IVOR SWARTZ is ’n motiveringspreker en jeugpredikant by NG kerk Oosterlig, Pretoria. Hy kyk ondanks moeilike omstandighede, groot foute en swak keuses wéér die lewe vierkantig in die oë.

Vir die mense wat jou nie eintlik ken nie, waar het jy grootgeword? 

Ek kom van Grabouw af, ’n baie klein dorpie in die Wes-Kaap. Die area waarin ek grootgeword het, is Gaatjie. Dit was ’n baie arm area.

Ek sê altyd daar is vier goed waarvoor Gaatjie baie bekend was: hopeloosheid, armoede, rondloperhonde en afwesige pa’s.

Ek het in ’n huis grootgeword waar daar nie ’n pa was nie. My pa is dood toe ek drie jaar oud was en my ma moes ons grootmaak.

My ma was ’n gelowige persoon. Sy’t kerk geloop en sy moes die rol van moeder, vader en disciplinarian speel.

Ek het ook ’n ouer broer gehad. Hy was ’n monster wat ons om elke hoek en draai aangerand het.

Hy was deel van die bendes en as gevolg van sy betrokkenheid, het ek my ook later by bendes aangesluit – eers die straatbendes en toe die tronkbendes.

Ek is gevonnis tot tronkstraf van ses jaar en ses maande vir ’n misdaad wat my lewe onherroeplik verander het … vir goed, maar ook vir die sleg.

Hoe het jy by bendes betrokke geraak en uiteindelik ook in die tronk beland? 

Daar is ’n ou gesegde wat sê “a child gets rejected by the village and will eventually burn the village down just to feel it is human”.

’n Kind wat aanhoudend deur die gemeenskap verwerp word, sal later die hele gemeenskap afbrand om die warmte van die gemeenskap te voel.

Almal sê “it takes a village to raise a child”. Die teenoorgestelde is ook waar, en dit is waar bendes inkom.

Bendes gee vir jou ’n plek van behoort, ’n gevoel van identiteit. Dit laat jou voel ek kan iets beteken.

In die bendes het ons gaan roof en plunder, by karre ingebreek en mense op straat beroof, maar jy het gevoel jy doen dit saam met jou “team”. Jy het dit gedoen, want jy het geweet die mense staan agter jou.

’n Gevoel wat dikwels ontbreek by drie belangrike plekke in ’n kind se lewe – by die huis, by die skool, en ek noem dit sommer by die wyer gemeenskap (dit kan bv. die kerk en ’n sportgroep insluit).

Die kans is goed dat so ’n kind in bendes gaan opeindig. Dit wat ek beleef het en dikwels gesien het, veral die gewelddadigheid van my broer, het gemaak dat, soos vader Richard Rohr sê, “pain that is not transformed gets transferred”.

Ek het daardie woede van my broer geërf. Ek het dit myne gemaak. Daardie bitterheid het ek myne gemaak.

Ek het met dieselfde kokende woede rondgeloop waarmee hy rondgeloop het. Ek het nooit ’n plek gehad om dit uit te stort nie. Tot een aand …

Ek en ’n vriend het hom koelbloedig doodgeskiet en in die gevangenis opgeëindig.

Ek is toe gevonnis en selfs in die gevangenis het ek deel van die 26-bendegroep geword. Weer die gevoel van ek wil behoort. Ek het ’n plek gesoek waar ek veilig voel, waar ek ’n storie het wat ek my eie kan noem.

Gee vir ons ’n kykie in die wêreld van ’n 16-jarige se lewe in die gevangenis. 

Ek sê altyd dit is die naaste aan die hel wat ek nog gekom het.

Ek onthou een spesifieke moment waar ek een van die outjies wat nuut ingekom het, se geld by hom gevat het.

Een van die ander bendes het daarvan gehoor en hulle het kom vra waar is die geld.

Die outjie sê toe ek het sy geld by hom gevat. Ek het volgehou ek het dit nie gevat nie. Ek was salig onbewus daarvan dat hulle daardie aand planne gehad het om my baie, baie seer te maak.

Hulle het my later die aand na die badkamer geroep en my weer gevra waar is die geld. Ek het volgehou ek het dit nie, en hulle begin om my met ’n harde houtbesem te slaan.

Hulle het my geskop en getrap en ek het gevoel hoe die bloed uit my kop loop. Ek het besef ek gaan of bewusteloos geskop en getrap word of ek gaan doodgaan.

Ek kan nie eens onthou of ek gebid het nie. Ek het net my kop vasgehou en gehoop ek gaan nie dood nie, want die houe het net aanhoudend gekom.

Dit was my eie toedoen. Ek wou deel van ’n bende wees en dis waarvoor jy opgesign het.

