MARTELIZE BRINK, radio-omroeper en kookboekskrywer, is sedert die ouderdom van 13 in ’n rolstoel, maar moedig ander aan om die lewe ten volle te omhels.
Wat is jou grootste trots of prestasie in jou loopbaan as radio-omroeper?
’n Mens dink dadelik aan toekennings, onderhoude, programme en sulke dinge, maar ek dink op die ou end ontwikkel ’n roeping dikwels in ’n mens se lewe.
Ek het nooit ’n spesifieke roeping gevoel nie. Ek het nie geweet wat ek met my lewe wou doen nie en die radio-werk het maar toevallig oor my pad gekom. Dit het organies en byna per ongeluk gebeur.
Eendag kry ek ’n e-pos van iemand wat skryf: “Martelize, ek sukkel soms weens my gemoed om in die oggend op te staan. Dan skakel ek die radio aan en daar is jy. As jy kan opstaan en ’n glimlag in jou stem het, dan kan ek ook myself uit die bed kry.”
Al die jare was ek ongemaklik met die idee dat ek ’n voorbeeld vir mense is. Ek dink steeds nie enigiemand moet waarlik ’n voorbeeld wees nie – ons is almal net mense wat foute maak.
Ek beoog om ’n goeie mens te wees, maar die toenemende positiewe terugvoer het my laat besef ek beteken iets vir mense op lug en kan hulle dalk help om ’n beter lewe te lei.
Ek is nie altyd besig om die bes moontlike lewe te lei nie, maar ’n mens probeer steeds. Só leer ons saam op lug. Vir my is die regte vorm van sukses om te doen wat jy veronderstel is om te doen in die posisie waarin jy geplaas is. Dit is ’n groot voorreg.
As jy ’n groot uitdaging of struikelblok in jou radio-loopbaan moet uitsonder, wat sou dit wees en hoe het jy dit te bowe gekom?
My loopbaan het organies ontwikkel, sonder werklike groot struikelblokke. Ek het foute gemaak, daaruit geleer en gegroei. Daar was nooit ’n tyd wat ek gevoel het daar is onoorkombare hindernisse in my ateljeewerk nie. Die grootste uitdaging was my rolstoel.
Toe ek by die SABC begin werk het, het hulle nie geweet ek gebruik ’n rolstoel nie. Die ateljees was op ’n boonste vlak met trappe, en die sekuriteitswagte moes my elke dag op en af dra.
Hulle het uiteindelik ’n hyser geïnstalleer, waarvoor ek baie dankbaar was. Dieselfde geld vir buiteuitsendings en feeste – dit was dikwels moeilik. Die klanktegnici moes my op en af help op verhoë. En die toilette is altyd ver … hoekom is die toilette altyd so ver?
Daar was beslis baie uitdagings, maar ek voel ’n mens moet maar sê: Hier is ek nou, ek wil my werk doen en my stasie en program verteenwoordig. Dan moet ons vra: Wat kan ons doen om dit meer toeganklik te maak?
Ek wou nie met opset mense se lewens bemoeilik nie. Ek wou graag dinge makliker maak vir myself, die mense rondom my, en natuurlik ook vir toekomstige persone in soortgelyke omstandighede.
Hoekom moet jy nie kan uitsaai of buiteuitsendings doen omdat jy in ’n rolstoel is nie? Daar móét maniere wees, en daar ís oplossings vir hierdie uitdagings.
Jou pa was bekend as die “potjiekoskoning”. Hoe het jou pa se passie vir kos jou eie benadering tot kook beïnvloed?
Kos is ’n Brink-obsessie, uit en uit. My pa was die oudste van ses kinders, en al hierdie kinders is lief vir kos.
Ek is die jongste van vyf, en almal is passievol oor kos maak, elk met ’n eie aanslag en spesialiteite.
Wat my altyd van my pa beïndruk het, is sy benadering tot kook oor die vuur. Dit vereis dat jy bereid is om kanse te vat en te aanvaar dat iets nie altyd gaan werk nie. Daar was nie destyds termometers en presisie-instrumente nie – alles was op gevoel.
Hy het voortdurend met nuwe idees geëksperimenteer. In die tagtigs het hy reeds sojarous en ongewone bestanddele gebruik. Hy het selfs lasagne in ’n pot gemaak! Hierdie avontuurlustige gees inspireer my steeds.
In my eie resepte is daar altyd ’n nuwe aanslag of idee wat ek wil toets. Soms werk dit, soms nie – maar dit is deel van die avontuur.
