As jong meisie het sangeres en TV–aanbieder ROUCHELLE LIEDEMANN se swak selfbeeld haar lank gekeer om haar drome uit te leef. Vandag leef sy in oorvloed.
God gee jou selfvertroue wanneer dit die nodigste is
Om ’n TV-aanbieder te word, was nie my droom nie.
Die dag toe Die GROOT Ontbyt-span my nader om die Kaapse korrespondent te wees wat insetsels vir die program lewer, het al my pogings om dit te probeer vryspring, misluk.
Die gedagte daaraan het my oorweldig. Dit het gevoel asof ek nie mooi of goed genoeg daarvoor was nie.
Dit is talle jong meisies se droom om op TV te verskyn. Met my swak selfbeeld het ek dit eenmaal vir my ma genoem, maar ook gou daarvan afgesien omdat dit so onbereikbaar gevoel het.
Op ’n dag by die huis waar ek besig was met voorbereiding vir die opnames vir Die GROOT Ontbyt, wou die twyfel in my vermoëns my weer oorweldig. ’n Stem binne my het my stilgemaak: “Rouchelle, hoekom glo jy nie in jouself nie as daar soveel ander mense is wat in jou glo? Wanneer gaan jy ophou om die leuen te glo dat jy nie goed genoeg is nie?”
Op daardie oomblik was dit asof my lewe weer voor my verbyflits. Dit het meteens gevoel of alles in my lewe my voorberei het vir die seisoen waarin ek tans is. Hy maak my meer as ’n oorwinnaar om te kan doen wat gedoen moet word. Hy lei my met wysheid en kreatiwiteit.
Wanneer daar gevra word vir wysheid en guns voor ’n opname, is dit Hy wat dit voorsien en my daarby ook selfvertroue en krag gee wanneer dit die nodigste is.
Om in konflik betrokke te raak, is iets wat ek altyd ten alle koste vermy het. Dit was makliker om eerder stil te bly en ’n moordkuil van my hart te maak as om iemand ongemaklik te laat voel of te konfronteer.
Om eerder nie ’n opinie te hê nie, was veel “veiliger” en geriefliker.
Voel waardevol genoeg om jou opinie te lug
Vir my was dit ’n vorm van “nederigheid” om ander altyd bo jouself te stel. Selfs in my huwelik met Jamie het ek in die beginjare gekies om eerder net stil te bly.
’n Insident met ’n kollega was ’n groot keerpunt vir my. Wat gebeur het, het my intens seergemaak en omdat dit nie dadelik opgelos is nie, het die seer gegroei. Dit het so erg geraak dat ek besef het ek sou dit moes konfronteer indien ek ’n lewe van vryheid wou smaak. Dit was geweldig moeilik vir my.
Een spesifieke dag is alles op die spits gedryf. Hoewel niks in my gevoel het of ek die selfvertroue gehad het om die situasie te hanteer nie, het ek daardie oggend my power suit uit die kas gehaal en aangetrek. Aan die buitekant moes dit ten minste lyk asof ek genoeg selfvertroue het om die situasie te pak – al was ek binne-in so gespanne soos ’n boogsnaar.
Ons het die gesprek gehad. Vir die eerste keer het ek my opinie op só ’n manier gelug dat ek waardevol genoeg gevoel het om dit te doen. In die proses is ’n vriendskap gered en my selfvertroue herstel. As dit van my afhang, sal konflik voortaan vinniger en meer effektief afgehandel word.
’n Loopbaan in die sekulêre musiekbedryf is iets wat ek ’n tyd lank oorweeg het. Ná ’n sekulêre konsert in ’n klein teater in die Kaapse Skiereiland het ek gevoel dat dit die beste vertoning van my lewe was. Die kaartjies was bykans uitverkoop en in my was daar die oortuiging dat dit die rigting was waarin my loopbaan volgende moet beweeg. In die weke daarna het dit egter vir my gevoel asof iets skort. Wat dit was, was egter onduidelik.
