Jo Black

JO BLACK deel sy hart, emosies en geloof deur sy musiek 

Sanger JO BLACK deel sy hart en geloof deur sy musiek – eerlik, emosioneel en vol hoop. Sy lirieke reflekteer sy reis, waardes en vertroue in God.

Hoe vorm jou lewenservarings die liedjies wat jy skryf?  

Van die begin af kry ek inspirasie uit werklike gebeure. Oomblikke wat ’n impak op my gehad het, is dikwels die onderwerpe waaroor ek skryf. Ek skryf eerstens vir myself. 

Ek is bevoorreg om met baie skrywers saam te werk. Ons skryf liedjies nadat ek die storie aan hulle verduidelik het. ...

Sanger JO BLACK deel sy hart en geloof deur sy musiek – eerlik, emosioneel en vol hoop. Sy lirieke reflekteer sy reis, waardes en vertroue in God.

Hoe vorm jou lewenservarings die liedjies wat jy skryf?  

Van die begin af kry ek inspirasie uit werklike gebeure. Oomblikke wat ’n impak op my gehad het, is dikwels die onderwerpe waaroor ek skryf. Ek skryf eerstens vir myself. 

Ek is bevoorreg om met baie skrywers saam te werk. Ons skryf liedjies nadat ek die storie aan hulle verduidelik het. Dan probeer ons dit gewoon hou. 

My inspirasie kom van verskeie bronne. “Vrede vind” gaan oor my oupa. “Yster slyp yster” is vir my vriende geskryf. “Wonder soms” het ek vir my dogter geskryf. “Bring die hoop weer terug” is geïnspireer deur ’n toespraak wat ek by skole gelewer het. 

As iets my in die oomblik inspireer, skryf ek daaroor. 

Hoe beïnvloed jou sukses jou doel en verantwoordelikheid as kunstenaar?  

Dis ’n taai vraag. My lewe het oornag verander: van onbekend tot waar mense skielik aan my baard wil vat in winkelsentrums. Hierdie soort “roem” is iets wat niemand behoort te ervaar nie. 

Geen mens is gemaak om aanbid te word nie. Tog het mense hierdie idee – as jy eenkeer op TV verskyn, freak hulle uit. Volgens jou ma, as jy op TV is, sê jou hele familie en selfs jou vyande: “O, jy’s nou ’n celebrity.” 

Aan die positiewe kant het bekendheid baie deure vir my oopgemaak. Dit het vir my guns gegee in dorpe waar ek nog nooit was nie. Mense ken my naam op plekke, selfs oorsee, waar ek nog nooit was nie. 

Bekendheid plaas egter ’n vergrootglas op jou. Mense hou daarvan om bekendes teen ’n hoër standaard as hulself te meet.  

Ek moet nou my woorde versigtig kies. Ek moet bewus wees van wie om my is en of my keuses wys is. 

My gevolgtrekking: Roem is nie die beloning vir my sukses nie – dis die prys wat ek daarvoor betaal. Almal wil beroemd wees totdat hulle werklik beroemd word. 

Hoe het jou ervarings met jou oupa jou waardes gevorm het en jou passie vir musiek aangevuur? 

Ek wou nooit ’n musikant word nie. Ek was bloot op die regte tyd, op die regte plek, waar die regte persoon my raakgesien het. Hierdie persoon het vir my ’n geleentheid gegee.  

Ek het selfs vir my vrou gesê dat ek besef ek nog nie my drome nagejaag het nie. Toe sê sy: “Waarvan praat jy? Jy leef jou drome!” 
 

Ek antwoord toe: “Nee, ek pas aan by dit wat die lewe na my gooi.” Voor die musiek het ek in konstruksie probeer sukses behaal. Toe dit nie werk nie, het ek ’n musikant geword. Nou is ek ook ’n skrywer. Ek doen eenvoudig wat my hande vind om te doen. 

As ek vir Oupie moes wys waar ek is en dat ek ’n musikant is, sou hy lag en sê: “Jis, mense val ook vir enigiets.”  

Ek het wel vir Oupie gesing, maar daar was nie werklik talent of ondersteuning om alles op te gee vir sang nie. 

Oupie was ’n besondere man. In sy kombuis was daar ’n groot slagspreuk: “Walk with kings but never lose your common touch.” 

Ek het altyd gedink Oupie was arm, maar later uitgevind hy het ’n goeie pensioen gehad. Hy was hoog op in die polisie. Sy hart was egter om te gee. Ons was eintlik arm, maar almal om ons het goed gedoen danksy hom. 

Sy lewensverhaal en menswees het my geïnspireer. As ek enigiemand kon wees, wou ek soos Oupie wees. Hy was dalk ’n pyn in die gat, maar hy was ’n lekker ou. 

Kan jy ’n oomblik deel wat jy die belangrikheid van jou vrou se liefde besef het? 

My gesig is op plakkate in dorpe waar ek optree. Ek was al op TV, my musiek speel op die radio, mense dra my hemde en wil foto’s saam met my neem. 

Wat hulle nie besef nie, is dat ek nie die held van my eie verhaal is nie. Dit is nie ’n eenmanvertoning nie. Jo is nie ’n “self-made man” nie. Agter elke opname is daar ongeveer 20 mense wat saam met my werk, insluitend my vrou. 

Wanneer ek op toer is – soos nou na Namibië – klink dit soos ’n vakansie. Maar terwyl ek weg is, sorg my vrou dat die kinders kos het en die ligte brand.  

