.
Maar dank God, ek het sy Gees in my binneste gehad. Hy het, toe ek nie kon nie, vir my ingetree en gesê: “Moenie opgee nie, Julita; EK IS HOOP! Hoop op MY!” Sjoe, hoe kon ek nie reageer op daardie roepstem in my binneste nie?
En toe begin ek Hoop vertrou en maak Hoop ’n Persoon in my lewe. Ek word dikwels gevra wat is die beste besluit wat ek ooit in my lewe geneem het. Ek kan met vaste sekerheid antwoord dat ek nooit Hoop verloor het nie. Ek het altyd bly glo God het vir my iets beters as om in hierdie wanorde, armoede, swaar- en seerkry te bly leef.
My hoop was op Hom om my daaruit te red en Hy het. Hy het my grootste drome oortref. Waar ek gewens het die dood kan my kom haal, is ek nou so diep dankbaar dat Hy my smeekgebed geïgnoreer het. Ek geniet elke oomblik van my lewe. Dis die grootste geskenk om te kan asemhaal. Ek droom nie eens meer nie; ek LEEF my drome. Van iemand wat nie ’n kar gehad het nie, reis ek nou die aardbol plat. My geheim? Die hoop beskaam nie! Moet nooit ophou hoop nie. Daarin lê jou oorwinning.