Ek hou daarvan om na sy resepte te kyk en dan my eie draai daaraan te gee. Ons wil immers almal iets ons eie maak. Tog glo ek as jy vir mense idees wil gee, moet jy iets oorspronkliks na die tafel bring.
My pa was definitief oorspronklik in sy manier van kos maak – ’n avontuurlustige kookstyl wat ek ook verkies. Neem die tradisionele en maak dit jou eie – dit was sy filosofie en nou ook myne.
Wat is jou mooiste herinnering saam met jou familie tydens spesiale etes?
As ek aan spesiale etes dink, dink ek nie net aan Kersfees nie, maar aan elke Sondag. Sondae was ’n heerlike tradisie: kerk toe stap, daarna vinnig by ’n 7-Eleven ’n brood koop (en as jy gelukkig was as kind, ook ’n pakkie skyfies).
Dan terug huis toe waar my pa die vuur aansteek. Hy sit met die Rapport wat hy nie die oggend kon klaarmaak nie, terwyl hy vir ons iets lekker voorberei.
Die kos was altyd heerlik. Interessant genoeg het ons minder potjiekos geëet as wat mense dink.
Hierdie Sondag-ritueel was vir my iets besonders. Dikwels het ons daarna brug gespeel. My pa het ons op ’n jong ouderdom leer brug speel.
Natuurlik het hy altyd gewen, maak nie saak hoe goed jou kaarte was nie. Hy was eenvoudig beter – dieselfde met tennis.
Ek het ook baie funksies bygewoon en gehelp. Toe ek nog jonk was, het ek gehelp met die voorbereiding van snoek.
Ek het voor die televisie gesit met bakke snoek op my skoot vir snoekpatee vir die varsgebakte brode by die funksies.
Een besondere herinnering is toe ek saam met my pa na ’n WP-Transvaal-rugbywedstryd by Nuweland gegaan het. Daar het 10 tot 20 massiewe potte in ’n ry gestaan.
Hy het gekook vir die skare, maar toe die kos klaar is, moes hulle van voor af begin kook vir die spanne. Dit was laat in die aand, en ek het op die bakkie gesit en wag terwyl hulle klaargemaak het.
Ek het dit regtig geniet om te help met funksies en om saam te kook.
Wat was vir jou die moeilikste hekkie om te oorbrug in jou lewe tot nou toe en waar het jy hoop en inspirasie gevind in die tyd?
Ek dink die meeste mense het natuurlik hulle eie groot uitdaging iewers in hulle lewe gehad. Vir my het dit gekom toe ek jonk was.
Ek hoop julle gee nie om vir die woord nie – ek gebruik dit gereeld – maar dit is ’n soort interne hardegatheid waarmee ons gebore is.
Wanneer ek ’n probleem het en iemand sê ek kan nie iets doen nie, wil ek maniere vind om dit tog te kan doen. Ek gebruik altyd die hekkiespring-analogie.
Ek was nooit ’n goeie atleet nie – wel goed met netbal en tennis, maar moenie vir my atletiek gee nie! Ek was nie vinnig nie en definitief swak met hekkies spring. My suster was baie goed daarmee.
Die punt is: daar is ’n hekkie voor jou en verskeie maniere om daaroor te kom. Jy kan bo-oor vlieg soos ’n fantastiese atleet, of onderdeur kruip, of rondom loop, of dit eenvoudig uit die pad stamp.
Hoekom kyk ons so vas in daardie hekkie? Hierdie siening het my gehelp om blindelings in uitdagings in te gaan en te sê: Ons sal die probleme uitsorteer soos hulle kom.
Een van ons grootste probleme in die wêreld is dat ons vashaak by hindernisse in plaas van om oplossings te soek.
Ek het maar net aangegaan. Dis die situasie – soms is ’n mens hartseer daaroor – maar wat kan ek nou doen?
Daar is net een pad en dit is vorentoe. Die lewe gaan aan en jy moet saamgaan. Dit is ’n bietjie van daardie Brink-hardegatheid.
Ongeag daarvan dat jy al sedert 13 jaar oud in ’n rolstoel is, staan jy vir niks terug nie. Wat motiveer jou om steeds uitdagende dinge aan te pak en 100% te leef?
Ek moet bieg, ek raak ouer en dan kry ’n mens min lus om uit die huis te gaan. Jy wil net in jou gemaksone bly en niks uitdagend ervaar nie. Dan besef ek skielik: Jy beter nou iets doen.
