“Geld maak geld. Baie min mense verstaan dit totdat hulle dit in die praktyk sien gebeur,” sê sakeman en finansiële kenner WOUTER SNYMAN.  

Skep welvaart deur goeie beplanning toe te pas 

Ek wil vir jou die R5-per-dag-verhaal vertel. Die R5-per-dag-verhaal is eintlik die vereenvoudiging van die waarde van geld. Baiekeer dink ons dat ons R1 000 of R10 000 moet hê, anders gaan ons nooit oor die weg kom nie. Die R5-per-dag-verhaal fokus op R5 per dag wat jy spaar. Daardie R5 per dag is R150 per maand.

Die meeste van ons het ’n selfoonpakket. As jy dalk soos ek in in die verlede in die strik getrap het om elke twee jaar ’n nuwe foon te kry, is dit dalk die beste plek waar jy kan begin om te bespaar. Het jy die beste pakket? Onthou, dit is ’n ongelooflike mededingende wêreld en net een van daai elemente kan vir jou R150 per maand gee.

Kyk mooi na jou uitgawes om te sien of daar ’n geleentheid is om te sê: Kan ek geld spaar? Want dit gaan nie net oor spaar nie. Dit gaan oor finansiële beplanning in terme van hoe jy jou geld kan begin oorwin.

Baie mense haal die Bybel aan en sê: Geld is euwel. Dit is nie waar nie. Die liefde vir geld is ’n euwel. Laasgenoemde beteken geld bestuur jou, jy bestuur nie geld nie. Ek en jy moet eienaarskap vat, en die begin daarvan is goeie geldgewoontes.

Daar is geleentheid om te kyk waar kan jy R5 per dag kan afknyp. R150 per maand.

Neem verantwoordelikheid vir jou finansies en jou toekoms 

Gaan belê R5 per dag, R150 per maand, teen 10% saamgestelde rente. Die beste plek om dit te doen, is ’n belastingvrye spaarrekening. As jy dit nie het nie, is dit die eerste ding wat jy moet oopmaak.

Wat is R150 per maand werd vir my? As jy op ouderdom van 18 begin en tot op die ouderdom van 65 hierdie R150 per maand belê, sal jy uiteindelik as jy dit optel, met 10% saamgestelde rente oor 47 jaar, R1.6 miljoen hê. Teen R5 per dag. Tien rand per dag, gee jou R3.2 miljoen rand. R20 per dag … jy kan self die somme maak.

Nou kan jy sê: Ja, maar ek is nie meer 18 jaar oud nie. So oud soos wat ek is, 56, is daar 30 jaar oor. Goeie jare. Onthou die Chinese spreekwoord wat sê: Wanneer plant jy ’n boom? As jy dit nie 20 jaar terug gedoen het nie, is dit oukei, jy moet net vandag begin.

Neem die verantwoordelikheid, want niemand gaan dit namens jou doen nie. Die staat gaan nie. Moenie jou kinders belas daarmee nie. Die fynste geheim is dat as jy dit nie gedoen het nie, leer dit vir jou kinders. Dat hulle minstens daardie wegspringplek het. Dat hulle net dit doen. Net ietsie begin wegsit om vir hulleself voorsiening te maak. Die oomblik as jy dit begin doen, neem jy verantwoordelikheid.

Begin om op ’n beter manier na geld te kyk.

Klein gewoontes kan toekomstige finansiële sukses waarborg 

Ons het ’n negatiewe idee: Geld bestuur ons, ons bestuur nie geld nie. Om ’n verandering te maak begin by eenvoudige, klein goedjies wat ons moet verander. Jy moet net vir jouself sê: Wil ek nou die pyn van dissipline hê? Of die pyn van ontnugtering jare later as ek niks gedoen het nie?

Begin vandag. Net jy kan verantwoordelikheid vat, niemand gaan dit namens jou doen nie. ’n Ridder op ’n wit perd gaan nie aangery kom. Jy gaan nie skielik die Lotto wen nie – een uit 40 miljoen mense kan dit dalk wen, maar die kans dat dit ek of jy gaan wees, is baie skraal.

In die tussentyd, betaal die meeste mense wat ’n gemiddelde inkomste verdien belasting deur Lotto te speel. 60% van Suid-Afrikaners doen dit. Hulle spandeer baie meer as R150 per maand. Jy het ’n gewaarborgde plan versus een waar jy ’n een uit 40 miljoen kan wees. Dit steel jou vreugde. Dit steel jou doelwit rondom finansies.

Die R5 per dag is net ’n beginsel. Jy kan sê: Ja, maar R5 is te min. Nee. Dis die beginsel van begin. Jy moet net ’n begin maak. Om aksie te begin neem gaan jou al klaar positiewe energie gee rondom wat jy doen.

Jou geld kan vir jou geld maak, sonder dat jy ’n miljoenêr is in terme van die inkomste wat jy dadelik verdien.

Bestuur geld jou of bestuur jy jou geld? As jy daardie oorwinning kan kry, is jy vandag op pad na finansiële oorwinning.