Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ’n tyd om gebore te word …
(Prediker 3:1)
Lente, somer, herfs en winter … vier seisoene van die jaar, vier seisoene van menswees. Net soos in die natuur, wissel die seisoene in ons lewe. Al is elkeen so anders, werk hulle saam om lewe en groei voort te bring. Want net soos seisoene, is daar in ons lewe ’n tyd van kom, en ’n tyd van gaan.
Almal weet dat die bloeisels nie altyd kan bly blom nie. Deur vas te hou aan dit wat was, verhinder jy jou om in oorgawe te leef met dit wat is. So keer jy jou om te ontvang dit wat nog kom. Jy kan hoeveel water gee in die verkeerde seisoen … eers wanneer die tyd reg is, sal die saadjie groei tot die bestemde plant.
Net so het God ’n plan en ’n doel vir elkeen van ons. Al is dit soms hoe moeilik om alles wat in ons lewe gebeur te verstaan, weet ons dat sy liefde vir die mens nooit sal verander nie. Die Here wat ons neerlê in die groen weivelde, by die waters waar rus is, neem ons ook deur die donker dieptes, waar die vrese ons omsingel.
Grondves liewer die welstand van jou gemoed op die beloftes van die Here, as om toe te laat dat emosies, dit wat jy dink en voel, jou geluk bepaal. Dikwels daag juis hierdie tye van beproewing ons uit en ontwikkel ons tot meer as wat ons ooit kon dink om te wees. Een ding bly staan, God sal ons deur elke seisoen dra, hetsy goed of sleg.
Maak dus elke seisoen die mooiste seisoen van jou lewe, want die lewe kan tog net wees wat jy daarvan maak!