Ja-jy-kan,-Aan-jou-selfbeeld-bou-_result

Ja, jy kan… Aan jou selfbeeld bou

’n Mens kan jou selfbeeld verbeter deur jou selfpraat meer positief te maak en in jouself te glo, sê die kreatiwiteitskenner KOBUS NEETHLING. 

Selfvertroue ontstaan uit jou bewustheid van wie jy is 

Soos jy jouself sien, só sal jy wees. Só sal jy jouself behandel, en ook toelaat dat die wêreld jou behandel.

Onsekerheid veroorsaak dat jy jouself altyd moet bewys en nooit kan ontspan en net jouself wees nie. Ware selfvertroue, aan die ander kant, hoef nooit bewys te word nie.

’n Sterk ...

’n Mens kan jou selfbeeld verbeter deur jou selfpraat meer positief te maak en in jouself te glo, sê die kreatiwiteitskenner KOBUS NEETHLING. 

Selfvertroue ontstaan uit jou bewustheid van wie jy is 

Soos jy jouself sien, só sal jy wees. Só sal jy jouself behandel, en ook toelaat dat die wêreld jou behandel.

Onsekerheid veroorsaak dat jy jouself altyd moet bewys en nooit kan ontspan en net jouself wees nie. Ware selfvertroue, aan die ander kant, hoef nooit bewys te word nie.

’n Sterk selfbeeld word gebou op die fondasie van nederigheid en dankbaarheid, harde werk, respek en die verstaan dat groei ’n proses is.

’n Goeie selfbeeld is nie moontlik as jy arrogant is, nie respek het nie en vol bravade is nie. Ook nie as jy sukses behaal het deur “geluk” soos die Lotto of deur kortpaadjies soos om ander te manipuleer nie. Dit hoef nooit bewys te word nie, dit is ’n aura wat ’n mens dra.

Selfvertroue ontstaan uit jou bewustheid van wie jy is, ’n kennis van waar jy vandaan kom en ’n sekerheid van waarheen jy op pad is. Dit het min uit te waai met jou laaste prestasie, want oorwinning is slegs vir ’n oomblik – dan is ons weer almal gelyk.

’n Boelie kan homself flous deur te dink hy het baie mag omdat ander vir hom bang is. In sy hart is hy egter onseker, want hy weet hy is ’n klug.

Wat jy oor jouself glo, word gevorm deur dit wat jy hoor van die oomblik dat jy gebore word.

Wat mense van jou sê en die manier waarop jou ouers oor jou gepraat het, het ’n sekere spasie gevorm waarbinne jy inpas.

As ons nog jonk is, is hierdie spasie redelik rekbaar en veranderbaar. Namate ons ouer word, word dit egter minder elasties. Dit is geneig om meer rigied en solied te word.

Gebruik selfpraat om jou beeld van jouself te verander 

Die uitdaging is om rekbaar en veranderbaar te bly, dwarsdeur die lewe. Ware kampioene is nooit in ’n vorm gegiet nie – behalwe vir waardes en norme, wat nie onderhandelbaar is nie.

Gaan leer dus by die kampioene. Die karaktereienskappe wat hulle besit, is waarna jy moet streef en moet probeer deel van jou eie mondering maak.

Hierdie eienskappe is dinge soos dissipline, waagmoed, humor, respek, geloof, integriteit en nederigheid.

Dit is natuurlik alles eienskappe wat aangeleer kan word. Dit maak nie saak waar iemand vandaan kom nie. Dit maak nie saak wie jy vandag is nie. As jy regtig wil, kan al hierdie eienskappe bemeester word … en nog meer!

Niemand is te oud om te verander nie.

Kan ’n permanente beeld van jouself verander word? Ja, natuurlik kan dit, maar dit vat nogal werk. Die ou beeld moet op sekere plekke eers gebreek word om ’n nuwe een te bou.

Is jy tevrede met jouself of is daar sekere dinge wat jy graag sal wil verander?

Miskien dink jy dat ander mense eerder moet verander sodat jý suksesvol kan wees. Word wakker! Niks sal verander voordat jy self nie verander nie.

’n Mens moet natuurlik seker wees van waarheen jy op pad is. Om ’n duidelike prentjie van jou beplande lewensdroom te hê, is belangrik.

Hoe moet jou karakter in die toekoms lyk? Sodra jy seker is hiervan, is die volgende stap om hierdie beeld te begin “bou”. Hierdie “bouproses” word in die eerste plek deur woorde gedoen.

Moenie negatief wees nie, wees positief. Onthou die gevolg: Ons word soos ’n magneet vir die een wat ons kies.

Moet jouself nooit verneder of minag nie. Jou ore hoor elke woord wat gesê word en jou liggaam sal voortgaan om daardie woorde as waar te bewys.

Deel die artikel

Méér artikels

Om meer kreatief te kan wees, moet jy jou gedagtes ontvanklik hou vir nuwe en onbekende dinge, sê die kreatiwiteitskenner KOBUS NEETHLING. Dit verg durf ...

Om te wag vir die omstandighede om reg te wees, kan dalk net veroorsaak dat jy nooit eers die geleentheid kry nie, sê MANDI DU ...

Scroll to Top