Van ’n nederige begin op ’n plaas in Walkerville tot ’n pa van drie is Joshua na die Reën, of liewer Jacques de Villiers, een van Suid-Afrika se mees geliefde musikante.
Jy het onlangs die groep Seuns van Vlug gestig wat meer alternatiewe rock musiek maak … Hoekom?
Musiek is iets waaroor ek baie passievol is. Vir diegene wat my loopbaan die afgelope 11 jaar volg – dit is nou my 12de jaar – ek kan dit omtrent nie glo nie.
As jy ’n mens is met hierdie innerlike soeke om die lewe op ’n voller manier te beleef, het jy ook die behoefte om jouself anders uit te druk. Seuns van Vlug, wat die alternatiewe kant van Joshua na die Reën raak, is ’n uitdrukking van daardie behoefte.
Teater shows was vir my die afgelope 10 jaar ongelooflik. Mense sit en luister, en die oomblik raak amper heilig waar ek lirieke en musiek deel – dit val net op hierdie stuk grond tussen ons.
Maar ek het ook die behoefte om voor ’n gehoor te staan waar mense regop staan, almal saamsing, en dit word ’n gedeelde belewenis. Dit is ’n ander liefde vir enige musikant.
Ek het jare terug die gedagte van Seuns van Vlug gehad. Die naam kom van my kinderdae – ek onthou hoe ek as klein seuntjie nagte lank van Peter Pan gedroom het en daardie gevoel wat jy sou hê as jy vlieg.
Ek dink dit is ’n konneksie wat alle mense besit: Die behoefte om te vlieg, of die droom daarvan.
Vlieg is nie net wanneer jou voete die grond verlaat nie. Dit is wanneer jy leer om met alles wat in jou is lief te hê en te gee vir die mense om jou.
Wanneer ons op verhoog staan en letterlik ons beste gee, sodat dit voel asof die hele gebou opstyg saam met ons – almal in die gehoor funksioneer vir daardie oomblik in ’n ander dimensie.
Was daar ooit ’n spesifieke oomblik in jou lewe waar jy totaal verlore gevoel het?
Die tyd wat ek in my lewe die meeste verlore gevoel het, was seker toe ons ’n miskraam gehad het in 2017.
Voor dit was ek nooit ’n depressiewe mens nie – almal wat my ken sal weet ek is nogal ’n vrolike mens. Maar om die een of ander rede kon ek myself nie uit daardie gat kry nie, en dit het lank aangehou – omtrent drie jaar.
Ek onthou my vrou het eendag, toe ek regtig teen die grond was, gesê: “Kom ons ry Golden Gate toe, ons gaan bietjie kamp by die Drakensberg.” Ons het net een aand gehad. So ons het gery, ons tent opgeslaan.
Dit was vir my moeilik. Ons het in die berg gaan stap, maar ek kon nie my gedagtes wegkry van hoe ek voel nie.
Die volgende oggend toe ons oppak en terugry, het dit gevoel of God vir my sê dat om broosheid te wys amper soos is om jouself toeganklik te maak vir iets om jou te help.
Ons het by die huis gekom. Die volgende oggend het ek die gordyne van ons kamervenster oopgetrek, die blou lug gesien, en besef – dit was asof God regtig hard met my praat en sê: “As jy die vermoë het om enigiets mooi in hierdie lewe te beleef, dan het jy die moed om hierdie lewe te kan leef.”
Dit was nie dadelik weg nie, maar dit was daardie proses om anders te dink. My vrou trek my nog altyd terug.
Ek het gaan stap liedjie daaroor geskryf op my tweede album: “Weef in die Maanlig”. Waar ek sê: trek my terug na nou, na hier waar ek nou is, help my uit die plekke waar ek vashaak in my kop.
Hoe het jou geloof die manier beïnvloed waarop jy ‘n beroep navigeer wat dikwels onvoorspelbaar is?
Ek dink ons word definitief as mens gebore met die liefde vir iets. My liefde is baie groot vir die natuur, musiek en mense, en dit maak die kombinasie van wat ek as kunstenaar doen – ek probeer altyd eg bly.
Ek het jazz gaan swot vir vier jaar. Toe “Lig op die Horison” bekend gestel is, het baie mense gedink dit was ’n oornag-sukses en gevra hoe dit voel om so vinnig naam te maak.
Maar wat mense nie gesien het nie, was dat ek vier jaar lank jazz gestudeer het en dat ons op skool in ’n band was vandat ek standerd ses was.
Ons was baie swak, maar ten minste het ons goeie tye gehad.
Voordat ek musiek gaan swot het, het ek ’n vriend van my gebel wat soos ’n mentor is – Timothy Kieswetter. Ek het gesê ek wil so graag die regte ding doen, wat God wil hê ek moet doen.
Hy het vir my gesê Dawid skryf in die Psalms dat God orals saam met hom gaan. My loopbaan en lewe probeer ek altyd só lewe – ek soek nie noodwendig waar God my wil hê nie, maar volg die passie wat Hy in my hart gesit het.
Ek voel as jy daardie passie volg, gaan jy uiteindelik doen wat in Sy wil is.
Dit verg ook regte geloof dat alles in Sy hande is.
Dit is maklik om in hierdie bedryf angstig te raak: “Ek het nie optredes vir Januarie nie” of “wat gaan ek doen?” Soveel keer het ek in my kantoor gesit en angstig geraak, maar dan bring God se stem vrede wat net sê: “Vertrou My dat Ek uitkyk vir jou.”
Het pa-wees jou definisie van sukses enigsins verander, en as dit het op watter manier?
Om ’n vrou en kinders te hê verander baie dinge in ’n mens se lewe. As ek kyk hoe dit in die samelewing gaan, veral hier in Gauteng, dink ek dikwels dat iets in my teen die feit is dat alles ’n gejaag is en so besig dat mense amper nie meer tyd vir mekaar het nie.
