Die TV-aanbieder en komediant ALVIN BRUINDERS word veral onthou vir die komedie-reeks Vetkoekpaleis. Hy gesels oor terugslae en ook sy positiewe uitkyk op die lewe.
Deesdae is jy eerstens ’n sakeman en dan akteur. Wat is die moeilikste les wat jy moes leer in die sake-wêreld?
My besigheid is Sound HQ Solutions. Ons doen klank, beligting en verhoë vir groot produksies, buitelug of binne. ’n Duur les wat ek geleer het, is dat jy nie elke kontrak gaan kry wat jy najaag nie. Aan die begin was dit vir my moeilik om te aanvaar.
Vanweë Vetkoekpaleis se sukses, is ons gereeld vir optredes genooi. Ek moes vier uit die ses dae optredes doen. Só het dit begin dat ek klank- en beligtingstoerusting aangekoop het.
Voordat ek my oë kon uitvee, het ek ’n ingenieur gehad wat saam met my toer, en toe twee. Ek het besef hier is vir my ’n besigheidsgeleentheid.
Ek het die feeste genader en gesê in plaas van dat hulle my vir my optrede betaal, kan hulle my betaal om die klank en beligting te voorsien. Só het ek meer in my besigheid begin belê. Jy moet dit doen om voor te bly.
Nog ’n duur les wat ek geleer het, is dat banke jou nooi om ’n lening te kry en sê hulle wil in jou visie en besigheid belê, maar dit werk nie só nie. Jy moet geld hê om geld te leen.
Die eerste en belangrikste ding wat ek vir jongmense kan sê, is maak seker dat jy so gou as moontlik eiendom koop of vaste beleggings het.
Jy moet geld in jou belegging indruk sodat dit meer werd word as dit wat jy die bank skuld. Dit kan jy dan gebruik as kollateraal om in jou besigheid te belê.
Jy het ook al terugslae gehad ná ’n ernstige motorongeluk, asook ’n diefstal van duisende rande se toerusting.
Ja, ná die motorongeluk het ek drie operasies in my linkerarm gehad. Ek het amper totale gebruik van die arm verloor. Gelukkig kon ons die senuwee red.
Wat ek geleer het, is soms moet ’n mens vinniger grootword as wat jy jouself toelaat. Ek haat dit om tyd te mors, en ek dink dit kom ook van daar af.
Nog ’n hartseer gebeurtenis het plaasgevind net toe ek aan die besigheid begin bou het. Ek was oorhaastig. Ek het by ’n nuwe huis ingetrek. Om tyd te bespaar, het ek die aand voor die tyd al my klanktoerusting na die nuwe huis geskuif, hoewel daar nog nie ’n alarm geïnstalleer was nie.
Daardie selfde aand is daar ingebreek en ek het alles verloor. My oupa het altyd gesê haastig is nie vinnig nie, en dit is ’n siekte waaraan ek ly. Ek wil te vinnig, te veel doen.
ʼn Ander geval was toe ’n drywer een van my vragmotors vol klanktoerusting afgeskryf het. Ek het daarop aangedring dat hy daai aand ry.
Ek laat nooit my vragmotors in die aand ry nie, maar ek het daarop aangedring, want hy was van Swaziland op pad Kaap toe, en ek wou seker maak hy is betyds.
As ek net gewag het tot die volgende oggend, dan het die ongeluk nie gebeur nie. Só word ons beter, ouer en wyser.
Dit lyk of jy altyd die blink kant van die lewe raaksien. Wat sal jy vir iemand sê wat ’n bietjie hoop nodig het?
Hoe bly ’n mens positief in ’n wêreld wat so baie uitdagings het? Jy is nie altyd positief nie, maar jy moet ’n plek vind in jouself, om te weet waar jy die knoppie kan druk om jouself op te lig.
Die werkers in my pakhuis kon presies agterkom in watter bui ek is deur hoe ek met my voertuig ingery het.
Ek het in ’n stadium besef ek kan nie daar instap met ’n lang gesig nie. Wat ook al uitdaging ek op die oomblik het, moet ek nie vir hulle wys nie. Hulle soek van my af energie.
Ek het besluit daar sal nie ’n dag wees wat ek daar instap sonder dat ek glimlag en sprankel en vir hulle hoop gee nie. Dit is belangrik, want dan is jou werkers op dieselfde golflengte.
Jy moet ’n plek kry binne jouself, waar daar ’n skakelaar is, waar jy vir jouself sê, maak nie saak waardeur ek nou gaan nie, môre gaan beter wees. Dan skakel jy daai skakelaar aan.