Elke vrou het ’n veilige plek nodig waar sy net weer haarself kan vind. ’n Plek sonder enige pretensie of kompleksiteit, sonder veroordeling of verwagting.
Moenie vergeet om pret te hê nie
Dis hakskoene en plat skoene, skooltasse, grimeersakkie, kosblik, boeke en ’n skootrekenaar. Die meeste dae voel jou motor soos ’n uitbreiding van jou huis of soos ’n kantoor op wiele.
In hierdie motor word daar gebid, gehuil, geskaterlag, saam gedroom en groot stories gesels. Van skool tot sport tot werk.
Maar wanneer daardie laaste rit klaar is, begin die pret. Dan is dit tyd om jou hakskoene uit te skop, die bolla op die kop los te maak en te ontspan.
Trek daardie truspieëltjie reg, knipoog vir jouself en sê: “Vir jou vat ek op ’n date, dit is nou mý-tyd!”
Koester-vriendinne is kosbaar en tyd saam met hulle is soos sjokolade vir jou siel. Anaïs Nin skryf die volgende: “Each friend represents a world in us, a world possibly not born until they arrive, and it is only by this meeting that a new world is born.”
Dit is in daardie “ek ook”-oomblikke saam met hartsvriendinne dat ons weet ons is nie alleen nie.
Dis wanneer ons kans kry om net te wees. Weg van al die vereistes van die wêreld en sosiale media. Dit is die ruimte waarin jy met liefde omhels word en vir jouself kan lag.
Jy is meer as genoeg. Meer nog, jy is sterker as wat jy dink. Jy is vrou, jy is ’n inspirasie!
Werk hard en speel harder – moenie vergeet om pret te hê nie. Stop langs die hoofweg van die lewe en dans in die reën.
Tyd is kosbaar en moet versigtig gebruik word, nie omgewens word nie. ’n Sinvolle lewe is nie om te oorleef nie, maar om voluit te leef in die oomblik, in die nou!
Daar is honderde gisters en sal nog baie meer môres wees, maar daar is net hierdie een nóú. Dit kan ’n weggooi-oomblik of ’n altyd-onthou-oomblik wees.
Werk hard en beplan strategies met die ewigheid voor oë. Maar speel harder en beleef hierdie oomblik met ’n ongekende intensiteit asof dit die enigste oomblik is wat jy het.
Wat môre wag, weet die Here alleen en Hy is alreeds daar. Nou is jóú tyd!
Wees net ma by die huis en vergeet Facebook
Die rol van vroue het deur die eeue heen verander, maar een ding het onveranderd gebly. Kinders het ’n behoefte aan ’n betrokke mamma. Hulle gee nie om of daar stof op die kaste lê en of Mamma daardie verhoging kry nie. Hulle soek liefde, tyd en aanvaarding.
Jou skedule is propvol en jy is doodmoeg. Daar is een manier hoe jy met sukses kan deurdruk. Die geheim is om jou tyd doeltreffend te bestuur.
Ons ken almal die opwinding om aan die einde van ’n lang dag ’n bietjie deur Facebook en Instagram te blaai. ’n Mens moet mos op die hoogte bly van wat om jou aangaan.
Dis so lekker om idees op Pinterest te soek oor wat jy alles met ou palette aanmekaar kan timmer. Of resepte waarmee jy die familie met julle volgende braai kan beïndruk.
Om nie eens te praat van aanlyn inkopies nie, daar wag soveel spesiale aanbiedinge in die globale winkelruim.
Jy wil net gou hierdie lees, net gou hierdie soek, net gou-gou hierdie tik …
Jy voel egter skuldig en weet jy steel tyd by jou kinders en by jou huwelik. Of jy steel tyd by jou gesondheid, want jy kry nou minder slaap.
Jy is dalk al jare op Facebook, al het jy gedink dis ’n fase wat gou sal verbygaan. In hierdie tyd het julle verloof geraak, getrou en twee kinders gehad. Jy kan met sekerheid sê dat jy ’n Facebook-ghoeroe is, want jy het definitief al die professionele 10 000-uurmerk oorskry!
Hoeveel ure se slaap het jy al gemis? Hoeveel keer was jy net besig om met ’n halwe oor na jou kinders te luister?
Watter vaardighede kon jy hulle alles geleer het, wat niks met tegnologie verband hou nie?
Dis nie nodig om summier jou Facebook-rekening te sluit nie. Kry eerder ’n plan vir tyd aanlyn en jou selfoon.
Geen selfoon, rekenaar of aanlyn trekpleister gaan jou mis as jy nie meer daar is nie. Jou kinders sal wel.
