Rachelle Fourie

Jy alleen kan jou EIEWAARDE versterk 

RACHELLE FOURIE het met die realiteitsprogram Op my eish! baie vinnig in kykers se harte ingekruip. Sy word beskryf as Suid-Afrika se gewildste, toekomstige skoondogter.  

Wat is die grootste les wat jy geleer het uit jou deelname aan die program? 

Een van die groot lesse wat ek by Op my eish geleer het, is dat jy regtig nie jouself met ander mense kan vergelyk nie. Die valstrik van vergelyking laat jou klein voel.  

Ek onthou die heel eerste dag wat ek daar aangekom het, moes ons modelwerk doen ...

RACHELLE FOURIE het met die realiteitsprogram Op my eish! baie vinnig in kykers se harte ingekruip. Sy word beskryf as Suid-Afrika se gewildste, toekomstige skoondogter.  

Wat is die grootste les wat jy geleer het uit jou deelname aan die program? 

Een van die groot lesse wat ek by Op my eish geleer het, is dat jy regtig nie jouself met ander mense kan vergelyk nie. Die valstrik van vergelyking laat jou klein voel.  

Ek onthou die heel eerste dag wat ek daar aangekom het, moes ons modelwerk doen en deur wierook loop. Ek het probeer en probeer, maar dit het nie goed uitgewerk nie. 

Dit het my uiteindelik begin onderkry en die kameraspan het gesê ek moet net teen die boom staan, hulle sal om my werk. Ek het so klein gevoel en daai aand het ek gehuil.  

My skoonheid lê in my hart, nie in modelwerk nie. Die stilis het gesê: “Rachelle, as jou skoonheid in jou lê, laat dit uitkom en bou jou selfvertroue daarop.” 

Van toe af het ek geglo in wat binne my is, dat Jesus binne my is en dat ek dit moet uitstraal. Wees altyd net jouself. 

Jy moes ook verwerping hanteer toe jy nie as Brendan Peyper se nommer een  gekies is nie …  
Hoe het jy dit verwerk? 

Ek dink wat dit maklik gemaak het, is dat ek die aand voor Brendan sy keuse moes maak, tyd saam met die Here spandeer het.

Ek het vir die Here gesê mag Sy wil geskied, en ek is tevrede met wat ookal die uitkoms is.

Eerlikwaar, ek het self gewonder of Brendan dalk myne is of nie. Net soveel soos hy ’n keuse gehad het, het elke meisie op die show ook ’n keuse gehad. Ek was kalm in my hart.

Voor die tyd het ek besluit wat ookal die plan van die Here is, ek gaan tevrede wees daarmee en dit gaan presies wees wat die Here wou gehad het.

Ek dink om net alles oor te gee aan die Here en ten volle oor te gee, maak dinge makliker.

Verwerping en moeilike tye is makliker as jy steeds glo God is goed en Sy wil sal geskied. Dit het my gehelp om vooraf te weet in wie ek is.

Rachelle, jy en jou ouma nou ’n hegte band. Wat het julle twee nader aan mekaar gebring? 

Ek en my ouma was nie altyd na aan mekaar nie. Dit was meer ek en my oupa, en my broer en my ouma het goed oor die weg gekom.

Ons het nader aan mekaar gekom ná my ouma deur drie mans met ’n hammer aangeval is. Ek was 12 jaar oud. Sy is ’n lewende wonderwerk.

Die dokters het gesê dat sy medies gesproke nie lewendig daar moes uitstap nie. Daarna het ek ’n pad gestap om my ouma beter te leer ken en nader aan haar en die Here te groei. Ons verhouding het net sterker geword.

Partykeer kies ’n mens om verhouding met iemand te bou en dit is hartseer dat iets moet gebeur voor ’n mens daardie verhouding kies.

Op pad hospitaal toe het ek net gebid. In die hospitaal wou ek nie huil nie, ek wou sterk wees vir my ouma.

Ek onthou sy het gevra of ek by haar kan sit en sy het my hand vasgehou. Sy wou net nie my hand los nie.

Ek dink sy het die Here aangevoel in daardie oomblik en daarom wou sy my hand vashou. Ons was nie so geheg nie, so dit was vir my vreemd. Maar sy het comfort by my gekry en ek het gebid vir die Here se teenwoordigheid.

Toe het ek agtergekom, ek wil verantwoordelik voel vir my ouma, ’n pad saam met haar stap, haar liefhê en ’n beter verhouding bou.

Jou ouma en oupa ook ’n pragtige liefdesverhaal wat al oor jare strek. Wat leer jy by hulle oor ware liefde?

My ouma en oupa se verhouding het my geleer om nie vir minder te settle nie. Die huwelik werk wanneer die man liewer vir sy vrou is.

My oupa is ongelooflik lief vir my ouma. Hy was nie altyd ’n maklike man nie, maar ná my ouma se aanval het sy hart versag.

Hulle het altyd mekaar in die verhouding gekies, maak nie saak waardeur hulle gegaan het of wat hulle gehad het nie. Hulle kon nie iets verkeerd in mekaar se oë doen nie.

Hulle het baklei en vasgesit soos enige normale verhouding, maar hulle het altyd deur dit gewerk. Hulle was 50 jaar getroud.

My oupa is onlangs oorlede, maar hulle was steeds lief vir mekaar en daar vir mekaar tot die einde toe.

Ek dink almal soek iemand wat hulle kies en bly kies, met hul swak- en goeie punte, en altyd in die ander persoon glo.

Die manier hoe my oupa gespog het oor my ouma is een van die mooiste dinge. Hy het altyd gesê, as sy in die vertrek inkom met haar kreukeltjies op haar gesig of hande: “Kyk, hier kom my mooi vrou.”