As die jongste een siek is, is sy die dokter. Wanneer ek moeg is, dra sy die las. As ek lui raak, skop sy my onder my gat. 

Mense besef nie dat dié wat ons tuis los, eintlik sê: “Gaan doen wat jy moet doen.”  

Hulle ontvang nie die applous nie. Min mense weet wat my vrou se naam is – hulle noem haar “Jo se vrou”.  

Om so diep in die skaduwees te wees, maar steeds my grootste aanhanger te bly… 

Ek moet sê, my vrou hou nogal baie van my, en dit is nie maklik om van my te hou nie. Maar sy – jis, sy hou dalk té veel van my. 

Is daar dalk ʼn spesifieke oomblik waar jy God se leiding op ’n besondere wyse ervaar het?  

Geloof is ’n persoonlike saak. Hoe meer ek sien hoe ander mense dit uitleef, hoe meer voel ek soms my eie geloof skiet tekort.  

Ek is nie naastenby op dieselfde vlak as diegene wat ons etiketteer as “groot Christene” of “kinders van die Here” nie. 

Hierdie vergelyking het my altyd gepla, want ek weet ek skiet ver tekort. Ek is maar net ’n gewone ou van Pretoria-Noord wat eers op 25 die Here werklik ontmoet het.  

Tog was ek bevoorreg om Hom op so ’n manier te ontmoet dat ek besef het: Dit is oukei om nie oukei te wees nie. Ek hoef nie die perfekte voorsanger in die kerk te wees nie. 

Daar’s ’n gesegde dat jy jou rus in die Here moet vind. Dit is waar ek die meeste genade ervaar het.  

Wanneer dinge te veel raak en ek wonder hoekom ek dit doen, ervaar ek daardie rustigheid dat daar ’n groter prentjie is. 

My hoofdoel is nie om aktief mense te probeer bekeer nie, maar om hulle te laat begin vra: “As Hy dit vir Jo kon doen, kan Hy dit dalk vir jou ook doen?” 

Geloof speel ’n onderliggende rol in alles wat ons doen, selfs wanneer ons nie voel soos “groot Christene” nie. 

Watter kwessies is vir jou kommerwekkend onder die jeug van vandag? 

Kinders ervaar vandag geweldige druk. Of dit nou afknouery, diskriminasie of akademiese uitdagings is – daar is soveel kwessies wat hulle raak.  

Sommige kinders voel selfs die druk van wie hulle ouers is, of nie is nie. 

My dogters is 12 en 15 jaar oud. Ek kan hulle nie met enige van hulle vakke help nie. Ek is ’n musikant – so as hulle my oor sin, cos en tan uitvra, kan ek dit nie eens onthou nie! 

My grootste bekommernis is die hoë syfer van tienerselfdood. Dit was iets wat ons nie regtig geken het toe ons jonger was nie.  

Nou sien tieners hierdie gedrag orals op TikTok, en vir sommige voel dit soos die uitweg wanneer dinge te moeilik raak. 

Ek hoop my dogters se selfbeeld sal gevestig wees in wat ék van hulle dink – nie wat ander van hulle sê nie. Hulle pa is hulle eerste liefde, en ek is lief vir hulle net soos hulle is. 

Ek is geseënd dat my dogters akademies goed vaar, anders as ek op skool. Ek sê soms vir hulle: “Druip asseblief net één toets, net om te wys jy is menslik.”  

Ek wil hê hulle moet verstaan dat niks wat hulle doen my kan beïndruk of teleurstel nie. As hulle dit snap, oorkom hulle die vrees vir mislukking. 

Ouers moet hulle kinders laat weet: “Jy is wie jy is, en ek is lief vir jou net soos jy is. Niks wat jy doen, kan my liefde vir jou verander nie.” 

Hoe wil jy graag hê moet jou kinders jou eendag onthou? 

Dit gaan oor wat jou nalatenskap is. Ek het aanvanklik gedink: As ek skielik sou sterf en iemand ontmoet oor 20 jaar een van my dogters, wat sou hulle sê? Die woorde wat volg nadat hulle vra “Is jy Jo Black se kind?” – dít is my nalatenskap. 

As iemand sê: “Jou pa het ’n mooi baard gehad”, het ek die pot gemis. As hulle sê: “Hy het mooi liedjies geskryf” of “hy het mooi gesing”, mis ek steeds die punt. Maar as hulle praat oor my liefde vir my vrou en kinders, of my liefde vir my medemens – dít is ware nalatenskap. 

Toe sien ek iets wat Mike Tyson gesê het: As jy ’n nalatenskap wil hê, moet jy besef dat “nalatenskap” net ’n mooi woord vir “ego” is. Ek wil onthou word vir my goeie dade? Dis onsin. Ek gaan langer dood wees as wat ek ooit lewendig was. 

My werklike nalatenskap lê in hoe my kinders leef en hoe die mense om my leef. As ek daartoe kon bydra, kan ek in vrede sterf, wetende dat ek die wêreld ’n bietjie beter agterlaat as wat ek dit gevind het. 

Deel die artikel

Méér artikels

Sy skitter in die kollig, maar SASHA–LEE DAVIDS is in haar wese eintlik skaam en teruggetrokke. Sy moes leer om vrede te maak met wie ...

Klein, slim en bekkig. Dís hoe mense vir ELOISE CUPIDO leer ken het. Sy is ’n voorbeeld van hoe om met selfvertroue vol en uitbundig ...

Scroll to Top