Maak seker jy gee vir hulle genoeg opbouende herinneringe van hulle kinderdae om hulle ’n leeftyd te hou.
Vra raad by ervare ma’s en deel ook jou raad
Baiekeer voel jy dat dit net jy is wat swaarkry. Dis net jou kind wat ongehoorsaam is. Dis net jou man wat min by die huis is en nie genoeg by die kinders betrokke is nie.
Later raak jy verlam en sien nie die lig aan die einde van die tonnel nie.
Maar sodra ’n mens met ander vroue begin praat wat al hierdie pad gestap het, besef jy dat dit al uitgetrap is! Dis ’n troos om te weet dat jy nie die eerste of die laaste is wat met hierdie uitdagings van ouerskap sal stoei nie.
Ons was nooit veronderstel om op ons eie klein eiland te bly en die alleenrigtingwyser vir ons kinders te wees nie.
Dalk is jy ook grootgemaak met die siening “’n mens praat nie uit die huis uit nie”. Miskien is dit tyd om juis te begin uitpraat soveel as wat ons kan. Dat ons die stigma van vrees en onsekerheid kan afbreek.
As jy oop is oor dit wat jou laat swaarkry verlig jy vinnig jou vriendin se las omdat sy besef sy is nie alleen nie.
Kom ons bou ’n generasie van mammas wat mekaar ondersteun, opbou en verstaan.
Daar is soveel hoedjies wat vroue elke dag moet opsit: besigheidsvrou, dogter, mamma, sielkundige, vriendin, suster, vrou vir jou man …
Dit is nie maklik om met al hierdie “hoedjies” op perfek gekamde hare selfversekerd rond te paradeer asof alles oukei is nie. En dan ook te sorg om jouself nie in die proses te verloor nie en getrou aan jouself te bly.
Dis soms moeilik om te glo, maar God rus vroue toe met dit wat nodig is, in enige situasie. As hardwerkende vroue en mammas mag ons aanspraak maak op Sy wysheid, ongeag die uitdagings.
Maar ons moet ook mekaar help. Wees jy die vrou wat ’n ander vrou se kroon ongemerk regtrek – en nie die een wat verkondig hoe skeef dit sit nie.
Vergeet van balans, kry jou prioriteite reg
As ma ken jy die skuldgevoel wat jou beetpak wanneer jy tuiskom ná ’n lang dag by die werk. Veral wanneer jy sien hoe die kinders en manlief verlang het.
Kenners sal sê die antwoord lê in balans tussen jou werk en gesin. Maar dis ’n mite – is daar enige werkende ma wat dit kan regkry?
Dis wel waar dat ’n mens party dae jou werksverpligtinge en verantwoordelikheid teenoor die gesin beter as ander dae kan balanseer.
Maar soms moet jy meer aandag aan ’n projek gee en ander dae het die gesin jou meer nodig. Dis meer haalbaar om sekere dinge as prioriteite te hanteer as om na ’n onbereikbare balans te streef.
’n Beter uitgangspunt is om jou gesin altyd eerste te stel. Môre is nog ’n dag wanneer dit by werk kom.
Vroue voel so maklik oorweldig deur die ekstra take wat kom met kinders grootmaak, dat die vreugdes van ma-wees vergete raak.
Dit is juis in die besige tye wat jy jou skoene moet uitskop, die rekenaar toeklap en jou foon wegsit.
Gaan sit by jou kinders op die mat en gesels sommer net met hulle oor die dinge wat vir hulle belangrik is. Goed wat hulle bekommer. Vreugdes wat hulle ervaar het.
Ná ’n lang week kan julle Saterdagoggend musiek aansit en almal saam kuier terwyl julle tussendeur verf of bak en brou.
Een kind verf miskien sy gunstelingsokkerspeler, die ander een iets oor die see. Sussie verf dalk die tafel en die mure, alles behalwe die papier voor haar.
Maar dis oukei. Voor julle weet is die week se bekommernisse vergete en jou kinders se gesels en gelag jou enigste fokus.
Maak ’n punt daarvan om aandetes om die tafel te spandeer. Praat oor maats en huiswerk en al hulle vrae.
Dit sal jou tref om te hoor watter diep dinge hulle bedink. Bekommernisse oor ’n maat wie se ouers skei. Vrese oor veiligheid nadat hulle iets by die skool gehoor het. Vreugdes oor ’n gedeelde oomblik saam met ’n juffrou.
Tyd is kosbaar. Probeer dus om “in die oomblik te wees.”