Maak jou besig–wees jou doof vir God?

Maak jou besig–wees jou doof vir God?

Smag jy na meer stiltetyd sodat jy in jou geloof kan groei. Leer hoe jy in jou gejaagde en besige dag tyd kan maak vir dít wat regtig belangrik is.

Maak tyd vir jou verhouding met die Here

Soos ’n aardse ouer smag na ’n mooi verhouding met sy of haar kind, so wil ons hemelse Pa ’n hegte en liefdevolle verhouding met ons hê.

Hy het nêrens heen gegaan nie. Die hemel is nie ver soos ons soms verkeerdelik dink nie. Dit is ons wat soms ...

Smag jy na meer stiltetyd sodat jy in jou geloof kan groei. Leer hoe jy in jou gejaagde en besige dag tyd kan maak vir dít wat regtig belangrik is.

Maak tyd vir jou verhouding met die Here

Soos ’n aardse ouer smag na ’n mooi verhouding met sy of haar kind, so wil ons hemelse Pa ’n hegte en liefdevolle verhouding met ons hê.

Hy het nêrens heen gegaan nie. Die hemel is nie ver soos ons soms verkeerdelik dink nie. Dit is ons wat soms ons geloof net laat gaan of wegdwaal. Tog het jy elke dag die kans om jou weer ten volle aan jou geloofsroetine toe te wy. Om weer jou volle self oor te gee.

Jy hoef nie “godsdienstig” te wees nie. Jy hoef nie wanneer jy jou geloof prioriteit maak, ’n klomp reëls slaafs na te volg nie. Jy word wel uitgenooi om die Woord en die Een agter die Woord beter te leer ken en lief te hê.

Wanneer jy in so ’n verhouding leef, word jou wil al hoe meer gebuig en verander om in te pas by die goddelike plan vir jou lewe. Dan sal jy ook meer en meer doen wat reg is en by gelowige mense pas.

As jy smag na ’n dieper verhouding met jou Vader, vat sy hand en erken jou afhanklikheid van Hom. Hy ontvang jou met ope arms.

Om geloofsgroei jou prioriteit te maak bly ’n lewenslange proses. Jy moet elke dag kies om nie net jou spaar tyd vir dié verhouding te gee nie, maar jou hele lewe. ’n Mens maak tyd vir dit wat vir jou belangrik is. Máák tyd vir God, anders sal jy later nie meer tyd vir Hom hê nie.

Begin deur te identifiseer wat jou aandag van jou geloofslewe steel. Waar alles Woordgesentreerd moet wees, versteur ons die harmonie deur te veel aandag aan ons omstandighede te gee.

Wat keer jou om tyd te maak vir stil-word?

Nie een van ons is perfek in ons aanbiddingstyl of op ons geloofspad nie. Moet daarom nie so hard op jouself wees nie. Maar werk aan ’n plan om jou luisterpad makliker te maak. Weet waarna om te luister en wat om te ignoreer.

Een van die grootste dinge wat soms kan inmeng, is onsself. Ons staan in ons eie pad. Die menslike aard neig daarna om alles te bevraagteken en heroorweeg. Dit laat ons dikwels alleen agter in hartseer omstandighede.

Die moontlikhede is oorweldigend en veroorsaak verwarring. ’n Lae selfbeeld kan ’n mens ook keer om drastiese geloofstappe te doen.

Jy glo dalk dat jy nooit suksesvol sal wees nie. Selftwyfel is een van die grootste sondebokke. Vertrou net en vra minder vrae.

Dis eintlik tog maar ons opdrag. Ons verwar egter logika met vrees en maak dít ons steunpilaar. Só word dit ’n stopteken in ons geloofspad. Ignoreer jouself en streef na die begeertes en drome wat die Gees in jou hart gelê het.

’n Televisieprogram, nuusberig of sosiale media kan jou van jou Godgegewe planne laat afsien. Vrees word ingeboesem deur net op die wêreld se probleme te fokus. Dis dan wanneer ons moet grense stel en selfbeheersing toepas. Tegnologie is nie koning nie, die Woord is.

Familie is een van die kosbaarste aspekte van die lewe. Ongelukkig kan hulle ook ons grootste vyande wees. Soms bedoel ’n familielid of ’n eggenoot goed deur al die raad wat hulle op ons neerstort, maar na wie luister jy?

Die grootste geleenthede kan misgekyk word omdat ander se besorgdheid en oorbeskerming ’n mens se ore toedruk vir die opdrag van die Here. God het egter fenomenale planne vir ons lewens.

Jy hoef nie ure lank te bid nie!

Moenie toelaat dat die lewe se gebeure, jou die boodskap wat jy moet hoor, laat mis nie. Deur dit te doen, kan ons moontlik baie seëninge in ons lewe misloop. Vra in gebed waaraan jy minder aandag en fokustyd moet bestee.

Gelowiges het nodig om die pause-knoppie in hulle programme te druk. Maar om tot stilstand te kom in ’n gejaagde dag is bykans onmoontlik. Om pause te druk het deel van ons doenlysies geword en nog ’n plig waarby ons nie gereeld en lank genoeg uitkom nie.

Het jy al doelbewus iewers heen gery of iewers gaan sit om alleen te wees en jou gedagtes te fokus op gebed en konneksie? Het dit ook al met jou gebeur dat jou kop dan net nie wil afskakel nie en daar net geen stilte in jou gemoed kom nie?