Ek het altyd opgekyk in bewondering oor hoe gek my oupa oor my ouma was.

Hulle het die standaard van wat liefde vir my beteken baie hoog gestel. Hulle het vir my gewys hoe om lief te hê soos die Bybel sê.

Op 23-jarige ouderdom moes jy ’n hartoperasie ondergaan. Wat het eerste deur jou kop gegaan toe jy hoor hiervan? 

Die eerste gedagte wat by my opgekom het, was dat ek nie nou tyd hiervoor het nie. Ek het verantwoordelik gevoel vir my kinders en die skoolwerk, dinge wat gedoen moet word en wat ek nog wil doen.

In daardie tyd het ek nader aan die Here beweeg. Toe ek vir my hartoperasie gegaan het, het dit gevoel of die Here my roep tot volle herstel, dat Hy ’n fisieke werk in my wil doen en die seer van die verlede wil kom herstel.

Dit was vir my baie mooi hoe Hy my wil gebruik om ander mense nader aan Hom te bring en te herstel.

Ek het baie in daardie tyd geleer en baie emosies hanteer. Dit was vir my skrikwekkend, maar ek het vasgehou aan wat die Here wil doen, dat Hy my wil herstel.

Ek wou Hom toelaat om Sy werk te doen. Ná my hartoperasie het ek regtig verandering gevoel en baie meer beskermend oor my hart gevoel.

Die herstel ná ’n hartoperasie is ook nie maklik of vinnig nie. Jy het deur donker tye ook gegaan.   

Een van die moeilikste dinge ná die hartoperasie was die alleenheid en eensaamheid. Vir iemand wat gewoond was om alles self te doen en nie op ander mense staat te maak nie, was dit moeilik.

Ek kon nie oefen sonder om amper om te kap nie, ek kon nie asem kry of myself ophelp of bad nie. Dit was moeilik om oor te gee en mense toe te laat om vir my goed te wees, want ek was gewoond om dit vir ander te wees.

Ek het deur ’n dip gegaan waar ek geïsoleer gevoel het, maar uiteindelik besef niemand gaan my uit hierdie gat kry behalwe ek nie.

Ek het gekies om op te staan en saam met my biokinetikus hard te werk. Ek het doelgerig begin oefen, want ek wou aan die einde van die jaar Indië toe gaan op ’n uitreik en dit het my gemotiveer.

Ek het doelgerig onthou hoekom ek deur die hartoperasie moes gaan en wat ek het om te bied. Dit het my sterker gemaak in die proses.

Jy het ’n tatoeëermerk met die woord ’Restore’ op jou arm. Wat verteenwoordig dit? 

Ek was by ’n onderwysersoggend waar die spreker gevra het wat is jou eienaardige woord wat jou doel gee, jou opgewonde maak en jou dryf. Ek het daardie tyd gedink dit is ’n ander woord.

Op pad van Potchefstroom af Rustenburg toe, het ek en die Here lekker gestoei oor my eienaardige woord en toe kom die woord “restore” op. Dit was ’n jaar voor my hartoperasie en ek voel die Here het dit vir my gewys.

As jy kyk na die Evangelie en wat Jesus vir ons gedoen het toe Hy aan die kruis gesterf het, is om verhoudings met Christus te herstel, vir my so mooi. My hart is om almal weer in verhouding met die Here te bring en in Sy skoonheid en eenheid te leef.

Die woord dra baie betekenis en elke keer wanneer ek voel ek het dalk nie ’n doel nie of ek het nie ’n plan vir my lewe nie, kyk ek af na my arm en onthou: Rachelle, you are called to do this.

Dit gee my weer ’n doel.

Jy is ’n onderwyseres en ook ’n rolmodel. Wat is die belangrikste ding wat meisies moet leer oor hulle selfwaarde? 

Daar is net een jy. In die onderwys het ek geleer dat geen kind dieselfde is nie. Geen meisie wat voor my sit, dink, redeneer of skryf dieselfde nie. Almal is uniek geskape.

God wil hê jy moet wees wie Hy jou gemaak het om te wees. Bring dit wat Hy binne jou geplaas het na Hom en die wêreld toe, want jou uniekheid is wat die wêreld nodig het.

Baie meisies probeer iets wees wat die wêreld vir hulle sê hulle moet wees en raak seer en voel nie genoeg nie. Hulle selfwaarde is baie laag.

Dit is vir my heerlik om vir jong meisies iets te beteken in die skool. Om te help oopsluit wat binne hulle is en voluit daarin te hardloop, is vir my mooi om te sien.

Daar is een dogtertjie wat nooit regtig gepraat het nie. Sy is gedoop en ons het ’n pad saam gestap. Nou is sy een van die beste redenaars in ons skool.

Dit was vir my mooi om te sien hoe Jesus, sodra jy ’n leuen aanspreek en ’n waarheid aanvaar, jou help om te oorwin. God gebruik dit kragtig.

Meisies wat sukkel met selfwaarde moet naby aan Jesus loop, want in Hom lê ons ware identiteit. Dit is wat ons moet glo en waarvoor ons moet baklei.

Deel die artikel

Méér artikels

MINKI VAN DER WESTHUIZEN se positiewe ingesteldheid is vasgemessel deur ’n paar lesse wat sy vandag met oortuiging leef. Wees positief en sien die goeie ...

Sangeres en TV-aanbieder LEAH is positief, energiek, gewild, talentvol en het altyd ’n breë glimlag. Hoe bly sy positief, gelukkig en koester haar uniekheid? Wat ...

Scroll to Top