Heleen Janse van Vuuren (61) ’n besige direkteur én lektor in Rekeningkunde by NWU, se dae was nog altyd vol eise, stres en uitdagings. Die nommer op die skaal het jaar na jaar stadig gestyg . “Ek het te lank verskonings gehad,” erken sy. “Maar hierdie keer was my ingesteldheid reg. Ek wou goed voel in my lyf én in my klere – en ek moes eenvoudig met oorgawe werk daaraan!””
Die eerste weke was uitdagend, maar ook hoopvol. Heleen onthou hoe Dr. Catherine hulle gemotiveer het: “Sy het dit baie duidelik gemaak dat ons verantwoordelikheid moet vat vir ons besluite. Ons kan niks aan gister verander nie, en more is onseker – ons moet vandag die regte dinge doen.” Hierdie woorde het vasgesteek, en Heleen het besluit: dié reis is vir haar gesondheid, binne en buite.
Die resultate het gou begin wys. Na net een week was sy 3 kg ligter, en saam met die gewig het die pyn in haar gewrigte verdwyn. “Ek het geglo ek het artritis soos my ma, maar ek besef nou dit was die suiker en verkeerde eetgewoontes wat inflammasie veroorsaak het. Dis weg – heeltemal weg!”
Kom kyk wie wen die NUWE JY 2025!
Daar is 6 finaliste oor… Die wenner van die nuwe jy word aangekondig by ons Nuwe Jy-fees. Kry jou kaartjie nou!
Die CSN-eetplan en Nuwe Jy program het haar geleer om gesonde keuses te maak, selfs in moeilike situasies soos wanneer sy tydens konferensies hotel-kos moes eet en op koue winterdae wanneer almal rondom haar warm bredies en trooskos eet. Selfdissipline en beplanning het haar geheime wapen geword. “Ek het by die Outdoor Expo verby die fudge- en pannekoekstalletjies geloop sonder om eers lus te word. Ek bly gefokus op wat ek wil bereik.”
Die emosionele mylpale was net so groot soos die fisiese. Een van haar grootste oorwinnings? “Ek is vir die eerste keer in BAIE jare onder 80 kg. Al is dit net 79.8 kg, dit voel of ’n groot las van my skouers af is. Ek hoef nie meer agter almal weg te kruip as daar foto’s geneem word nie.”
Elke week het haar selfvertroue gegroei. Sy het nuwe energie gekry, haar stapdoelwitte bereik, en begin dink oor die langbroek in haar kas wat as finale toets sou dien. Die Nuwe Jy het vir haar meer geword as net ’n gewigsverliesplan – dit het ’n leefstyl en ’n nuwe manier van dink geword.
Teen week sewe het sy reeds 12.8 kg verloor. “God is groot, want net Hy kan vir my die krag gee om aan te hou en vas te byt. Dit is nie ’n korttermyn-projek nie – dis ʼn permanente leefstylverandering.”
En toe kom die oomblik waar sy op die skaal staan en sien sy is 19 kg ligter. Haar woorde som dit perfek op: “Julle verstaan nie wat dit vir my beteken nie. Ek voel ongelooflik, fisies sowel as geestelik. Die ou Heleen wat ’n hele stuk kaaskoek sou op-eet, is weg. Ek het geleer dat ek sterker is as my cravings.”
Vandag is Heleen se verhaal ’n inspirasie vir elke vrou wat glo dis te laat om oor te begin. Sy het bewys dat met die regte ingesteldheid, ’n duidelike plan, en die moed om elke dag die regte keuses te maak, ’n Nuwe Jy moontlik is – ongeag jou ouderdom.