Moenie dat groot uitdagings jou oorweldig nie
Een aand by die huis was die kinders in die bed en my man het ’n boek gelê en lees. Voor die TV het ek na ’n DVD van Kari Jobe, aanbiddingsleier van Bethel, gesit en kyk. Met haar lied “Forever” was dit asof die lig meteens vir my opgegaan en dit wat “geskort” het duidelik geword.
Hoewel sekulêre musiek aanloklik lyk, is ek oortuig dat my roeping in kontemporêre geestelike musiek lê waarin gelowiges in die teenwoordigheid van ons Skepper ingelei word.
Daardie aand het ek gevoel dat die opoffering van ’n sekulêre loopbaan nie die einde van die wêreld vir my is nie.
As aanbiddingsleier by die Worthy Women-konferensie met Gretha Wiid het ek met die eerste sessie op die verhoog voor 7 000 vroue gestaan. Met die skare vroue voor my wat God in oorgawe loof en prys, was die besef duidelik. Ek het niks “opgeoffer” nie. My roeping is my geskenk. Aanbidding is waarvoor ek geskape is. Dit is waar ek tuis voel. Dit vul my met vrede.
My gedagtes oor my realiteit, oor wie ek is en selfs my toekoms, het verander. Tog bly dit ’n konstante keuse en iets om aan te werk – veral met tieners in die huis. Hulle hou ’n mens dop en kyk na hoe jy oor jouself praat.
Groot uitdagings en nuwe drome oorweldig my nie meer soos vroeër nie. Inteendeel, dit maak my selfs opgewonde – en dit is iets wat net Hy kon verander.
Die manier hoe ek na myself kyk, het verander … met die besef hoe lief my Skepper my het. Die besef dat ek niks daadwerkliks hoef te doen om meer waarde in Sy oë te kry nie. Die feit dat Hy Sy Seun vir my gestuur het – ongeag al my tekortkominge, insluitende my swak selfbeeld of minderwaardigheidskompleks – laat my baie waardevol voel.
Jou waarde is groot in God se oë
By ’n konferensie oor aanbidding het een van die sprekers die vraag gevra: “Hoekom is ons as mense geskep?” Die antwoord wat ons gewoonlik gee, is: “Ons is geskep om ons Skepper te aanbid.”
Hierdie antwoord het my altyd kriewelrig laat voel. Die spreker se antwoord het my egter ’n heel ander perspektief gegee toe hy sê: “Ons is geskep omdat God ’n intieme verhouding met ons elkeen wil hê.
“Hy wil hê dat ons tyd saam met Hom moet deurbring. Hy wil hê dat ons ’n familie moet wees.”
Hy het ons geskep omdat Hy ons elkeen wil hê – nie vir wat ons vir Hom kan “doen” of “beteken” nie, maar net deurdat ons is wie Hy ons gemaak het. Dit het ’n baie groot verandering in my persepsie van Hom gebring.
Ons hoef nie altyd iets te probeer “doen” nie; ons kan net “wees”. Wanneer ons Sy teenwoordigheid opsoek en Hom toelaat om ’n Pa vir ons te wees, ontdek ons werklik die rede waarom ons hier op aarde geplaas is. Dit het my vrygemaak om my waarde in Hom te vind.
Met meer waarde, blink oë en hernude entoesiasme stap ek die toekoms tegemoet. Elke optrede en die besef dat die musiek die skare voor my raak, vul my met geluk.
Waar ek op die stoel by Die GROOT Ontbyt sit tydens opnames van onderhoude met van die land se mees inspirerende mense, is ek vol dankbaarheid met die besef oor die groot geskenk wat dit is – en dat ek dit nooit as vanselfsprekend kan aanvaar nie.
As ek by ons huis instap en die oop arms van my man en kinders wag op my, weet ek my waarde is groot in hulle oë en ook in Sy oë.
So, is ek tevrede met waar ek tans is? Meer as tevrede. Ek is dankbaar.
“Groot uitdagings en nuwe drome oorweldig my nie meer soos vroeër nie. Inteendeel, dit maak my selfs opgewonde – en dit is iets wat net hy kon verander.”