Maar ek het ook in die gevangenis besef (al het ek nog nie tot bekering gekom nie) ek wil nie die lewe leef wat ek tans mee besig is nie.

My ma het my elke maand kom besoek. Sy het vanaf Grabouw vir twee uur met ’n taxi gery om vir 45 minute vir my deur ’n glasvenster te sien en dan weer huis toe gegaan.

Daai moederlikheid en liefde het my nooit gelos nie.

Dat een persoon vir my so lief is dat hulle met die bietjie geld wat hulle het vir my kom kuier het. My ma was ’n huishoudster. Sy het ander mense se huise skoongemaak en vir my ondersteun terwyl ek in die gevangenis was.

Sy het diep in haar hart geglo dat God gaan my lewe verander. Dat Hy gaan ingryp.

Op 26 Julie 2005 het my jonger broer wat saam met my in dieselfde gevangenis was, die nuus gekry dat ons ma aan ’n hartaanval dood is.

Dis die dag wat ek besluit het die tronk gaan my nooit weer sien nie.

Wat is die anker waaraan jy vashou en wat jou vastigheid en sekerheid gee? 

Toe ek uit die gevangenis kom, was die eerste plek waarnatoe ek gegaan het die einste kerk waarby my ma betrokke was.

Gerrit en Amie Coetzee, ’n wit Afrikaanse paartjie, het ’n kerk in Grabouw geplant. Hulle het die armes bedien.

My ma het tot by hulle kerk tot bekering gekom. Sy het hulle laat belowe totdat sy doodgaan dat hulle elke dag vir my sal bid.

Dit was ’n arm kerk, nie ’n makro-kerk nie. Dit was ’n arm gemeente wat arm mense bedien het, maar by daai kerk het ek een Sondag net gesê ek is moeg daarvoor om die lewe op my manier te doen.

Ek het die Here in Januarie 2006 aangeneem. Ek het die Here ’n kans gegee in my lewe. As ek moes sê my lewe het on-her-roep-lik verander, is dit ’n understatement.

Ek is daar gedoop en gedissipel. Ek het later op die kerk se perseel gebly, want ek het nie ’n woonplek gehad nie, want ek en my broer het baklei oor Ma se huis.

Ek het daar gebly tot die dag wat ek gaan studeer het. Die kerk het help betaal vir ’n diensjaar. Die kerk is nou nog deel van my lewe.

As dit darem nie vir die klein gemeenskappie was nie … Partykeer dink ons omdat ons kerkies klein is, dit kan nie veel beteken nie. You must never underestimate the power of small.

In die wêreld van groot en die wêreld van spectacular, massief en klomp ligte, you must never underestimate the power of small.

Hoekom is dit so belangrik dat mense oor depressie praat en dit normaliseer? 

Die gesprek oor depressie bly maar ’n moeilike gesprek in ons samelewing, veral in ons Afrikaanse Christelik gesentreerde samelewing. Mense dink dikwels jy kan nie ’n Christen wees en met depressie worstel nie.

Ons weet daai stigma kleef en dit maak dat mense nie dikwels oor hulle depressie praat nie. In Kies die Lewe sê ek, ek is ’n Christen, ek is ’n predikant, ek hou van sokker, ek hou van bier, ek is ’n ekstrovert, maar ek leef ook met depressie. Ek ly nie daaronder nie, ek leef met dit.

Dieselfde Johannes 10:10 wat sê Jesus het gekom sodat daar lewe en lewe in oorvloed is, ek beleef dit. Maar ek leef ook met hierdie wanbalans in my gemoed.

Mense suffer dikwels in stilte omdat hulle voel hulle kom swak oor. Hulle voel hulle is nie genoeg van ’n man of ’n vrou vir hulle partners nie. Hulle voel nie sterk genoeg as ’n leier nie en dit maak dat mense in stilte worstel.

Dis hoekom die gesprek oor depressie genormaliseer moet word. Ons moet dit nie verheerlik nie. Ons moenie ’n afgod daarvan maak nie.

Ek dink as jy nie self al daar was nie, sal jy dit nooit verstaan nie. Ek dink ander mense moet besef dit is iets wat mense deurgaan.

Ek weet my depressie is trauma infused … Die verlede waardeur ek gegaan het, daai goed gaan sit in ’n mens en dit maak dat jy in diepe depressie kan verval. Dit word ook geneties oorgedra. Dit is nie my skuld nie, ek het nie daarvoor gevra nie.

My ma het daarmee geworstel en albei my susters het ook daarmee geworstel. In sielkundige sessies het ons nou ontdek dat my broer heelwaarskynlik ook daarmee geworstel het.