Jou gedagtes hardloop terug na wat die vorige dag gebeur het en na wat jy nog alles moet gaan doen … Miskien lui jou selfoon of kry jy ’n e-pos wat jy nie kan ignoreer nie. Dit laat jou met ’n gevoel van mislukking dat jy weer nie in stilte kon hoor wat jy moes hoor nie.

Dink dan só: Jy kan rus in God se vrede al raas die lewe rondom jou.

Die pause-knoppie is met rede nie ’n stopknoppie nie. Soos wanneer rugbyspelers sak in ’n skrum. Dan sê die skeidsregter “Crouch, touch, PAUSE, engage”.

Daar word van die manne verwag om te pause net voordat hulle in die skrumbeweging oorgaan. Dis ’n paar sekondes waarin orde in die skrum gegun word, ’n oomblik waarin die spelers bedaar en hulle denke fokus.

Hulle weet wat gaan volg, is ’n intense skrumbeweging, maar hulle wag ’n oomblik voordat hulle engage.

Só is dit vir besige vroue.

Realistiese maniere om jou geloof te verdiep

Die “word stil en erken dat ek God is”-knoppie bring ons wanneer ons dit druk tot bedaring. Dit bring nie die fisieke aktiwiteit waarmee ons besig is tot stilstand nie, maar dit bring sekondes waarin ons God herken.

Dit gaan nie die verkeer laat vloei, of jou druk werksprogram verlig of die kinders se vele aktiwiteite verminder nie. Maar hierdie waardevolle knoppie wat uit vrye wil geaktiveer word, draai ons selfbeheptheid in erkenning van wie Hy is.

Dit rig ons denke op Jesus, sodat ons besige lewens kan getuig van ’n lewende verhouding met die Een oor wie dit alles gaan. Wie weet watter wonderlike openbarings kan geskied in daardie kosbare oomblikke waar jy die Heilige Gees geleentheid gee om gehoor te word?

En hoe wonderbaar dat ons vrye wil het om sulke oomblikke te beleef.

Maak jy nog genoeg tyd vir aanbidding en studie van die Woord? Ja, jy hoef nie skuldig te voel oor jou leefstyl nie, maar dit is belangrik om teenoor jouself verantwoording te doen.

Toets jouself met ’n paar vrae, maar wees werklik eerlik in jou antwoorde. Waaraan dink jy, waaroor bid en praat jy, en wat doen jy met die meeste van jou tyd?

Ons maak altyd tyd vir die dinge wat ons graag wil doen en gee nie om hóé besig ons skedule is nie. Wanneer jy werklik tyd aan jou geloofsverhouding wil spandeer sal jy tyd máák en herprioritiseer om by geloofsverdieping uit te kom.

Tyd het ’n manier om vir ’n mens te wys wat werklik van waarde is.

Verander jou stiltetyd in iets prakties en betekenisvol

Stephen Covey het gesê: “Die meeste van ons spandeer te veel tyd aan dit wat dringend is en te min tyd aan wat belangrik is. Tyd is die een ding wat almal wil hê, maar die een ding wat almal verkeerd gebruik en soms misbruik.”

Jy kán jou daaglikse stiltetyd in iets prakties verander te midde van ’n besige leefstyl. Gebruik Jesus as jou voorbeeld en word stil wanneer jy alleen is op ’n bergtop en ook tussen mense. Moenie jou aan tyd laat bind nie en bid sonder ophou, soggens, saans en heeldag.

Ons kan nie net tyd maak om te bid wanneer ons behoeftes soos ’n kruidenierswarelysie wil aflees nie. Jou stiltetyd is kosbaar en die geleentheid om jou hart te ondersoek, die moeilike vrae te vra en die nodige veranderinge in jou daaglikse roetines te maak.

Dit is die druk skedules en geraas van die lewe om ons wat ons aandag kan aftrek van ons stiltetyd met God. Gee jou belangrikste kommoditeit naamlik tyd vir Hom. Nie uit skuldgevoel nie, maar as ’n intieme hartsbesluit.

Skakel die radionuus in jou motor af, raak stil in die stort, fokus terwyl jy huis skoonmaak of skottelgoed was …

Boodskappe kom na ons deur alles. Klein insidente én die groot mensgemaakte strukture, persone en geleenthede, rolprente, musiek, woorde, die natuur is alles kommunikasiemiddels om te hoor wat jy moet hoor.

Voordat jy jou oë toemaak om te slaap, sê iets positiefs oor jouself, jou lewe, die mense waarvoor jy omgee, jou land en die mense wat jy as vyande sien. Daardie woorde van vergifnis en positiwiteit ontsluit ’n skatkamer van geheime vir jou.

’n Stille gebed gevul met dankbaarheid en vergifnis maak jou gees vry om te ontvang.

Deel die artikel

Méér artikels

Gee God beheer en kyk hoe jou lewe verander! Kenner LYNETTE BEER wil jou aanmoedig om te ontdek hoe vertroue op Hom kan lei na ...

Dis maklik om in swak gewoontes vas te val. Deur meer bewustelik te leef, ontdek jy wat jou motiveer én terughou sodat jy beter keuses ...

Scroll to Top