’n Ongelooflike getuienis van hoop

’n Ongelooflike getuienis van hoop

SORINA ERASMUS is goed vertroud met hoogtepunte én teleurstellings. Maar dit is juis ’n kombinasie van die twee wat die mooiste storie van hoop skryf.

Bly hoopvol – al voel dit of jy misluk het

Dit was die vernederendste oomblik van my lewe – daardie dag in die bloedige son by die besige Fonteine-sirkel in Pretoria. Skaam-skaam aan’t pamflette uitdeel. ’n Paar uur se ondankbare werk vir R100. Geld wat ek broodnodig gehad het.

Ek wou eers nie … was te trots, maar my ewe-platsak vriendin se ...

SORINA ERASMUS is goed vertroud met hoogtepunte én teleurstellings. Maar dit is juis ’n kombinasie van die twee wat die mooiste storie van hoop skryf.

Bly hoopvol – al voel dit of jy misluk het

Dit was die vernederendste oomblik van my lewe – daardie dag in die bloedige son by die besige Fonteine-sirkel in Pretoria. Skaam-skaam aan’t pamflette uitdeel. ’n Paar uur se ondankbare werk vir R100. Geld wat ek broodnodig gehad het.

Ek wou eers nie … was te trots, maar my ewe-platsak vriendin se woorde het die deurslag gegee.

“Jy kan sink of swem, Sonna. Kies wat jy wil doen.” Toe kies ek om te swem dat dit bars.

Snaaks wat ’n mens opval wanneer jy van motor tot motor deur die verkeer vleg. Elke frons. Elke vensterruit wat suinig toedraai.

Ek het met verlange gekyk na al hierdie mense, elkeen met ’n kar … en ineengekrimp omdat ek nie eens petrol kon bekostig nie.

En toe gebeur dit. Dit waarvoor ek die bangste was … Een van die motoriste herken my. Nee!

Dit was ’n voormalige huiskomiteelid by die studentekoshuis waar ek primaria was.

En nou staan ek hiér en pamflette uitdeel wat niemand wil hê nie.

Nes niemand mý wil hê nie. Só het dit gevoel, want in daardie stadium was elke oudisie onsuksesvol.

In die oomblik van oogkontak het die vrou se gesigsuitdrukking my vernedering woordeloos uitbasuin.

“Ag siestog, kan dit waar wees?” het haar oë gesê. “Sorina, is dit wragtag jy? Ons almal gaan op in die lewe. En jy? Af?”

Sy was seker reg, want hier staan ek dan … meestersgraad in regte agter my naam.

Dramagraad uitstekend geslaag. Maar dit was die graad in werkloosheid waarin ek die beste uitgeblink het.

Glo dat daar ‘n beter toekoms vir jou wag

Toe reeds jare sonder werk, terwyl my regsvriendinne begin article het; die drama-maats rolle begin losslaan het.

Elke sukses is saamgevier. Die vriendinne, met designercocktails in die hand, en ek wat teug aan ’n glas gratis kraanwater.

Darem vol suurlemoenskywe vir ’n bietjie smaak.

Terug by die huis ná die pamflet-flater, is daar vir die soveelste keer kliphard gebid. Vir ’n geleentheid gesmeek. ’n Kans, al is dit net ’n kleintjie.

En toe gebeur die hoendervleis-oomblik. Dit het gevoel asof engelvlerke rakelings by my verbyskuur. Asof die Here wou sê: “Sorina, hoe gaan jy ooit weet hoe dit voel om ’n ‘niks’ te wees, as jy nog altyd ’n ‘iets’ was?”

Eers later is die waarde van hierdie woorde besef.

My man, Braam, herinner my gereeld daaraan: “Dis eers wanneer ’n mens in die modder gestaan het dat jy skoene kan waardeer.”

Omdat ek al self werkloos, platsak, moedeloos en sonder hoop was, weet ek presies hoe ander mense in sulke situasies voel. Dis seker hoekom ek die rol van Die Flooze in 7de Laan so oortuigend kon vertolk.

Dis ’n feit: deur saam te lag, so tussendeur die trane, word die pyn en hartseer ook ’n bietjie ligter.

“Daar is nie iets soos ’n klein geleentheid nie. Net ’n klein geloof.” My ma se wysheid.

Maak nie saak wat die lewe my kant toe gooi nie, ek weet dat die hoogtepunte en teleurstellings, sáám, ’n ongelooflike getuienis van hoop vorm.

Deel die artikel

Méér artikels

Sy skitter in die kollig, maar SASHA–LEE DAVIDS is in haar wese eintlik skaam en teruggetrokke. Sy moes leer om vrede te maak met wie ...

Klein, slim en bekkig. Dís hoe mense vir ELOISE CUPIDO leer ken het. Sy is ’n voorbeeld van hoe om met selfvertroue vol en uitbundig ...

Scroll to Top