Senior mense het die potensiaal om ons gemeenskap vorentoe te help en te verbeter, vertel Gryskrag se INA WILKEN. Saam kan ons die samelewing verbeter.
Hoekom is dit vir jou so belangrik om ’n stem te gee aan diegene wat dalk nie ander geleenthede het nie?
Ek dink dit hang af van hoe jy grootgeword het en wat jy waargeneem het. Ek was baie naby aan my ouma.
My ouers het altyd gehelp waar daar behoefte was. Dit het my geleer om vir diegene sonder ’n stem te praat.
Toe ek in die Verbruikersraad aangestel is, is my droom verwesenlik. Destyds was verbruikersbewustheid nie so prominent nie. Ek was verras dat die raad bestaan het.
Daar het ek gesien wat gedoen kan word. Dit was ’n uitstekende organisasie, maar dit het in 1994 gesluit.
Ek het my toe by die Verbruikersunie aangesluit en tree steeds namens verbruikers op. Ek stel persverklarings op en gesels oor die radio oor hoe om mense te help en bewus te maak van hulle regte.
Die Verbruikerswet van 2011 beskerm ons regte. Maak gebruik daarvan. As die regering nie doen wat hulle moet nie, soos voorsien in skoon water, elektrisiteit, en behuising, laat jou stem hoor.
Een mens kan ’n verskil maak. As almal saam praat, kan ons ons land verbeter.
Hoekom lê mentorskap jou so na aan die hart?
Ons weet waar ons grootouers vandaan kom, maar ek wonder of vandag se kinders dit weet. Ken hulle die geskiedenis van die Voortrekkers?
Ons ouers en grootouers het baie deurgemaak. Ek hoop ons oumas en oupas deel hierdie waardes en stories.
Dit voel asof jongmense nie ouer mense of hulle ouers respekteer nie. Dit is verkeerd. Geloof kan dalk hier ’n rol speel. Godsdiens moet terugkom. Mense moet kerk toe gaan en weet waar hulle vandaan kom.
Mentorskap is belangrik. Kinders moet by hul oupas en oumas leer. Hulle stories is waardevol. Vra vir ouma: “Wat het daar gebeur?”
Ons het ’n monument in Pretoria. Hoeveel mense het al jul kleinkinders soontoe geneem? Dit is fantasties om te sien waar ons Afrikaners vandaan kom. Dit is ’n voorreg om hierdie geskiedenis te ken en te deel.
As die voorsitter van Gryskrag beklemtoon jy gereeld hoe belangrik dit is dat ouer volwassenes aktief bly en hulle wysheid deel. Hoe sien jy dit prakties uitspeel?
Vir my is ouderdom net ’n getal. Sodra mense vroeër op 50 of 55 aftree, is dit ’n groot fout deur werkgewers. Senior mense het baie ervaring.
Dit is belangrik dat senior mense in die samelewing iets doen. Ons kan die land verander. Ons het die tyd, terwyl ons kinders werk.
Moet nie heeldag voor die TV sit nie. Lees goeie boeke, maar beperk dit. Maak ’n verskil deur produktief te wees. Skoffel die sypaadjie of plant groente in jou tuin. In aftree-oorde, vind beskikbare grond en vestig ’n tuin daar. Kry boeke en hou besprekings.
Ons, deur Gryskrag, reël ’n brugbouprojek vir Suid-Afrika. Ons gaan afgetrede mense betrek: advokate, ingenieurs, en meer. Hierdie mense is nodig en kan jou denke verander. Jy gaan nie oud word of voel nie. Ons kan ’n groot verskil maak.
Ek weet dat ons dit saam kan regkry. Senior mense het die potensiaal om ons gemeenskap vorentoe te help en te verbeter.
Jou deelname kan verandering bring. Ons het die kundigheid en tyd om by te dra. Kom ons maak gebruik daarvan om ’n positiewe impak te hê.
Watter rol speel liefdadigheid in die opheffing van individue en gemeenskappe?
Mense wat gee, doen dit uit hul hart. Die Woord van God sê ons moet die minderbevoorregtes en diegene in nood help.
Finbond het byvoorbeeld ’n huis gekoop vir minderbevoorregtes en weeskinders in Pretoria, genaamd die House of Tshwane. Hier is ongeveer 40 kinders wat eenvoudig weggegooi is.
Ons is ook baie betrokke by aftreeoorde. Die regering gee dikwels nie die nodige subsidie nie. Daar is gebrek aan basiese benodigdhede soos doeke.
Die SASSA-toelaag is laag, en hulle het nie geld vir persoonlike higiëne-items nie. Daarom gee ons fondse.
Ek doen ’n beroep op organisasies om na hierdie plekke om te sien. Gee om vir mense. Dit hef hulle op. Dit is ons plig om na ons medemens te omsien, insluitend kinders en seniors.
Senior persone het baie ervaring en ons skuld hulle ondersteuning. As my ouers nog gelewe het, sou ek gesorg het. Ons staan waar ons is, danksy hulle.
