Lisa van Niekerk, oftewel LISA MET DIE ROOI HARE, kyk verskeie werklikheidsreekse sodat ons nie hoef nie. Sy deel haar reis van Afrikaanse realiteit-TV resensies, liefde, verlies en haar lewenslesse met humor en inspirasie.
Jou kommentaarvideo’s oor realiteitsprogramme is baie bekend. Wat het jou na dit gedryf?
Ek het begin met die soort inhoud wat ek nou maak, omdat ek nog altyd self ’n groot aanhanger was van recaps en reviews van realiteitsprogramme. Ek het ure op YouTube gesit en dit gekyk!
Ek het toe begin om sommer random snaakse video’s maak. En toe besef ek: Weet jy wat?
Niemand doen regtig hierdie tipe goed in Suid-Afrika nie — veral nie in Afrikaans nie.
Dis iets waarvan ek rêrig hou, niemand anders doen dit nie. Ek het die gaping gesien en toe het ek begin met my eie recaps.
Is daar enige spesifieke oomblikke in Afrikaanse werklikheidsreekse wat vir jou uitstaan?
Daar is ’n paar wat vir my uitstaan. Die eerste een is definitief toe Boer Damian, die gay boer, een van die top vyf in Boer soek ’n vrou was. Dit was vir my so ongelooflik om te sien hoe ver ons al gekom het as land – en spesifiek as Afrikaanse mense.
Die Brug het my vasgevang. Elke liewe persoon daar het so ’n mooi storie en lewensreis gehad. Ek het letterlik elke keer gesit en huil as ek gekyk het.
En toe ons uiteindelik sien wie die wenner was, was dit so spesiaal. Daai hele storie het my aanmekaar in trane gehad. Goeie trane, natuurlik.
Glo jy realiteitstelevisie het ’n positiewe of negatiewe impak?
Ek dink nie dis net positief óf net negatief nie. Dis ’n bietjie van albei. Daar’s wel ’n negatiewe kant, want dit bring ’n gevoel van kompetisie saam. Dit maak die deur oop vir negatiewe kommentaar op gewone mense se lewens op sosiale media.
Maar, ek voel eintlik meer positief daaroor. Eerstens: Ek kan sit met ’n glasie wyn, so dis al klaar ’n bonus!
Ek dink dis lekker om te sien hoe alledaagse mense sekere aktiwiteite aanpak, of probeer liefde vind, of sommer net hul lewens wys. Ek hou daarvan.
Ek was onlangs op ’n realiteitsprogram. Dit was ’n rollercoaster, maar uiteindelik was dit vir my ’n baie positiewe ervaring.
Ek dink ek gaan die negatief kanselleer, en net sê: Dit is positief.
Met ’n groot aanlyn gehoor, kry jy ondersteuning en kritiek. Wat is die felste kritiek wat jy al gekry het?
Die kritiek op my bladsy is eintlik redelik min. En as daar wél iets op my blad kom, dan is my aanhangers vinnig om my te verdedig!
Ek onthou een keer het iemand gesê ek “lyk arm”. Dan kry ’n mens natuurlik die gewone “sy’s ’n alkoholis”, of “sy’s irriterend”, sulke goed. Dis maar die tipiese aanlyn nonsens.
Toe ek begin het met video’s, was ek nog baie jonk – net uit matriek uit. Toe die kritiek begin, het dit my regtig hard getref. Ek het selfs gedink om op te hou video’s maak en dit was moeilik om dit nie persoonlik op te neem nie.
Maar toe kry ek ’n goeie sielkundige – ek glo in goeie sielkundiges. Sy het my gehelp om daardeur te werk en vandag het ek ’n baie dikker vel. Ek lees die comments en lag sommer.
As ek jou irriteer, scroll verby. Partykeer irriteer ek myself ook. Ek verstaan, maar ek weet wie ek is. Ek het nie negatiewe kommentaar van buite nodig om te bepaal hoe ek oor myself voel nie
Watter belangrike lewensles het jou ma jou geleer wat jy in jou loopbaan toepas elke dag?
Ja, ek moes al baie keer vir my ma sê sy moet ophou terug baklei of kommentaar lewer, want mense kan sien wie sy is! Ek dink sy het nou ’n skuilnaam op YouTube waaronder sy comment … Ek gaan nie sê wát dit is nie!
