’n Besluit wat my dogter se lewe gered het

’n Besluit wat my dogter se lewe gered het 

LAURIKA BEKKER deel die hartroerende verhaal van haar dogter se ongeluksreis, van verwoestende beserings tot ’n pragtige herstel, en ’n besluit tussen lewe en dood. 

Om te wag vir hulp of om self aksie te neem  

Dis vreemd! ’n Oproep dié tyd van die aand. Dis ons buurman. “Ek’s jammer, Laurika, daar was ’n ongeluk! Dis Berdine … Daar was beeste op die pad …”

Ek en my man maak reg om te ry. Ek gryp ’n kombers en ’n houer, net vir ingeval Berdine dalk langs ...

LAURIKA BEKKER deel die hartroerende verhaal van haar dogter se ongeluksreis, van verwoestende beserings tot ’n pragtige herstel, en ’n besluit tussen lewe en dood. 

Om te wag vir hulp of om self aksie te neem  

Dis vreemd! ’n Oproep dié tyd van die aand. Dis ons buurman. “Ek’s jammer, Laurika, daar was ’n ongeluk! Dis Berdine … Daar was beeste op die pad …”

Ek en my man maak reg om te ry. Ek gryp ’n kombers en ’n houer, net vir ingeval Berdine dalk langs die pad naar word. Sy’t mos net teen ’n bees vasgery, probeer ek myself troos. Dis nie so erg nie.

Toe ons by die ongelukstoneel stilhou, kan ek nie gou genoeg uit die motor kom nie. Ek sien hoe ingeduik Berdine se motor se bakwerk is. Sy moes ónder die beeste ingery het. En wanneer ’n bees so voor jou motor beland, tref hy jou gewoonlik vol in die gesig.

Vrees verlam my. Dan sien ek haar. Sy sit op die voorste sitplek, haar bene na buite. Sy staan op en stap na my. “Ek is oukei, Ma,” sê sy. “Moenie worry nie.”

Ek is wonderlik verlig om haar stem te hoor. Sy praat! Sy leef én sy lyk oukei. Net op haar bors is daar ’n paar druppeltjies bloed.

Maar ek wil doodseker maak daar is nie interne beserings nie. “Ek wil hê ons moet X-strale gaan neem,” fluister die verpleegster in my oor.

Vir ’n oomblik twyfel ek oor wat om te doen. Moet ons vir ’n ambulans wag? Die naaste ambulans is meer as 30 kilometer ver.

“Kom ons neem haar sommer self hospitaal toe,” besluit ek.

By die hospitaal aangekom, sê Berdine skielik benoud: “Ma, ek kan nie meer sien nie.”

“Toemaar,” troos ek, “dis omdat jou oë toegeswel is. Dit sal regkom. Hou maar net my hand vas.”

Die Here stuur die regte persoon, op die regte oomblik 

Ek hou haar hand stewig in myne. Later praat sy nie meer nie. Sy druk net my hand. Toe begin haar greep op my hand ook verslap …

En ek weet! My kind het in ’n koma verval! Die dokter voel aan haar gesig. “Haar gesig is vergruis, dis ’n pappery,” sê hy. Ek is dadelik woedend. Dit wil ek nie hoor nie. Daar moet hoop wees.

“Ons moet ’n scan laat neem,” sê die dokter.

Ons staan by toe sy by die scan-tonnel ingaan. Ons hoor die piep-piep van die monitors. En toe … skielik … is daar ’n stilte. Die stilte van die dood. My kind het ophou asemhaal!

Net daar, buite die deur, sak ek op my knieë neer. “Here, spaar asseblief my kind,” smeek ek. Die radiografis kniel langs my en saam bid ons. So stuur die Here vir my die regte persoon, op die regte oomblik, om my te ondersteun.

’n Vrede wat alle verstand te bowe gaan, vou oor my. Ek weet my kind gaan leef. Sy sal hier uitstap en huis toe gaan.

Nog wonderwerke volg. Berdine het ’n neuroloog nodig. Tot etlike maande gelede was daar nie een in Klerksdorp nie. Pasiënte moes Bloemfontein toe vir behandeling. Gelukkig het dokter Sarel, ’n neuroloog, onlangs ’n praktyk hier in Klerksdorp begin. Net betyds om my kind by te staan.

Sy moet geopereer word. Die operasie duur 11 nimmereindigende ure waar ons buite die teaterdeure wag. Berdine se gesig word van binne af opgebou. Die drukking op haar brein word verlig.

Die regte besluit is nie altyd duidelik in die oomblik nie 

Dis ure met my gedagtes in ’n warboel: Sal sy letsels oorhou? Gaan daar breinbeserings wees? Wat lê daar vir my kind voor? En toe … uiteindelik word Berdine uitgestoot.

Sy is steeds in ’n koma, maar hierdie keer is dit ’n beheerde koma. “Haar beserings is van so ’n aard dat haar oë nie vanself kan toemaak nie,” verduidelik die dokter, “daarom moet ons haar oë toehou sodat dit nie uitdroog nie.”

Baie later ontvou die hele verhaal. Ek hoor dat my pragtige dogter se gesig aanvanklik heeltemal ingeduik was. Teen die tyd dat ek by die ongelukstoneel opgedaag het, het haar gesig begin opswel. Die Here het my oë toegemaak sodat ek nie die volle omvang van haar beserings kon besef het nie. As ek dit enigsins die aand van die ongeluk vermoed het, sou ek haar nie wou vervoer nie. Ek sou op die ambulans gewag het.

En dan, dit weet ek nou, sou dit te laat gewees het …

My kind het nie ongeskonde daarvan afgekom nie. Sy het die sig in haar regteroog verloor en sy kan nie meer ruik nie. Daar is ook ’n letsel van die operasie, maar haar blonde hare bedek dit. En op haar voorkop, wanneer sy haar kop op ’n sekere manier draai, sien jy ’n skroefie onder die vel.

Maar vandag is dit alles net blote herinneringe aan wat was, en hoe erg dit kon gewees het. En dit alles laat ons diep dankbaar: My kind leef en sy is pragtig.

Deel die artikel

Méér artikels

“Ons is hier op aarde om God te dien”, het my ma my van kleins af geleer. “Jy moet goed wees vir ander, maar jy ...

Die soektog na betekenis is ’n reis. JO VAN DER MERWE deel hoe haar soeke na haarself haar gelei het na ’n doel, aanvaarding en ...

Scroll to Top