Dink aan jou ouers en die mense in aftreeoorde, veral diegene wat nie kinders het nie, of wie se kinders oorsee is. Dit is opheffingswerk.
Dit doen die wat gee goed en bou die ontvanger op tot die nodige standaard. Laat ons daarna streef om die gewer en ontvanger te wees in ons gemeenskap.
Hoe moedig jy mense aan om uit hul gemaksones te beweeg en die geleenthede wat hulle het of kry ten volle te benut?
Ek wil deur my voorbeeld ander inspireer. Almal wat my ken, weet hoe lank ek al betrokke is by wat ek doen. Dis ’n passie, en ek sal nooit ophou nie.
Ek hoop om tot op die laaste dag voort te gaan. My toestand is ’n bewys daarvan. Mense het dikwels net ’n bietjie aanmoediging nodig. As ek dit kan doen, kan ander ook.
Baie mense is soos ek. Ek gebruik myself net as ’n voorbeeld, want ek het vandag die geleentheid om te praat.
Moenie dink jy het niks meer om te doen nie. Moenie moedeloos wees nie. Elke dag bied nuwe kanse. Moenie net tee drink en terugkeer na jou kamer om TV te kyk nie.
Die Woord sê nie ons moet ophou bestaan nie. Vind uit waar jy betrokke kan raak. Ons en ons land het jou nodig. Selfs klein bydraes, soos serpe brei of koekies bak, maak ’n verskil. Deel wat jy gedoen het en hou jou verstand aktief.
Moet nie net stil sit nie, want dit kan lei tot vinniger veroudering. Wys die jonges wat ons kan doen. Ons is in staat om ’n groot impak te maak. Bly aktief en lewendig. Laat jou talente skyn en maak ’n verskil.
Jy het in 2018 jou meestersgraad voltooi. Wat het jou geïnspireer om weer jou studies te hervat?
Dis vir my belangrik om my brein aktief te hou. Ek doen dit deur navorsing in verbruikerswese, wat deel van my honneursvakke was.
Jare later het ek navorsing gedoen oor rooivleis en vrylopende Karoolam. Ek het ontdek dat mense nie eintlik in etikette belangstel nie. Ek wil dalk my D-graad hieroor doen, maar met ’n nuwe fokus.
Ek wil senior mense aanmoedig: Dink aan wat jy kan bereik. As jy baie tyd het en nie weet wat om te doen nie, kry ’n rekenaar. Begin met navorsing, skryf jou in by ’n universiteit.
Fokus op iets waarvoor jy passie het. Begin jou M-graad of D-graad. Dit sal ’n wêreld vir jou oopmaak en ’n bydrae tot die gemeenskap wees.
Jy het waarskynlik meer tyd as jong studente wat moet werk en studeer. Hierdie pad is persoonlik vir my belangrik. Ek sal nooit ophou lees of studeer nie.
Hoekom is dit belangrik dat mense praat oor dit waarin hulle glo, veral in vandag se wêreld wat al hoe meer sekulêr raak?
in die sekulêre lewe waarin ons leef, is dit opvallend dat mense huiwerig is om hulle geloof openlik te verklaar.
Baie mense skram weg van gebed en Skriflesing by vergaderings. Ek doen dit egter orals. Al kry ek kritiek daaroor, steur ek my nie daaraan nie, want my geloof is sterk.
Ek glo in my God en wil hê almal moet hierdie pad loop. As jy jou geloof nie uitleef nie, laat jy ’n leemte. Die Bybel sê as jy God nie erken nie, hoe kan Hy jou erken?
Dit hang van ons af, veral senior mense, om ’n groot verskil te maak. In vergaderings en waar jy ook al gaan, staan op vir wat reg is en wat die Woord ons leer. Dit kan ’n verskil in ons land maak.
Moenie van die waarheid of die Woord wegskram nie. Dit is uiters belangrik.
Watter raad sal jy gee aan iemand wat huiwerig voel om oor hulle geloof en waardes in hulle professionele lewe te praat?
Dit is verstommend dat mense huiwerig is om oor geloof te praat. As ons na ander gelowe kyk, sien ons hulle kry baie tyd op TV om hulle geloof te bespreek.
Waar is ons mense? Waarom dryf ons dit nie by die SAUK om meer tyd te kry nie? Ons moet praat met almal, jonk en oud.
Baie ouers huiwer om geloof aan hulle kinders oor te dra. Hulle dring nie daarop aan dat kinders Sondagskool toe gaan of die Woord bestudeer nie. Dit is noodsaaklik, want uit die Woord leer ons wat om elke dag te doen.
Almal maak foute, selfs ek, maar die Woord is ons riglyn. As jy nie aan die Woord vashou nie, hoe kan jou lewe suksesvol wees?
As jy swaarkry, na wie draai jy? Daar is net Een: God. Hy het ons hier geplaas en sal ons verder lei. Moenie vergeet dat Hy altyd by ons is.