Een groot lewensles wat ek by my ma geleer het, is om net myself te wees. Van kleins af is ek en my boetie aangemoedig om net onsself te wees.
Mense gaan van jou hou of nie – en dis ook reg so. Ek het dit regtig saam met my gedra. Ek probeer altyd om eg en eerlik te wees.
’n Groot les wat ek by haar én my pa geleer het, is om jou eie ding te doen. Om iets aan te pak wat jou gelukkig maak.
Alles wat ek nou het en doen, is ek aan hulle verskuldig. Hulle motiveer my.
As ek ’n slegte dag het, sê hulle vir my: “Onthou hoekom jy dit doen – dis net vandag wat swaar voel, môre gaan beter wees.”
Omdat hulle ook hul eie besighede het, verstaan hulle hoe dit voel. Hulle is groot rolmodelle in my lewe.
Wat is die grootste les wat jy tot dusver in jou huwelik geleer het?
Ek weet nie of ek die beste persoon is om huweliksadvies te gee nie, maar een groot les wat ek geleer het, is dat respek vir mekaar absoluut belangrik is — altyd.
En dan ook, jy kan nie jou man verander nie. Hy gaan nie noodwendig die wasgoed in die wasmandjie gooi nie. Jy moet leer om vrede daarmee te maak.
Hy doen ander goed weer fantasties goed wat ek nie doen nie – en dit balanseer uit.
Jy moet net geduld hê en respek.
Jy het jou beste vriend aan die dood afgestaan. Hoe het dit jou uitkyk op die lewe verander?
Dit het my gebreek. Ek dink dit breek my steeds ’n bietjie elke dag.
Dit het definitief my perspektief verander. Om te besef: Jy het net één lewe. Yolo, dis ’n vreeslike sê-ding, maar dis waarheid. Dit het my laat besef dat mens regtig voluit moet leef.
Geniet elke oomblik. En die mense wat jy nou in jou lewe het – wat jy liefhet – moet jy met alles in jou liefhê, want môre … oormôre … kan hulle weg wees.
Ek mis hom baie. Dis vir my regtig moeilik. Ek probeer altyd onthou, ek sal hom eendag weer sien.
Jy is bekend vir jou humor en ligte aanslag, maar hoe het jy hierdie groot verlies hanteer?
Ek glo in sielkundiges. Ek het een gaan sien, ’n paar keer nadat hy oorlede is, en dit het my beslis gehelp om die regte hulpmiddels te kry om deur die rouproses te werk.
Een ding wat ek daaruit onthou, is om jou hartseer te erken. Dit is soos ’n klein kindjie wat langs jou sit. Dis nie alles wat jy is nie, maar dis iets wat saam met jou beweeg.
Dit het gehelp om dinge te doen waarvan ek hou. Ek doen naaldwerk. Dit het my gehelp om deur my hartseer te kom en om weer kalm te raak.
En dan natuurlik, my ondersteuningsnetwerk – my vriende, my familie, my man – hulle was almal ongelooflik ondersteunend. Ons is eintlik soos een groot groep wat saam deur hierdie verlies gaan, en ons ondersteun mekaar, veral as een van ons af voel of iemand begin mis.
As dit nie vir hulle was nie, dink ek nie ek sou vandag al so ’n bietjie sterker gevoel het nie. Maar ja, elke dag is ’n reis.
As jy saam met enige bekende ’n glasie wyn kan drink, wie sal dit wees en hoekom?
Ek dink dadelik iemand soos Miley Cyrus. Ek was altyd ’n Hannah Montana-meisie! Of Harry Styles – ek was ook ’n groot One Direction-aanhanger.
Ek hou van daardie soort kunstenaars. Ek weet nie hoekom nie. Ek dink ek wil net graag saam met hulle ’n glas wyn drink, en dan kan ons karaoke sing.
En dan, Riaan Cruywagen! Ek wonder of hy ’n bietjie meer spraaksaam raak ná ’n glasie wyn.
Ek kan ’n bietjie name drop en sê ek het al saam met Marciel Hopkins en Cindy Swanepoel wyn gedrink. Dit was baie lekker. Dit was regtig cool, hulle is nice mense.
Dalk ook Juanita du Plessis, want ek wil net een keer saam met haar Skarumba!