Onlangs het ek ’n lekker helikopterrit in Mosselbaai geneem. Ons het leeus gesien en toe ons land, het ek gedink: ’n Mens doen te min van hierdie dinge. Wanneer jy dit doen, is dit ongelooflik – jy voel die adrenalien en jy voel lewendig!
Ons is geneig om vas te steek waar ons gemaklik is, waar ons nie noodwendig lewendig voel nie. Jy leef nie regtig nie; jy bestaan maar net.
Ek ervaar redelik baie pyn van sit – dis onvermydelik ná amper 35 jaar in ’n rolstoel. Maar as ek by die huis bly en niks doen omdat ek pyn het nie, sal ek nooit enigiets beleef nie.
Iewers moet jy ’n gedagteverskuiwing maak: Gaan, doen dit! Jy kan later rus en jou liggaam ’n kans gee om asem te skep.
Die lewe motiveer jou om te léwe. As iemand my vir iets avontuurliks nooi en ek verkies die TV, dan het ek die stryd verloor.
Jy baklei baie hard teen gemaksones en noem hulle ’n sagte kis. Wat sal jou motivering wees vir iemand wat bang is om uit hul gemaksone te beweeg?
Dis maklik vir my om te sê: “Doen iets buite jou gemaksone.” Ter vrywaring – wees versigtig en dink eers deeglik na. ’n Gemaksone is ’n heerlike plek, maar hoe groei jy daar?
Ek vind dat hoe langer ’n mens in daardie gemaksone bly, hoe ongelukkiger raak jy. Dit klink teenstrydig, maar dis waar. Jy gaan agteruit in jou gemaksone omdat jy nie groei of vooruitbeweeg nie.
Dink aan suksesvolle besigheidseienaars en entrepreneurs – hulle moes almal uit hulle gemaksones tree om iets te begin, om ’n kans te waag. Sukses gebeur nie in die gemaksone nie.
Vir my was op ’n verhoog staan tydens feeste-uitsendings aanvanklik ver buite my gemaksone. Ek het dit gehaat in die begin – dit was ongelooflik ongemaklik. Nou is dit gemakliker en geniet ek dit om met mense te gesels. Maar ek moes eers groei en myself leer vertrou om op die verhoog te staan en sinvol met mense te kommunikeer.
Jou gemaksone is lekker, maar gee ’n klein treetjie buitentoe. As jy bloedrooi hoëhakskoene wou koop – doen dit! Begin eenvoudig: Stap net om die blok. Maak jou hare die kleur wat jy nog altyd wou hê. Verf pienk naellak aan. Probeer ’n nuwe lipstiffie.
Dit hoef nie massiewe veranderinge te wees nie. Stelselmatig, stadig maar seker, kan jy aanpas en buite jou gemaksone groei.
Het jy ’n lysie van goed wat jy nog wil aanpak, en op watter maniere wil jy jouself nog uitdaag in die toekoms?
Ek het nog nooit ’n sogenaamde bucket list of emmerskoplysie gehad nie – dit klink verskriklik vir my. Ek kyk gewoonlik na geleenthede wat interessant lyk en besluit dan om dit te doen, of iemand vra my en dan stem ek in.
Miskien moet ek ’n perd koop. Ons het grootgeword met perde en ek mis dit verskriklik. Dit sal vir my fisiek moeilik wees om self te ry. As kind het ek bloot op ’n perd geklim en langs die dam gery en gejaag.
In my huidige posisie is dit nie maklik nie – daar is mense wat dit doen, maar my lyf en ouderdom laat dit nie toe nie. Ek wil dalk net aan hulle kan vat.
Miskien moet ek eers weer ’n hond kry. Ons arme kat is al byna 17 jaar oud, so sy moet nou eers haar lewe kalm hou.
Ek het nie regtig iets wat ek spesifiek nastreef nie. Daar is wel ’n paar projekte in terme van inhoudvervaardiging wat ek wil aanpak – onderwerpe wat ek wil aanspreek en potgooie wat ek graag sal wil doen.
Daar is altyd iets wat ’n mens terughou, maar dit is tyd om op te spring.
Ek glo ’n mens moet partykeer die diep kant inspring, want dan móét jy swem.
As jy nie waag nie, gaan jy aanhou dink en dink sonder om ooit iets te doen. Daar is inderdaad ’n inhoudsreeks wat ek graag wil skep wat my ook redelik uit my gemaksone sal neem.