Ek is ook skuldig daaraan – ek is ook besig.
Maar my vrou en ek sal twee of drie keer ’n jaar ’n gesprek hê en sê: “Kom ons trek Transkei toe.” Ons bly daar in ’n klein rondawel, het ons eie groentetuin en ’n bees of twee.
As ek aan my kinders dink – en ek het hierdie jaar baie daaraan gedink, want ek is taamlik baie van die huis af weg – dink ek dat enigiemand in die musiekbedryf baie weg is. Maar die oomblik wat ek by die huis is, probeer ek regtig daar wees.
Ek raak amper angstig as ek dink aan die feit dat ons soveel tyd saam met ons gesinne mis. Sukses is nie wanneer jou kind eendag sê “my pa is die musikant nie” of “my pa het vir ons genoeg geld gemaak nie”.
Ware sukses sal wees as jou kind kan sê: “My pa was regtig daar”, en die klein nuanses in die lewe en verhouding wat jy met jou kinders het, kan deel.
Partykeer by begrafnisse is dit hartseer as iemand hul ouers net beskryf as iemand wat “hard gewerk het”.
Lojaliteit is mooi, maar om regtig liefde en gemaklikheid by iemand te ervaar – dit is sukses.
Ná die geboorte van jul eersteling moes julle hoor dat ’n volgende swangerskap onwaarskynlik was. Watter emosies het jy gedurende daardie tyd ervaar?
Ek het so ’n bietjie geraak aan ons ervaring met die miskraam. Die liedjie “Chamonix” op my derde album het ek geskryf vir daardie kind. Chamonix beteken fortified field.
Nadat ons my oudste gehad het, het die dokters gesê ons gaan nie sonder medikasie weer swanger word nie. My vrou en ek het besluit dit is nie ons pad om die medikasie-roete te volg nie.
Eendag het ons gaan draf op die plaas. Net voordat ons by die huis se hek ingaan, het Danel gesê ons moet oploop na die koppie toe en vir God dankie sê vir ’n kind.
Ons het gegaan en vir God gedank. Dit is interessant, want sy moes toe al swanger gewees het – die week daarna was die swangerskaptoets positief, en ons het dadelik geweet wat ons hom of haar sou wou noem.
Toe het ons die miskraam gehad. Dit was ’n baie onsekere gevoel: hoekom al hierdie tekens net om ’n miskraam te hê?
Die oggend wat ons die hartkloppie die eerste keer gehoor is, was ook die dag van die miskraam. Danel was by haar ouers in Nelspruit, ek by die huis. Ek het op my klavier gaan sit en dadelik “Chamonix” geskryf.
Ek sal nooit daardie oggend vergeet nie – die atmosfeer klou aan my soos klitsgras.
Wat ek geleer het: aons kyk baie keer met aardse oë na hoe hierdie goed werk, maar “Chamonix” se getuienis bestaan in die geestelike sfeer. Die atmosfeer van wie daardie kind sou wees, is baie naby aan ons as gesin.
Ek dink ons beperk God in wat vir Hom moontlik is, en dan klink goed vir ons vreemd. Ons moet die geskenk aanvaar wat Hy gee.
Is of was daar mure in jou eie lewe — of dit nou emosioneel, geestelik of persoonlik is — wat jy gesukkel het om af te breek?
Ek moes twee jaar terug ’n neuroafrigter gaan sien – ’n baie goeie vriend van my, Jaco Fourie. Die oggend toe ek daar by hom sit, sê ek: “Jis, Jaco, ek weet nie wat aangaan nie, maar ek stap van ’n verhoog af en voel die afgelope twee jaar leeg.”
Musiek het my altyd gehelp om vol te voel en te verbind, maar nou loop ek af en weet nie wat aangaan nie.
Op die verhoog voor mense sal ek die hele show lank in my kop wees: Is ek goed genoeg, sing ek goed genoeg, skryf ek goed genoeg, voel die mense dit?
Hy vra toe: “Wanneer laas het jy die wonder in jouself gesien en in dit wat jy doen?”
Ek besef toe dat selfs by die huis waar ek geskryf het in daardie tydperk, was die een vraag in my kop: Is ek goed genoeg, is hierdie goed genoeg?
Dit is wat ons in onsself as mens moet raaksien – die wonder van dit wat ons kan doen. Jy het hard gewerk om ’n wiskundige te wees, of ’n musikant, of wat ook al jy doen. En jy kan nou terugstaan en dit geniet.
Die oomblik as jy daardie wonder in jouself begin sien, bring dit mense nader aan jou. Dit bring nie ’n skeiding nie, want jy het niks om te verdedig nie.
Omdat jy dit nie hoef te verdedig nie, is daar nie ’n muur nie – daarom kan jy iemand nader bring.
Die dag toe ek dit weer besef, raak shows weer vir my ongelooflik.
Mense wil graag daar wees, hulle wil kom luister. Maar ek kan net iets gee as ek regtig kan raak in daardie oomblik waar iets vir my regtig wonderlik is.
Hoe wil jy hê mense moet Jacques de Villiers onthou?
Ek dink al hoe meer dat die enigste ding wat ek hoop mense by my kan ervaar, is vryheid. Omdat daar geen oordeel in my hart teenoor enigiemand is nie.
Ek hoop dit kan dít wees. Ek hoop dat wanneer ek by mense is, dit ’n plek is waar hulle regtig voel hulle kan enigiets vir my vertel, of net stil wees.
Die vrede – dit wat ek glo mense ervaar het as hulle ’n dag saam met Jesus kon deurbring. Ek weet ek is so ver van dit af, maar dit bly my hoop.