Sukses het niks met potensiaal of lucky breaks te doen nie, maar alles met die hoeveelheid tyd wat jy spandeer met dié vir wie jy lief is.
Vind balans tussen jou werksverpligtinge en jou geliefdes
Ek is die pappa van drie lewendige en bedrywige dogtertjies. Mamma is ’n hoërskooljuffrou en gevolglik deel Pappa net soveel in die huishoudelike take as Mamma!
Tussen Pappa en Mamma word daar rondgery, kos gemaak, gebad én opgeruim! As ek nie soggens skarrel om hare te kam nie, sukkel ek saans om pajamas aan te trek.
Ek is deesdae die go to guy vir youtube-prinsesse op perde of kleifiguurtjies wat dans … Maar my grootste ambisie in die lewe is om die go to guy te bly!
Daarom is tyd by die huis die lekkerste deel van my dag! Want, by die werk is my loopbaan vir my belangrik en streef ek daarna om die beste predikant te wees wat my roeping ten volle uitleef. Maar genadiglik het die Here my ook genoeg verstand gegee om te besef dat my eerste en beste roeping juis húlle is vir wie ek die liefste is!
Weet jy dat die gemiddelde Britse pa 56 minute per dag saam met sy kind spandeer; 18% net 15 minute of minder omdat hulle te besig is en 44% is eenvoudig net te moeg om saam met hulle kinders te speel?
Ek besef dat besigwees deel van die lewe is, maar die probleem lê by die balans tussen werksverpligtinge en die verantwoordelikheid wat ons het teenoor die mense wat ons die liefste het.
Andy Stanley skryf in sy boek When work and family collide dat ons ’n besluit moet neem vir ons gesinne. As ons nie daardie keuse maak nie, kies ons onwillekeurig ons loopbaan. Hy skryf dat loopbaansukses toegeskryf word aan ’n lucky break of iemand wat jou potensiaal raaksien en jou bevorder.
Maak tyd vir mekaar, ten spyte van besigwees
Sukses in jou familie het egter niks met potensiaal of lucky breaks te doen nie, maar alles met die hoeveelheid tyd wat jy spandeer met dié vir wie jy lief is. Liefde word uitgedruk in tyd.
In sy boek From tablet to table sê Leonard Sweet die tafel is die middelpunt in enige huis. “The table is the place where identity is born – the place where the story of our lives is retold, re-minded and relived.” En daar lê ons uitdaging – om ons gesinne om dieselfde tafel te kry.
Sweet skryf dat ’n gewone aandete in 1950 bykans 90 minute geduur het. Vandag eet ons in minder as 12 minute as ons enigsins saam eet! Geen wonder ouers en kinders leef by mekaar verby nie, want ons verloor konneksie met mekaar.
Kinders wat gereeld saam met hulle ouers aan tafel eet, het minder emosionele probleme, is minder aan dwelms of alkohol verslaaf, het beter selfvertroue en is minder geneig tot tienerdepressie en -selfmoord. Hoekom is dit so? Want elkeen het ’n stoel by die tafel. En as die stoel leeg is, is daar ’n leemte. Wanneer ons kinders ’n stoel het, het hulle ’n plek in ons huis, behoort hulle en voel hulle dat hulle inpas.
Pappa, neem dus inisiatief, pause die televisie en sorg dat jou gesin aan tafel tyd spandeer. Jy beheer die remote, beheer asseblief ook die gesin! Vir die Kuylers is gesinstyd – speel én tafel – ononderhandelbaar. Ons werkgewers weet dit! Of ek en Suzanne opruim nadat al die Lego-blokkies op die mat lê en of ons sukkel om die perfekte vlegsel te maak, ons albei is daar ten spyte van besigwees.