Dr. Serahni Symington, spelterapeut en Voelgoed se ouerskap-mentor, gesels oor die ontnugterings van ouerskap, haar werk met kinders en ook die draaiballe wat ma’s elke dag trotseer …
Jy lyk na ’n perfekte ma. Wat was vir jou die grootste ontnugtering van ouerskap?
Mense dink ek het perfekte kinders en ek is ’n perfekte ma. Dit is so ver van die waarheid af. Wanneer ’n mens besef dat so iets nie bestaan nie, haal dit ’n klomp druk van jou af.
My grootste ontnugtering was die sosiale druk. Met my oudste kind se geboorte, was dit al die moets en moenies wat daarmee saam gekom het.
Op soveel maande moet jy dit doen. Jou kind moet op soveel maande dat doen. Daar is al hierdie sosiale raamwerke waarin ons kinders moet val, en as ’n ouer weet jy nie watter van dit om te volg nie.
Die samelewing verwag van ma’s om als reg te doen, maar daar is dan 50 weergawes van die waarheid.
Nie alle ma’s voel soos “natuurlike” of “gebore” ma’s nie. Inteendeel baie ma’s sukkel. Was dit vir jou ’n maklike aanpassing?
Die statistieke wys dat 30% tot 35% van mammas in Suid-Afrika in die eerste jaar nageboorte depressie ervaar. My verwagting van ma-wees en die realiteit het nie ooreengestem nie.
Ek het gedink ek gaan elke oomblik geniet, elke opstaan, elke vuil doek. Maar die ontnugtering kom wanneer jy moeg is en jou lyf net soveel kan doen.
Die aande se opstaan en kop hou. My grootste vrees was dat ek iets gaan vergeet, soos wanneer ek gevoed het, om doeke te koop, of die inentings.
Ek was so moeg. Maar ek het baie van myself geleer, soos hoe ek slaap nodig het en hoe my lyf reageer wanneer ek nie genoeg eet of slaap nie.
Ek het geleer om vir myself te sorg, want ek het fisiek sleg gevoel as gevolg van die min slaap en om nie warm koffie te kan drink nie.
’n Mens het die verwagting dat die stories wat jy hoor nie met jou gaan gebeur nie, jy gaan elke oomblik geniet, want dit gaan vinnig verby. Maar wanneer jy in dit is, is dit moeilik en jy voel permanent soos ’n mislukking.
Dit was vir my moeilik, want ek hou daarvan om in beheer te wees, maar in hierdie geval was ek nie. Ek kon nie beheer wanneer my baba huil, koors kry, of snaakse simptome het nie.
Die verwagting was dat ek elke oomblik sou indrink, maar die realiteit was dat die lewe onvoorspelbaar is en jy kan dit nie beheer nie, veral nie met ’n kind nie.
Deel een van die oomblikke wat jy altyd sal koester.
Die kosbare oomblikke kry ’n mens deur moeilike tye. Vir my is dit nie die groot gebeurtenisse soos ’n kind wat ’n trofee wen nie, maar die alledaagse oomblikke.
As werkende mamma is dit vir my kosbaar om my kinders by die skool te gaan haal. My gunstelingtyd van die dag is wanneer ek my kind by die skool kan oplaai en ons oë ontmoet.
Elke keer wanneer ek my kinders êrens kan gaan oplaai en ek sien hulle sien my, is dit spesiaal.
My dogtertjie het een dag by die skool uitgekom, ons oë het ontmoet en ek kon sien dit was ’n moeilike dag. Sy het na my toe gestap, haar kop teen my gesit en net gesê, “mamma”.
Ek kon voel ek was haar veiligheid en die persoon wat dinge beter maak.Dit is vir my kosbaar. Daar is geen beter gevoel as wanneer jou kinders veilig by jou voel nie.
Hoe sien jy om na jou eie geestelike en emosionele welstand, terwyl jy ander help en jou eie gesin versorg?
Dit is soms moeilik om af te skakel na ’n dag, veral met die soort onderwerpe waarmee ons werk. Dit maal in jou kop en ’n mens het soveel empatie vir ander mense se stories.
Voordat ek van die huis af begin werk het, het ek altyd langs die pad gestop en vir tien minute asemhalingsoefeninge gedoen of ’n liedjie geluister.
Ek het vir myself gesê, nou sny jy af, los die werk en gaan huis toe om mamma en vrou te wees. Ek het geleer om doelbewus te rus.
Sedert ek van die huis af werk, is dit moeiliker. Ek is iemand wat iets konkreet wil doen om van die abstrakte weg te beweeg. Die idee van ek is nou klaar by die werk en nou is ek mamma, is moeilik as jou kantoor by jou huis is.
Ek het die gewoonte begin om my “werksklere” uit te trek en ander klere aan te trek wanneer ek klaar is met werk. Dit is vir my ’n fisieke verskuiwing van die emosionele en help my om die werksdag af te sluit.
Ek glo dat mens jou naaste moet liefhê soos jouself. Hoe ek myself liefhet, raak my naaste liefde. Ek probeer dinge doen wat vir my vreugde bring en tyd vir myself afknyp sonder skuldgevoelens.
Ek is lief vir musiek en kreatiwiteit, en neem kunsklasse. Ek probeer my stokperdjies gereeld beoefen. Dit is belangrik om stokperdjies te hê en ons vergeet soms hoe voordelig dit is.
Hoe beleef jy God op ’n tasbare wyse in jou lewe?
Ek bid vir my kliënte tydens sessies, sonder dat hulle daarvan weet. Ek sê dikwels vir die Here dat Hy weet wat hierdie persoon nodig het.
Ek glo die Here gee my leiding. Soms, as my hart breek vir die mense voor my, voel dit of die Here vir my fluister watter rigting om te volg.
Ek glo in die spirituele intuïsie wat God my gee tydens sessies en dat ek opreg vir my mense bid, veral as ek vassit.
Ek is menslik en het nie al die antwoorde nie, maar die Here het.
Watter les pas jy sonder uitsondering toe in jou ma-wees reis?
Ek leer baie by die kinders wat by my kom speel. Ek luister na hulle stories oor hulle huise en gesinne. Ek sien hoe belangrik prioriteit is in gesinne wat geheg is aan mekaar.
Hulle maak tyd vir mekaar, hou saam vakansie, spandeer naweke saam en het elke dag konneksie, selfs al is dit net op pad skool toe. My gesin is my prioriteit, en dit het my kliënte my geleer.
Ek het ook geleer dat jy kan breek en herstel. Dit het my lewe verander. Ons gaan verhoudings breek of seer maak, want ons is nie perfek nie. Maar ons moet verantwoordelikheid neem en herstel.
As jy ’n slegte oomblik het as ’n mamma en jy breek, kan jy herstel met liefde en sê jy is jammer. Dit is my grootste les: breek, maar herstel.